Thursday, 24 October 2013

'n NG Kerk toekoms? Já vir tyd, oor kronos en kairos.

Dit is vandag presies 2 weke na die Algemene Sinodesitting in Port Elizabeth. 'n Goeie tyd om terugskouend te skryf oor wat by die sinodesitting gebeur het.

Dit mag obvious klink, maar sedert die sinodesitting dink ek baie aan tyd. En oor die toekoms. Aan 'n NG Kerk toekoms, en hoe so iets sou lyk. 


Prof Russel Botman, Rektor en Vise-Kanselier van die Universiteit Stellenbosch, se 60e verjaarsdag is afgelope Vrydag met 'n simposium oor sy lewe en werk by die Fakulteit Teologie gevier. Daar het hy, in sy reaksie reg aan die einde, gepraat oor die belangrikheid van tydelikheid - dat alles tot 'n einde kom - en tydigheid - dat daar 'n tyd is vir alles. Tyd is duidelik vir hom 'n belangrike kontoer in sy teologiese denke. Hy onderskei tussen kronos, 'gewone' tyd wat verloop, en kairos, 'n unieke oomblik in tyd. 

So het die Belydenis van Belhar dit beroep op 'n kairos-oomblik in die sewentiger- en tagtigerjare, toe Apartheid in Suid-Afrika gedy en floreer het en die onversoenbaarheid van mense as 'n teologiese gegewe aanvaar en verkondig is. So het die Accra Verklaring dit beroep op 'n kairos-oomblik vroeg in die een en twintigste eeu, toe ekonomiese globalisasie gedy en floreer het - en waarskynlik nog beter as ooit vantevore gedy en floreer, ten spyte van die onlangse ekonomiese resessie - en die uitbuiting van die natuur saam met welvaart as 'n teologiese gegewe aanvaar en verkondig is. Só sou hy gister in 'n klas verduidelik; maar ook dat daar nog nooit in die geskiedenis so baie gepraat is oor kairos nie. 

Kairos is egter onverstaanbaar sonder kronos.

Kronos. 'n Tyd vir alles. 

Wanneer ons dink oor die NG Kerk vorentoe - in die toekoms - kan ons dit benadruk dat daar wel 'n tyd is vir alles, ook oor die besluite wat die NG Kerk geneem het by die afgelope Algemene Sinode en hoe dit verder daarna uitsien in die toekoms. Ons het nie beweeg soos ons sou kon beweeg het, veral met betrekking tot Belhar en homoseksualiteit, nie, maar ons het darem beweeg. Dit is hoe kronos werk. Dit kan roekelose versigtigheid legitimeer - om Belhar te bely is nou so vrywillig soos wat dit in elk geval was voordat hierdie hele proses begin het; en homoseksuele predikante moet nog net so selibaat wees as voor die sinodesitting - maar daar is ook belowende roeringe daarin - Belhar is nou darem in die belydenisgrondslag opgeneem; en homoseksuele teologiestudente kan darem nou wel in verhoudings wees tot en met hulle legitimasie. Byvoorbeeld.

Kronos. 'n Tyd vir alles.

'n Dag nadat die Algemene Sinode tot 'n einde gekom het, het Cobus 'n uitstekende blogpost geskryf oor die NG Kerk, kompromie en konsensus (beskikbaar hier). Dit is duidelik dat die NG Kerk verdeeld was op hierdie punt ook. Vir diegene wat gevoel het dat die kerk nie beweeg het soos sy kon beweeg het op 'n paar kwessies nie, was besluite soos dié oor Belhar en homoseksualiteit kompromieë. We copped out, sou hierdie siening wou sê. Vir diegene wat gevoel het dat die kerk ver genoeg beweeg het - of gepas en ordelik besluite geneem het, soos wat dit die kerk betaam - was besluite soos dié oor Belhar en homoseksualiteit konsensus-besluite. Cobus se punt was dat dit tegelykertyd albei was. 

En kairos? Het ons in die NG Kerk enigsins ruimte daarvoor om unieke oomblikke in tyd te onderskei waarin die kerk gedring word om belangrike (en ja, beleids)besluite te neem waaroor ons voel: hier staan ons, ons kan nie anders nie?

Ek is onseker. Uiteraard behoort 'n argument vir kairos nie 'n agteraf manier te wees om sekere standpunte oor sekere kwessies te probeer verkoop nie - kairos beteken nie noodwendig dat 'n sinode pro-Belhar en/of pro-homoseksualiteit moet wees nie. Uiteraard behoort 'n klein groepering in die kerk nie alleen, ten alle koste (al beteken dit ook kerkskeuring), hulle sin te kry en hulle wil af te dwing nie - ook nie in die naam van 'n kairos-oomblik nie. Uiteraard vra ook 'n kairos-oomblik - juis 'n kairos-oomblik! - van 'n kerk om met 'n fyn aanvoeling en onderskeidingsvermoë vir hulleself uit te maak waarop dit werklik neerkom; of, in kerklike taal, om die beweging en werk van die Drie-enige God in die wêreld en ja, ook in die kerk, te onderskei en daaraan mee te werk. Dit is immers wie ons as NG Kerk nou bely om te wees, met ons besluite oor missionale kerkwees by hierdie einste sinodesitting. So ja. Uiteraard. 

Kronos is belangrik. Kronos is konsensus en kompromieë, vergaderings en beleide, lang gesprekke en selfs meer aktiwiteite om gestalte te gee aan wat ons sê ons nou eintlik glo oor Belhar en homoseksualiteit en armoede en kerkhereniging en menswaardigheid en missionale kerkwees en die ekologie en aan en aan en aan. 

Maar kairos is ook belangrik. Kairos vra dat ons steeds na almal luister, steeds saam probeer onderskei oor wat die wil van die Here vir Sy kerk kan wees, steeds aan mekaar vashou te midde ons diepste verdelings en verskille. Kairos vra egter ook dat die kerk aan die toekoms dink - aan die soort kerk wat ons wil en kan en móét wees. 

Tussen kronos en kairos sal daar altyd spanning wees. Ook in die NG Kerk. 

Een verhaal van wat by die sinodesitting gebeur het illustreer dit vir my goed. 'n Ouer man het een oggend in die hysbak uit die bloute vir my gesê: die jeug het nie meer respek vir die kerk nie. Daarmee het ek uiteindelik aangehoor wat hy eintlik daarmee bedoel, naamlik dat jongmense moet stilbly en luister as die oumense praat in verhelderingsgesprekke en in die vergadering self. En veral, God forbid, dat jongmense die kerk of oumense (want in sy kop is dit dieselfde ding) sal kritiseer of sal uitdaag. Sy presiese woorde sou na die einde van ons baie intense debat ook wees: julle jongmense sal nie wees waar julle vandag is as dit nie vir die generaals (dis nou in Apartheid) was nie. Maar sy laaste woorde aan my sal my altyd bybly: julle jongmense moet nie altyd die laaste woord wil hê nie. 

Nou ja. Kronos en kairos. 'n Spanning - nie tussen jongmense en oumense, of tussen liberales en konserwatiewes, of tussen drukgroepe vir verskillende sake nie - maar tussen twee verstane van tyd. Russel Botman sou sê dat die belydenisskrifte primêr iets oor die toekoms - en juis nie alleenlik oor die verlede nie - verwoord: oor die tipe kerk wat ons wil wees. 

Enige NG Kerk toekoms - waarin jongmense (maar nie net jongmense nie - ook gay mense en swart mense en vroue) beide gesien én gehoor sal word (om Moedersnaam); waarin ons steeds met die grootste erns en behoudendheid sal dink oor moeilike kwessies soos Belhar en homoseksualiteit; waarin ons ons allerbeste sal probeer om die versoeking teen te werk om op 'n parlementêr-demokratiese manier besluite te neem (want kerkregtelik kan dit tocht zeker niet!) - sou beteken dat ons já sê vir tyd. 

Die lang tyd, kronos-tyd, wat dit neem om taakspanne aan te wys, om studiestukke op te stel, om dit om te skakel in aanbevelings vir 'n sinode om oor te besluit, vir 'n sinode om dit te bespreek en inderdaad daaroor te besluit, vir gemeentes en sinodes om dit te toets en prakties gestalte daaraan te gee. 

Maar ook die nie-noodwendig-korter-nie kairos-tyd waarin ons gekonfronteer word met die besef en die belydenis uit die 450-jarige Heidelbergse Kategismus wat ons daaraan herinner dat ons nié aan onsself behoort nie. Dié kairos-tyd waarin ons inderdaad ook gekonfronteer word met die besef en die belydenis uit die 31-jarige Belydenis van Belhar wat ons daaraan herinner dat die kérk nie aan ons behoort nie, maar dat Jesus die hoof is van Sy kerk.

Prof Nelus Niemandt, Moderator van die afgelope Algemene Sinode, skryf juis hieroor in 'n onlangse artikel (beskikbaar hier):

"Uiteindelik word ’n Algemene Sinode nie alleen beoordeel aan die hand van die gebeure by die vergadering nie. Die geskiedenis gaan uiteindelik eendag vanuit die toekoms vra of die sinode die geboorteplek van nuwe lewe in die kerk was."

Die tyd sal leer.

Tuesday, 8 October 2013

Hoe meer dae hoe meer vrae

Die NG Kerk se besluit oor Belhar vandag: “Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.”

Dit is mos wat Piet Strauss en die anti-Belhar manne nog al die jare vra.

Nege jaar gelede het die NG Kerk in 2004 tydens Hartenbos se sinode besluit: “Omdat die Belharbelydenis 'n belydenisskrif van een van die Familiekerke is, stel ons voor dat dit as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerkverband opgeneem word...... Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie.”

Wat het verander en wat beteken dit?

Ek het nie probleme as daar ruimte geskep word nie maar het ‘n paar vrae: Hoe verskil vandag se #NGkerk besluit van nege jaar gelede s’n en is daar ook ruimte is vir lidmate wat Dort bely maar nie onderskryf nie?

Danie Mouton skryf op sy FB muuur: “ Dit is 'n vierde belydenisskrif. Maar as lidmate dit nie wil bely nie, is daar nie dwang nie.”  Waarop Kobus Victor wil weet: “Wat beteken art 2.2 nou eintlik? Hoekom hierdie dubbelslagtigheid ten opsigte van Belhar? Daar kan mos ook lidmate wees wat met die ander belydenisskrifte nie saamstem nie.

En hoe gaan dit uitspeel wanneer die NG Kerk en die VGK herenig? Gaan Belhar dan steeds “opsioneel” wees?

Iemand anders skryf op Facebook “hierdie besluit gooi die lidmate (en predikante, want hulle is ook lidmate) in twee kampe: Belharrers en anti-Belharrers. Maar, gaan die legitimasie-eed van die proponente nou dienooreenkomstig gewysig word sodat 'n proponent met sy legitimasie die keuse het om Belhar by sy eed in te sluit of nie. Hulle is ook mos lidmate. Ek reken natuurlik dat dit 'n tipiese kompromie-besluit is wat hoogs onbevredigend is. Belhar moet deel word van die belydenisgrondslag en klaar.”

Nog 'n gespreksgenoot meen: Die verskil tussen die besluit van 9 jaar gelede en die huidige besluit is myns insiens dat die huidige besluit 'n ietsie nader aan die anti-Belhar groep kom. Die besluit van destyds het gesê hulle hoef dit nie "vanselfsprekend as belydenisskrif te onderskryf nie". Maw daar kan nog gepraat of onderhandel word daaroor of hulle dit moet onderskryf... dit is nie vanselfsprekend nie. Die huidige besluit sê reguit hulle hoef dit nie te onderskryf nie... daar hoef dus nie meer daaroor onderhandel te word nie.

En laastens: Gaan dieselfde ruimte geskep word vir diegene wat ʼn verbintenis tussen mense van dieselfde geslag aanvaar en diegene wat dit nie aanvaar nie? En gaan die ouens wat so gekant is teen die besluit dat daar ruimte is vir mense wat nie die duiwel as persoonlike wese aanvaar nie, nou vir hulle daardie ruimte gun?


Hoe meer dae hoe meer vrae.

Poëtiese insigte

ek's 'n dapper muis
kyk hoe stap ek deur die huis
en daar's niks waarvoor ek skrik nie.
vir niémand is ek bang
daar is niks wat my kan vang
ja, daar's niks waarvoor ek skrik nie

en sê nou... daar's 'n... kat?

oeeeeee... 'n kat?!

nou jaaaaa...

Sunday, 6 October 2013

voorstel vir 'n homoseksualiteit besluit

Ek het vir lank myself weerhou daarvan om deel te neem aan die debat oor die Algemene Sinode se komende gesprek oor homoseksualiteit. Ek skryf hierdie ook maar versigtig, maar ek skryf omdat ek hoop dat die gesprek op die sinodevloer anders gaan loop as die gesprekke wat ek op facebook gesien het. Dit behoort.

Eerstens moet ek dalk sê wat ek in die debatte gehoor het (en wat ek gehoor het reflekteer natuurlik na wie ek geluister het, ek weet daar is 'n ander stem in die kerk, maar ek kom minder in daai kringe). Ek hoor twee baie negatiewe standpunte:
Die mees algemene is dat die kerk nou dadelik 'n besluit moet neem, en nie weer 'n kommissie moet aanwys nie. Ralph Barnard, wat 'n bekende stem in hierdie debat is, stel dit so:
"Hoop dat die komende NGK Sinode nie dwaas sal wees om "verder te studeer" oor die gaysaak nie. Wat nou nodig is, is volledige aanvaarding of totale afwysing van homoseksuele verhoudings. Grys areas bestaan nie hieroor nie."
Daar is skynbaar nogals 'n paar mense wat met hom saamstem.

Die ander ding wat ek hoor is 'n uiters negatiewe reaksie omdat die Algemene Sinode nie "gesprek" of "bespreking" wil toelaat nie. Die eerste plek waar ek die idee teëgekom het is in die aanhaling van Nadia in Jean se artikel in Rapport.

Kom ek begin by die laaste punt. Daar gaan gesprek wees by die sinode. Daar was gesprekke nadat die brief en voorstel ontvang is (ja, die gesprekke is dalk 'n kommissie genoem, maar ek ken amper al daai individue en ek weet hulle het actually met mekaar gepraat), daar is 'n verhelderende gesprek geskeduleer hieroor by die sinodesitting (soos met alle ander "groot" onderwerpe op die agenda), en die sessie waarin die voorstelle gaan dien lyk vir my redelik oop, soos wat gemaak word wanneer daar 'n lang gesprek verwag word. Natuurlik kan enige voorstel sonder gesprek deurgestem word, maar die mense wat die program bepaal het se raaiskoot is lyk my dat daar baie gesprek oor hierdie onderwerp gaan wees.

Die eerste punt van kritiek is dat daar 'n besluit geneem moet word. Soos met alle sulke versoeke aan enige vergadering gaan dit selde eenvoudig daaroor dat daar sommer enige besluit geneem moet word. Sulke versoeke beteken eintlik daar moet 'n spesifieke besluit geneem word. Op party plekke is die uitroep duidelik dat die besluit wat geneem moet word gevind word in die gewysigde voorstel (p25 van die PDF wat deur 26 lidmate (meeste van hulle teoloë) deur die moderamen van Wes-en Suid-Kaapland aangestuur word.

Op ander plekke is ek nie seker nie. Die beskrywingspunt vra immers nie dat die Algemene Sinode nou finaal klaarpraat nie. Die versoek is dat sekere stappe geneem word (verwysings na 'n selibaat lewe vir predikante weggeneem word en erkenning gegee word aan 'n permanente verhouding van 'n unieke aard), maar vra self dat daar nog verder gepraat word na hierdie sinode:
"gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen"
Iewers is daar dus skynbaar 'n derde voorstel wat sê: "ons het nou klaar gepraat, dit is wat die NG Kerk sê, en dis nie nodig dat daar weer hieraan aandag gegee word nie". Niemand het egter daai voorstel ingestuur nie. Dalk kom dit van die vloer af.

In die gesprek wat plaasgevind het tussen die ontvang van die beskrywingspunt en die moderamen se alternatiewe voorstel, is daar nog 'n paar goed geflag wat nie in die beskrywingspunt van lidmate van Wes-en Suid-Kaapland genoem word nie. Hierdie beskrywingspunt erken dat daar gedink moet word oor "hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen", maar die gesprek na hierdie beskrywingspunt maak dit duidelik dat daar nog goed is waaroor gedink moet word: hoe dink ons oor kinders wat deur homoseksuele pare grootgemaak word en spesifiek oor hulle doop en pastorale begeleiding? Om hieroor te dink aanvaar egter dat daar permanente homoseksuele verhoudings is waarbinne kinders grootgemaak word.

Daar is ook 'n groter gesprek: die gesprek wat kerke reg oor die wêreld voer, en die moderamen se voorstel is dat die NG Kerk nie alleen nie, maar saam met ander hieroor moet praat.

Die dag wat ons 2007 se besluit geneem het, het baie van ons besef dat die implikasies is dat ons gemeentes en kerkrade nou gelos word om self te besluit of hulle ruimte maak vir homoseksuele verhoudings. Ons het natuurlik ook besef gemeentes en kerkrade kan die teenoorgestelde doen, en een van die gemeentes in die ring waar ek was het die geleentheid aangegryp om te verklaar dat aangesien die Algemene Sinode nou gesê het gemeentes moet besluit, besluit hulle "nee".

Alhoewel 2007 op papier gesê het "nee" vir verhoudings, dink ek punt 8 se implikasie was dat ons eintlik maar die deur oopgemaak het dat gemeentes uit die kas uit kan kom (excuse the pun) en openlik erken dat hulle hulle gay lidmate in permanente verhoudings ondersteun, ook op die kerkraad verkies, en dat hulle dit doen omdat die kerkraad hulle diskresie gebruik het om die verskille oor homoseksualiteit in liefde te hanteer. Ons het dit ook gedoen deur predikante uit te sonder vir 'n selibaat lewe, en met die stilte eintlik te erken dat ouderlinge en diakens en lidmate in permanente verhoudings kan wees. Ja, dit was 'n kompromie, dit was dubbelsinnig, daar skemer 'n groot stuk ongemak deur, maar tussen al die interne spanninge deur het ons dinge so bietjie oopgemaak.

Ek dink die twee voorstelle wat voor die sinode dien erken beide dat daar reeds baie homoseksuele lidmate in permanente verhoudings in ons gemeentes is. Ek dink ook die twee voorstelle erken beide dat die kerk ernstig moet praat oor die implikasies hiervan, oor hoe hierdie verhoudings binne die Christelike tradisie sal lyk, wat ons met vrae oor die doop moet maak (weereens gaan dit nie so erg oor toestemming nie, daar is al 'n paar sulke dope in die kerk gewees) en wat dit beteken vir pastorale begeleiding.

Ek dink ons gaan mekaar help as die Algemene Sinode erken dat daar eintlik 'n groeiende konsensus bestaan dat "daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan". Ek sê dit omdat dit is wat ek dink in gemeentes leef, voor enige verslae. Kom ons erken bloot net wat reeds daar is. Aan die ander kant dink ek ons sal mekaar help as ons ophou met hierdie "alles of niks" benadering, en dat ons nog vir lank gaan praat oor wat die implikasies is vir ons pastoraat, jeugbediening en wat nog als. As ons dit erken beteken dit immers nie dat ons presies weet wat dit beteken nie. Ek dink ons kan oopmaak, en steeds ruimte maak vir aanhou praat. 

So waarom vervang ons nie 1.5.2.1 van die moderamen se voorstel met punt 2 van die beskrywingspunt uit Wes-en Suid-Kaapland nie? Ons erken permanente verhoudings van 'n unieke aard, kan selfs verder dink oor wat hierdie unieke aard is, en besef dat ons nou moet ernstig praat oor wat hierdie realiteit in ons gemeentes beteken.


Dan sal ek hoop dat die kerk 'n baie bewustelike proses moet begin om met homoseksuele lidmate in gesprek te gaan, en saam met hulle te dink oor wat in die kerk moet gebeur, en nie oor hulle nie. Omdat ek amper almal op daai ad hoc kommissie ken waarna verwys is hierbo, weet ek ook dat dit 'n kommissie van heteroseksuele persone was, en daar is tog geen manier waarop ons so kan voortgaan nie. Een ding wat ons dan saam met homoseksuele lidmate moet bedink is wat hierdie permanente verhouding van 'n unieke aard beteken.

Op 'n totaal ander manier kan ons dalk oorweeg om die VGKSA se 2012 besluit te onderskryf. Ek dink hulle het 'n baie beter besluit op die tafel gesit as die NG Kerk.

Hier gaan ek stop. En ek besef deur hier te stop antwoord ek nie die eintlike wit olifant nie: homoseksuele predikante in permanente verhoudings. Dalk moet ons net erken dat punt 7 nie werk nie (ek het 'n vermoede daar is ook 'n redelike konsensus dat hierdie tipe inkonsekwentheid ons nie help nie), en dat die Algemene Sinode ATLAS versoek om riglyne vir die legitimasie van homoseksuele predikante daar te stel. Ek sê dit omdat ek vermoed dat hierdie die punt is waarop ons nog gaan sukkel om mekaar te vind. Maar dalk kan die Algemene Sinode ons egter weer verras met 'n manier waarop ons regkry om mekaar te vind.

Ek dink en gesels graag verder saam.

Saturday, 5 October 2013

Wat gaan dit wees?

Die week begin die #NGKerk se Algeme Sinode in Port Elizabeth se Veremarksaal. Ek was daar toe PW sy Rubicon toespraak in Durban se stadsaal gemaak het. Ek was ook  daar toe FW sy 2 Februarie toespraak in die parlement gemaak het. Albei geleenthede het 'n blywende impak op die land gehad.

Die is min of meer die NG Kerk se laaste kans om te kies. Wat gaan dit wees?

Ek sou 'n hele blog daaroor kon skryf maar Nadia het vir my gesê kort of lank maak nie saak nie. Soms is kort beter as lank. Ons kerk staan voor 'n kruispad. Wat gaan die keuse wees? Kom ons wag en kyk. 

Wat bely ons werklik?

Wanneer ons op ‘n Sondag eenstemmig bely ‘Ek glo in ‘n algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges’ waarop word ons oortuigings basseer?  Die geloofsbeleidenis speel ‘n sentrale rol in die identiteitsvorming van die Christelike gemeenskap. In die eerste instansie word geloof bevestig deur kern momente in die geloofsgeskiedenis te bevestig. In die die tweede instansie word ‘n universiële identiteit geskep waarin Christene hulself kan situeer. Wat gebeur egter wanneer die identiteit wat bevestig word verwrong word deur onbevoegde normatiewe raamwerke?  Serene Jones, ‘n professor by Union Theological Seminary, dink na oor hoe eienskappe toe ge-eien word aan individue. Sy meen dat individue word of deur middel van eienskappe wat as essentieel beskou word gekarakteriseer of deur middel van hul rol in die samelewing. Indien hierdie twee perspektiewe in gesprek gebring word met die kwessie rondom homoseksualiteit word die belydenis streng uitgedaag. Aan die een kant beteken dit dat die gemeenskap van die heiliges uitsluitlik deur ‘n heteronormatiewe raamwerk funksioneer en aan die ander kant dat die Christelike identiteit geskoei is op die demografie van die kerk. Altwee hierdie perspektiewe bekommer Serene Jones want identiteit gebasseer op ‘n suiwer normatiewe raamwerk kan eksklusief wees terwyl ‘n identiteit gebasseer op sosialisering kan lei tot ‘n te kort aan konkrete raamwerke. Serene Jones offer ‘n middeweg, ‘n identiteit geskep deur omvattende normatiewe raamwerke sowel as sosialisering. Die geloofsbelydenis wat elke Sondag bely word het die potentiaal om altwee hierdie rolle te vervul. Dit verg egter dat die Christelike gemeenskap erkenning sou moes gee aan ‘n normatiewe raamwerk gebasseer op ‘n identiteit gefundeer in Christus. Verlosser, opgestane en aan die regterhand van God. Aan die ander kant sou die geloofsgemeenskap uit hul sosialiserings norme moes beweeg om ‘n gemeenskap te skep wat gekarakteriseer word deur die demografie van die lidmate.  In die lig van die homoseksualiteits kwessie so wel as die perspektiewe van Serene Jones is wat die kerk bely verwronge. ‘n Christelike identiteit gebasseer op ‘n heteronormatiewe raamwerk funksioneer as ‘n uitsluitlike identiteit. Hierby vorm die sosialisering van die gemeenskap van die gelowiges as ‘n onrealistiese ideal wat onligetieme kriteria gebruik om te besluit ‘wat mag in’ en ‘wat mag nie in nie.’  Die Christelike gemeenskap word dus met ‘n uitdaging gekonfronteer, is ons Christelike idenititeit geldig indien dit gebasseer is op onlegitieme raamwerke of moet individue met ‘n alternatiewe seksuele orientasie (in die amp of kerkstoel) gesien word as integraal, selfs onlosmaakbaar, van die ware Christelike gemeenskap van heiliges?

So lyk ons vir die wêreld daar buite



Verstaan, misverstaan, en om die punt te mis



Die prosesvoorstel oor homoseksualiteit dat die Algemene Sinode (AS) nie die onreg aan gay mede-gelowiges sal bespreek nie is ’n tragedie.

In die besluit om “verder te besin” skuil daar ’n houding wat tans die kerk se getuienis op vele terreine skade aandoen.  Die veronderstelling dat daar in “verdere studie” antwoorde gevind kan word, dat deur die saak in diepte (weer!) te ondersoek groter sekerheid sal kom, is ’n hartseer miskenning van waaroor die sogenaamde “gay-kwessie” werklik gaan en ’n miskenning van die eie aard van die kerk van Christus.

Die kerk, en selfs die AS van die NG Kerk, het geen voorreg tot antwoorde op moeilike etiese vrae nie.  Studie stukke dra waarde en die kerk sal altyd ’n verantwoordelikheid hê om goed ingelig te wees waar groot besluite ter sprake is, maar daar sal altyd grense wees aan wat ons weet, daar sal altyd onsekerhede wees.  Kortom, die verwerping van gay mede-gelowiges is nie ’n probleemstelling wat opgelos kan word nie.  Dit is nie ’n “kwessie” waarop meer inligting dalk helderheid kan bied nie.  Dit is nie ’n vraag oor verstaan of misverstaan nie.  Wat nou, hier voor die AS te staan (moes) kom, kan nie met meer deeglike eksegese of deurbrake in wetenskaplike navorsing verklaar en uitgeklaar word nie.

Buitendien, is dit ons roeping as kerk?  Is dit die AS se roeping om, as ’n belangrike uitvoerende gestalte van die NG kerk in Suid-Afrika, ten alle koste (ten koste van geregtigheid) vir sekerheid te soek?  Ons, die kerk, is nie geroep om ten alle tye sekerheid na te jaag nie.  Die kerk is die liggaam van Christus en word geroep om telkens weer, in sekerheid en onsekerheid, gestalte te gee aan hierdie eie aard.  Moet ons nie in woord en daad verkondig dat gay-wees en straight-wees nie die laaste woord oor ons is nie?  Dat my (en my ouers se) enigste troos nie is dat ek “darem nie gay is nie”, maar dat ek, ook my (gay) liggaam, aan my getroue verlosser Jesus Christus behoort en dat ek deur die Heilige Gees gewillig gemaak word om voortaan vir Hom te lewe?  Die liggaam van Christus is besig om mede-gelowiges, kinders van God, van hierdie troos te vervreem en gaan dit nou (ten minste) vir ’n verdere twee jaar so voortsit.

Dit gaan nie maar net oor verstaan en misverstaan nie.  Woorde is mag.  Die AS se woorde dra baie mag en by die Sinode van 2013 word gay mede-gelowiges weer ontmagtig.  Deur die AS se stilswye word daar dalk nie ’n duidelike boodskap oorgedra nie, maar ’n duidelike magsdaad word teen alle gay-paartjies en alle gay predikante en voornemende predikante uitgevoer.

Besef die AS nie dat om “verder te besin”, selfs vir goeie redes soos “beter verstaan”, “meer helderheid en sekerheid”, ’n politieke magsdaad is nie?  Of, waag ek om dit te sê: besef hulle dit dalk al te goed?  So goed dat ’n kwesbare hart van vlees ingeruil moes word vir ’n meer duursame hart van klip?

Almal onder een kombers

My ouma het gesê dat jy met 'n glimlag kan gaan slaap as jou kinders onder een kombers toegemaak kan word.

Die verslae en aanvullende verslae wat tydens die sitting van die eerste "verkleinde" Algemene Sinode gaan dien en die kommentaar wat alreeds daarop gelewer is, het my baie aan my ouma - wat nou alreeds 25 jaar oorlede is - se sê-ding laat dink.

Johan Ernst (Dr) se kommentaar op Artikel 1 van die Kerkorde (Belhar 3) gee my hoop. Dis duidelik dat hy 'n greep op die problematiek rondom die kwessie het en benader dit op 'n manier waarop daar met hom saamgestem en saamgestap kan word.

Hopelik is dit werklik so dat ons naas ons herkoms uit en verbondenheid aan Europese bodem óók 'n ware inheemse kerk van Suidelike Afrika wil wees (p37). Dis - naas die inherente waarde daarvan - in hierdie lig dat die integrering van die Belydenis van Belhar in ons kerklike en gemeentelike lewe binne elke plaaslike gemeenskap aktueel is.

Die besluite rondom Artikel 1, Belhar, en talle ander word hopelik so geneem dat ons na afloop van die vergadering steeds onder een kombers toegemaak kan word. Veral die aanvaarding van mekaar se bona fides is hiervoor belangrik. Nie al die kerke in die gereformeerde tradisie het dieselfde belydenisse nie. Geloof - as die, sê maar sosiale gom, wat wat een persoon aan 'n ander verbind, die sosiale, eksterne gemanifesteerde, emosionele gedrag van lojaliteit, verbondenheid ("commitment") en solidariteit - is en bly dinamies. Ons kerklike eenheid moet inderdaad - soos wat Johan skryf - bokant konfessionele verdeeldheid uitstyg (p39).

Diversiteit en vryheid van gewete (p39) is alreeds vanaf op die laatste Paulus se tyd saam met verdraagsaamheid belangrike motiewe by God se kinders. Hopelik word onthou dat belydenisskrifte mensewerk "en daarom ook onderworpe aan die feilbaarheid van die mens" (p39) is en word persoonlike agendas nie gebruik om "ouma se kinders" onder die kombers uit te trek nie.

Dit bring ons onafwendbaar by die kinders wat baie graag onder Ouma se kombers wil slaap, maar deur van die kinders verhinder word. Kan daar regtig nóg gewag word om inklusiewe besluite oor "die gays" te neem? In ons navorsing en gesprekke hieroor is daar myns insiens geen inligting wat ons tot 'n ander "Aha!-belewing" as waar ons tans is gaan bring nie. Die Algemene kán en behoort met hierdie rondte eenmaal iets dappers te doen. Hoeveel kinders moet nog verkluim omdat ons hulle nie onder die kombers wat ons toevou wil hê nie?  


Friday, 4 October 2013

Oppas vir dwaalleer!

Almal wie se e-pos adres in die NG Kerk se jaarboek verskyn het waarskynlik verskeie e-posse ontvang wat mense waarsku teen die dwaalleer wat in die NG Kerk insypel en posvat. Dit bevat 'n magdom redenasies en argumente met verskeie aanhalings uit Bybeltekste (meestal grepies uit apostoliese briewe) en die Belydenisskrifte. Dit wil mense oortuig dat die NG Kerk besig is om die duiwel te misken/ ontken en dat die Belhar belydenis dwaalleer is.

Dit was vir my ontstellend om te sien dat die een skrywer stel dat: "Die Gereformeerde belydenis (veral Dordt) is duidelik: God is slegs op 'n besonderse wyse die God van die uitverkorenes, en dit het absoluut niks hulle maatskaplike, finansiele of politieke status te doen nie!" Dit is juis die rede hoekom ons Belhar as Belydenisskrif so nodig het. Die karakter van die Gereformeerde tradisie se eis is juis dat ons deur die Gees vernuwe word en aanpas omdat die eise van die Skrif en die toestand van die gebroke, sondige wêreld, nooit dieselfde bly nie, dat ons reformeer!

Ek wil ook vinnig baie Bybeltekste uitpluk, maar die volgende in besonder:

Markus 12:28-34 (1953 Vertaling)
"En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal?
En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.
En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.
En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.
Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie."

Matteus 25:32-40 (1953 Vertaling)
"Dan sal die Koning vir die wat aan sy regterhand is, sê: Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was ‘n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom.
Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee?
En wanneer het ons U ‘n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom?
En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie..."

Lukas 4:14-30 (1953 Vertaling)
"En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ‘n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan;
en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.
Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:
Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.
En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.
Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie?
En Hy antwoord hulle: Julle sal My ongetwyfeld hierdie spreekwoord toevoeg: Geneesheer, genees uself! Alles wat ons hoor wat in Kapérnaüm gebeur het, doen dit hier in u vaderstad ook. En Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, geen profeet is aangenaam in sy vaderland nie. Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ‘n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee. En daar was baie melaatses in Israel in die tyd van Elísa, die profeet, en nie een van hulle is gereinig nie, behalwe Naäman, die Síriër.
En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi.
Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan."


Johannes 13:34-35 (1953 Vertaling)
"‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het."

Matteus 7:15-23 (1953 Vertaling)
"Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!
So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.
Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!"

Mag die vrug van die Heilige Gees van die opgestane, lewende Jesus Christus, die Seun van God die Vader en Skepper, 'n kenmerk van die Algemene Sinode. Mag die waarheid dat God 'n brandende passie en liefde vir die totale mensdom het en dat Hy vir elke mens op aarde is, 'n kenmerk wees van die Algemene Sinode en die NG Kerk. Mag die NG Kerk se optrede 'n kragtige, lewende belydenis wees, veel meer as dit wat in dokumente (nuwes, oues, oorspronklikes of veranderdes) opgeteken word; 'n belydenis van Jesus wat ons leer en wys om ons naastes lief te hê: die wat honger, dors, dakloos en vreemd is, die wat kaal is, siek is en gevange is, die wat arm is, verbryseld van hart is, blind is en gebroke is, die weduwees en die melaatses. Mag 'n siniese wêreld beleef dat Jesus van die Bybel lewendig is in die NG Kerk van vandag. Mag die Algemene Sinode van die NG Kerk 'n gesonde vrugteboom wees wat vrugte sal dra wat die nasies, veral dié in Afrika sal voed. Nkosi Sikelel'i Afrika!

Thursday, 3 October 2013

Apartheid was die maklike jammer, nou vir die ideologie van die V-woord...



Hierdie oomblik in die NGK se geskiedenis is uniek. Dit is uniek, want vir die eerste maal in dié federasie se geskiedenis is die ideologie van die kerk duidelik leesbaar. Nou mag jy vra: “Wat van Apartheid?” Ek is die laaste ene om sê dat die ondersteuning van Apartheid, die NGK nie eindeloos skaam moet maak nie. Waar die konserwatiewe interpretasie korrek is, is dat Apartheid hoofsaaklik ‘n politiese projek was waarin die NGK bloot geglo het. Soos die Algemene Sinode nader kom, het ons te doen moet ‘n ander monster: Die NGK se geloofsprojek wat ‘n politiese uitwerking het.

Wat is hierdie ideologies geloofsprojek mag jy vra? Dit is die V-woord wat niemand oor praat nie: Voorstedelikheid of Suburbia. Hier gebruik ek uitdruklik Slavoj Zizek se idee dat ideologie juis nie ons uitgesproke projek is nie. Nee, ideologie moet eerder gedefinieer word, volgens Zizek, as: “ons doen dit, maar ons weet nie wat ons doen nie.” So lees ek deur die punte, verslae en voorstelle van die Algemene Sinode se agenda en dit stink van die sekuriteitsmuur van ons voorstedelik aspirasies. Gays, ja, maar net tot binne die palissade van ons gerieflike huis. Jeug, oulik, solank hulle darem die huisreëls ken by die etenstafel. Eenheid, goeie idee, solank hulle net nie saam met ons intrek nie (ja, in dieselfde huis, nie die agterkamer nie). Sosiale geregtigheid, dis mos Bybels, ek sal geld gee, op ‘n kommissie dien of selfs ‘n verslag skryf.

Die NGK sukkel al lank met die stad. In die eerste helfte van die 20ste eeu was die stad hoog op die agenda. Toe was die NGK kerk nog netjies verpak as ‘n plattelandse kerk. ‘n Kerk wat nog reg en verkeerd verstaan het. ‘n Kerk wat nog in dorpe kon waai, swaai en saai. ‘n Kerk wat die jeug op hulle plek kon sit. Dit was alles goed en wel toe die meeste mense nog op die platteland gebly het, maar helaas dis nie meer waar die meeste mense bly nie. Die meeste mense bly vandag in stede, en veral in ontwikkelende lande soos ons sin. Iewers het die NGK (en baie ander kerke) hierdie beweging gemis, hoekom?

Wanneer ek die vroeë dokumente van verstedeliking lees in die NGK klink dit baie soos ons Algemene Sinode se agenda: verstedeliking is goed, maar oppas vir die morele verval. Gaan na die stad toe en leef saam met verskillende mense, maar bly suiwer in julle volk. Dokument titels soos Kerk en Stad (1947) was dus misleidend. Dit moes eerder Kerk en (Voor)stad gewees het. Hier is dan die oorhoofse ideologiese dwaallering wat die NGK Algemene Sinode moet verwerp: Die Vae Vuur van Voorstedelikheid.

Die Vae Vuur van Voorstedelikheid glo in Eenheid as ‘n ideaal en sal selfs daarvoor stem, maar sorg dat al ons eredienste Afrikaans bly sodat ons darem ‘n suiwer volk kan bly in die stad. Die Vae Vuur van Voorstedelikheid sal dalk selfs instem tot gay dominees, maar seker maak dat nie een gemeente hulle beroep nie. Die Vae Vuur van Voorstedelikheid sal die jeug ‘n plek gee in die organisasie en sodoende seker maak dat hulle nie in die werklike strukture van  organisasie dien nie. Die Vae Vuur van Voorstedelikheid sê jammer vir Apartheid en maak dan seker dat hierdie Apartheid waarvoor ons jammer sê steeds agter ons palissades en mure kan voorgaan. Die stad vra egter ander vrae, vrae wat min te doen het met die Algemene Sinode se 2013 Agenda. Vrae wat nie tevrede is met ons Voorstedelike Vae Vuur nie. Dalk is dit die onuitgesproke ideologieë van ons Algemene Sinode wat Jesus aanspreek wanneer Hy van die kruis af sê: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Ek kyk vir jou...

Daar is min dinge in die lewe so snaaks soos 'n kleuter wat 'n ouer na-aap nie. Ons almal ken die grappie van die gesin wat gaste kry en die mamma wat die kleuter vra om die tafel gebed te doen. Wanneer die kleuter vir die mamma sê sy weet nie wat om te bid nie, sê die mamma: "Bid net soos jy vir my hoor bid." Dan bid die kleuter: "Ag Here, hoekom het ek al hierdie mense genooi?"

Net so het ek en my 3 (amper 4) jarige dogtertjie die speletjie in die motor. Ek sal die tru-spieëltjie stel dat ek haar kan raaksien. Vir daardie tye wat dit so lyk asof sy aan die slaap wil raak, minder as 5 minute van die huis af, wanneer ek weet dit gaan groot oorlog wees om haar na daardie "power-nap" wakker te maak, hou ek haar wakker met die woorde: "Ek kyk vir jou." Later het dit ontaard in 'n speletjie. Sy sal uit die bloute in die kar vir my sê: "Ek kyk vir jou!" Die stemtoon en die gesigsuitdrukking natuurlik ooreenstemmend met myne. "Ek kyk vir jou" het my laat besef dat daar hordes ander goed ook is waarmee sy my dophou en waarin sy my na-aap, soms tot groot humor, soms tot groot konsternasie.

Op dieselfde manier kan ons dissipelskap definieer. Om 'n dissipel van Jesus te wees beteken om hom te na-aap. Dit beteken om na Jesus se optrede te kyk, dit in te oefen en toenemend dieselfde optrede te openbaar.

Baie lidmate van die NG Kerk kyk na die AS om hulle hiermee te help. Hulle het eintlik 'n saak aan met die verslae wat bespreek word. Baie van hulle krap kop wanneer "Kerkorde" en al die amptelike afkortings asook verskeie teologiese terme daarmee saamgaan. Hulle let wel op waaroor die AS alles praat en watter houding die media daaroor raaksien.

Van Jesus se mees uitstaande kenmerke is dat Hy mense kon help om te sien dat God elke lewende mens op hierdie aarde liefhet en hulle wil help om 'n heel lewe te leef: van goeie Jode, tot seksueel losbandige mense, tot skelm tollenaars en selfs Samaritane en Romeine. Dit is vir my insiggewend dat Jesus bietjie afkeur gehad het in godsdienstige debatte en veral die debatte wat bepaal of mense goed of sleg, in of uit was. Hy het geweldig baie tyd spandeer om mense lief te hê, veral die siekes en sondaars.

Mense gaan nie die helfte van die besprekings oor die kerk se missionale aard en roeping, klein gemeentes, die vroue lessenaar, jeugbediening, lidmaatbemagtiging, Hugenote Kollege, onderwys, die Belydenis van Belhar, die wysiging van die Kerkorde, Kerkhereniging, Seisoen van menswaardigheid, die sakramente, publieke getuienis, grondhervorming en landbou of die ander klomp sake vir bespreking verstaan of in belangstel nie. Vir elke lidmaat gaan daar 'n saak van belang wees en vir elke lidmaat gaan dit van belang wees dat daardie saak met erns hanteer word. Wat nou vir elke lidmaat gaan geld as erns is ook weer 'n ander saak.

Erns vir my gaan beteken dat elke saak op die agenda deur die AS met deernis, liefdevol en pastoraal (om Jean Oosthuizen se woorde in 'n ander plasing te leen) hanteer sal word om mense te help om heel te word. Daar is baie mense wat 'n duidelike, eenvoudige standpunt van die NG Kerk soek oor al die sake op die agenda (veral homoseksualiteit, Belhar en kerkeenheid, grondsake en die doop) en maak nie saak wat die NG Kerk sê nie, iemand gaan kwaad, hartseer en ontevrede wees; maar wanneer dit met deernis, liefde en pastoraal hanteer word gaan dit raak gesien word en kan mense begin gesond word.

Baie mense kyk na die NG Kerk se Sinode vergaderings om te weet hoe om as gelowige, ernstige, getroue dissipel van Jesus te reageer in verskeie kontekste. Hoe moet ek reageer oor ammoede, die regering se korrupsie of onderwys? Hoe moet ek reageer teenoor 'n gay of lesbiese persoon voor my? Hoe moet ek dink oor kwessies soor Belhar, kerkeenheid en grondhervorming? Die voorbeeld wat die AS stel is baie kere dit wat gemeentes op grondvlak doen.

Dit verbaas my dus glad nie dat mense in gemeentes die Sinodes (algemeen en streek) se voorbeeld volg en eindelose debatte, gesprekke en studies maak oor verskeie kwessies in die samelewing. Dit verbaas my glad nie dat gesprekke klinies, "objektief" en nugter gevoer word nie.

Ek bid dat gemeentes met deernis, liefdevol en pastoraal sal wees in hul gemeenskappe. Ek bid dat gemeentes minder sal praat, debatteer en studeer, maar meer sal kontak maak, liefhê en saam laste dra in hul gemeenskappe. Ek bid dus dat die AS kreatief sal word oor hoe om daarin die voorbeeld te stel, want: "Ek ky vir jou..."

Homoseksualiteit? Néé, maar ons probeer dalk volgende keer weer.

Die gesprek oor homoseksualiteit moet dringend heropen word.

Maar dit gaan nie.

Nogsteeds nie.

Weer nie.

Laas jaar is 'n voorstel vir die hersiening van die NG Kerk se 2007 besluit oor homoseksualiteit deurgestuur (beskikbaar hier). Die hersieningsvoorstel, wat onderteken is deur 26 NG Kerk-lidmate, vra (pleit, by tye) dat die besluit oor homoseksualiteit in hersiening geneem word, en stel voor dat (1) erkenning gegee word aan die permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag, en dat (2) homoseksuele gelegitimeerdes (sonder voorwaardes, soos selibaatskap) toegelaat word tot die predikantsamp.

Wat beteken dit?

Dit beteken dat erkenning gegee word aan homoseksuele verhoudings, insluitend diegene wat geroep voel tot die bediening, en nie slegs aan homoseksuele oriëntasie of homoseksuele individue nie. Die gemeenskaplikheid van die kerk word hierdeur, per slot van rekening, aangespreek, aangesien die kerk meer is as 'n toevallige versameling van individue met hulle eie (seksuele) oriëntasies en lewens.

Dit beteken dat studente wat gay en in 'n permanente verhouding is nie uitgesonder word wat seksueel-etiese vereistes vir legitimasie aanbetref nie (want regtigwaar, waarom word selibaatskap nie óók van ongetroude, heteroseksuele studente vereis nie?), en dat die kerk daarom 'n met 'n dubbelstandaard funksioneer.

Dit beteken dat die kuratoria nie in 'n onmoontlike posisie geplaas word, waarin hulle as't ware as polisie-beamptes beskou word van wie alles weggesteek en voor wie alles ontken moet word, nie. Asof dit nie erg genoeg is nie word die kuratorium, veral in die geval van homoseksuele studente, ook die regtersbank wat 'n oordeel moet fel oor gay studente wat in verhoudings is.

Dit beteken dat studente en hele klasse nie in 'n onmoontlike posisie geplaas word, deurdat hulle bewus mag wees van gay klasmaats wat in verhoudings staan, en daardeur nie voor 'n keuse gedwing word: óf besluit om stil te bly, óf besluit om dit aan die kuratorium bekend te maak. Die impak hiervan op onderlinge (vertrouens)verhoudinge tussen studente en binne klasse is, om die minste te sê, totaal verwoestend.

En hierdie alles is nie die móóntlike implikasies van die lomp besluit van 2007 nie. Dit is die wérklike implikasies; dit wat jaar na jaar in teologiese fakulteite - vanjaar weer - gebeur. Die 2007 besluit mag 'n kompromie-besluit gewees het op 'n gegewe stadium, en dit mag as 'n soort uitweg gesien gewees het op daardie punt, maar dit is dit nie meer nie. Dit is nie meer genoeg nie. Dit is skadelik vir verhoudinge binne klasse en fakulteite, met die kuratoria, binne die kerk, en uiteraard ook buite die kerk.

Nou is ons op 'n punt waar die besluit hersien kan word. Al die interne, korrekte, kerklike prosesse is gevolg om die punt op die agenda te laat dien. En die prosesvoorstel oor homoseksualiteit is uiteindelik bekend gestel.

Die aanbeveling wat gaan dien (beskikbaar hier) is dat die Algemene Sinode (1) kennis neem van die verwikkelinge rondom die gesprek oor homoseksualiteit maar dat dit (2) weereens na die taakspan verwys wat met leer en aktuele sake omgaan. Die aanbevelings wat die taakspan gaan maak sal dien by die volgende sinodesitting, oor twee jaar.

Maar dit is geensins 'n voldoende antwoord nie. Inteendeel, dit laat 'n paar ongemaklik vrae by my ontstaan.

Hoe is dit moontlik dat ons dit wéér na 'n taakspan wil verwys? Dat ons nie 'n gesprek hieroor toe wil laat by volgende week se Algemene Sinode nie? Is dit omdat ons nie elke laaste implikasie van 'n hersiene besluit, of selfs 'n gesprek hieroor, kan peil nie? Is dit egter die punt? Of is daar belangriker sake op die agenda, soos Belhar en kerkeenheid? Tog, kan ons met 'n integriteit as kerk praat oor kerkeenheid en Belhar, en bowenal oor menswaardigheid, as ons nie 'n gesprek wil voer oor homoseksualiteit nie?

Hoe is dit moontlik dat ons nogsteeds nie gereed is, weer nie gereed is, om die 2007 besluit in hersiening te neem nie?

Dalk is ek te dom om hierdie goed te verstaan. Of dalk is ek te jonk om hierdie goed te verstaan.

Ek wil leerbaar wees, en daarom woon ek ook volgende week se Algemene Sinode by as waarnemer.

Sol iustitiae illustra nos.


Nadia Marais

Die Algemene Sinode se warm patat

ʼn Vuurwarm patat. Dit is waarop die NG Kerk se algemene sinode sit wanneer hulle volgende week vir die soveelste keer ʼn besluit oor homoseksualiteit moet neem.

Aan die een kant fokus hulle op menswaardigheid en die Belhar-belydenis met eenheid, geregtigheid en versoening as die hoofpilare. Aan die ander kant word daar teen gay predikante gediskrimineer. Gay paartjies se menswaardigheid word aangetas omdat hulle verbintenisse nie deur die kerk aanvaar word nie.

Dit is die gemors waarin kerke hulle wêreldwyd bevind wanneer hulle mense se gedrag wil  beheer en reguleer en in ʼn magsposisie wil wees (eerder as om met deernis, liefdevol en pastoraal te wees). 'n Voorskriftelike etiek van bo af, eerder as deelnemende etiek. Dit en dat tot sonde verklaar (waaraan die besluitnemers gelukkig nie skuldig is nie), merk ʼn teoloog met wie ek gesels teenoor my op. 

Die huidige gay-besluit van 2007 is nie net diskriminerend nie maar onmenswaardig. Dit bring ook die gelykheid van ampte wat in die kerkorde beskerm word in gedrang. Hoe kan jy van leraars iets verwag wat jy nie van ouderlinge en diakens verwag nie?

Gelegitimeerdes word slegs tot die predikantsamp toegelaat, as hulle 'n selibate lewenstyl  beoefen. Dieselfde geld nie vir ouderlinge en diakens nie - ʼn saak wat volgende week op die spits gedryf word.

Min of meer dieselfde tyd toe die NG Kerk in die tagtigerjare besluit swart mense is welkom in die kerk, word homoseksualiteit opnuut as sonde bestempel en homoseksuele lidmate word effektief steeds uitgesluit.

In 2004 vra die sinode verskoning aan gay mense en hulle families wat in die verlede deur die kerk se optrede diep seergemaak is. In 2007 pleit ʼn groep lidmate by die algemene Sinode om haat en onreg teen gays, in die samelewing en in die kerk, in die duidelikste taal af te wys.

Sedertdien word verskeie jakkalsdraaie oor die 2007 besluit gegooi. Sommige interpreteer dit sús en ander só. Hoe mens dit ook al interpreteer, die implikasie bly steeds dat gayseks sonde is selfs al is dit in ʼn langtermynverhouding.

ʼn Predikantsvriend vertel van ʼn ringskollega wat ʼn ruk gelede in ʼn broederkring opmerk: "As gays op die kansel toegelaat word verlaat ek en my gemeente die kerk en ʼn klomp ander beaam dit.” Lui dit iewers ʼn klokkie? Dink bietjie terug aan soortgelyke refreine uit die verlede soos “as vroue op die kansel toegelaat word...” of  “as swartes op die kerkbanke toegelaat word....” 

Dit is natuurlik onhoudbaar om in 2013 te sê homoseksuele verbintenisse is sonde, maar die kerk durf dit nie sê nie. Dit is kerklik polities te sensitief. Om uit dié dilemma te kom word allerhande vreemde hermeneutiese en eksegetiese truuks in onverstaanbare teologiese taal gebruik. Dan word dit vir verdere studie verwys - daai eeue oue kerklike truuk om uit 'n gemors te kom (soos die Hervormers ook).

Die vraag is hoe kom die kerk uit hierdie dilemma wat hy self help skep het sonder om in die slagyster van sogenaamde Bybelse bewyse te trap waaroor daar in elk geval nooit eenstemmigheid sal wees nie?

Ek het met ʼn paar mense  gesels en hier is enkele gedagtes:
  •  Erken in die eerste plek dat 2007 se besluit nie net inkonsekwent is nie, maar ook kerkordelik onhoudbaar en dalk selfs ongrondwetlik. Kerkordelik omdat daar nou 'n nuwe vereiste vir gay predikante geld wat nie vir ouderlinge en diakens geld nie. Dit tas die ou gereformeerde beginsel van die gelykheid van die ampte aan. Ongrondwetlik omdat daar duidelike uitsprake oor gay verbintenisse deur die grondwetlike hof is en die 2006 wet op Burgerlike verbintenisse wat daaruit voortgespruit het.
  • Laat dit aan kerkrade oor om self te besluit of hulle ʼn gay predikant wil beroep of nie en of gay-paartjies welkom is in hulle gemeente.

Ironies genoeg bevind die kerk hom tans in dieselfde debakel waarin hy hom in 1987 oor egskeiding bevind het. Destyds is besluit alle egskeidings is 'n teken van vervreemding van Christus. Hertrou (met vorige huweliksmaat) moes in alle gevalle die ideaal bly. ʼn Tweede huwelik was onaanvaarbaar. Niemand het hulle aan die besluit gesteur nie maar byna die helfte van die kerk se lidmate is daardeur vervreem en gemarginaliseer. Die gevolg was dat die kerk vir baie mense al hoe meer irrelevant geword het.

In ʼn gesprek wat ek vroeër die week met ʼn teoloog voer merk hy die volgende op: “In al die dinge sien ek die duidelike bewys dat die kerk 'n instelling van God is”. Hoe dan so vra ek? Want, sê hy “geen ander instansie in die wêreld skiet homself so gereeld vir so lank in die voet en bly voortbestaan nie - nie die Romeinse Ryk nie of politieke partye nie, nie kommunisme nie, nie die modernisme nie,  - niks nie  - die kerk móét God se kerk wees. Gelukkig is Hy geduldig met 'n goeie humorsin - anders was ons regtig lankal in groot moeilikheid.”  

Wednesday, 2 October 2013

Jeug: Ons neem kennis

Ek moet eerlik sê dat die verslae my teleurstel. Die terugvoer en verslae wat dien is: Kategese, Belydenisaflegging, Onderwys, #imagine 2014, 'n navorsing taakspan, 'n beoogde netwerk. Soos ek kerklike vergaderings ken, gaan daar na alle waarskynlikheid 'n presiese kopie van die verslag en agenda inhoud in die notule kom en al wat gaan bykom is: "Die vergadering neem kennis." Na alle waarskynlikheid geen bespreking, geen onderskeiding en geen verdere praktiese stappe nie.


Tot dusver is die lywigste verslag oor Jeugbediening binne die kerk dié van die kategese taakspan. Dit verklap die onderliggende oortuiging dat jongmense se plek in die kerk en daarom gemeentes, in die kategese is. Dit is ‘n verskuilde belydenis dat jongmense nie deel het (mag/ moet/ kan) aan die res van die lewe van die gemeente nie. Hulle is leë kruike wat gevul moet word met kennis, wat hulself moet verbind tot die gemeente en Kerkverband tydens belydenisaflegging en asseblief tog net weer terugkom na die NG Kerk nadat hulle studeer het.


Die gevolg, myns insiens is dat die AS keer op keer gaan rapporteer dat die jeug minder word, dat Kerkspieël se lang verduidelikings oor negatiewe geboortekoerse en sekularisasie op die tafel gegooi gaan word en dat die dag as prof. Malan Nel nie meer daar is om iets oor jeugbediening te sê nie, daar wynig iets anders gesê of gehoor gaan word. (Baie sinies, ek weet.)


Die raamwerk vir die taakspan vir kategese noem in punt 1: “…dat kategese slegs ’n onderdeel van geloofsontwikkeling uitmaak en sien toe dat hierde formele onderrig binne die raamwerk van ’n teologiese perspektief (inwyding en begeleiding van alle kinders en jongmense in die weg van die Here tot ’n lewe van dissipelskap) plaasvind.” Die belydenis van die taakspan is dus op teologies-teoretiese vlak in orde.


Die praktyk is egter nie hiermee belyn nie. Om een of ander rede is die fokus van die praktyk of kategese of entertaintment. My ervaring van Jeugbediening (9 jaar as voltydse jeugwerker) is dat die uitdagings waarmee die NG Kerk sit nie deur kategese, kampe en feeste aangespreek gaan word nie. Die kategese taakspan herken dit ook in hulle raamwerk, wanneer hulle noem dat “Wat vir volwassenes geld, geld net so vir kinders en jongmense.” en dat “(t)oegewyde en entoesiastiese ouers of huise…” nodig is vir jongmense se geloofsontwikkeling. Die taakspan se raamwerk en waardes fokus dan verder slegs op kategese.


Die praktyk is dat kinders en jongmense nie deel het aan die lewe van gemeentes nie. Jongmense veral is baie sterk ingestel op ervarings. ‘n Kategese-ervaring, maak nie saak hoe holisties dit is nie, stem meer ooreen met ‘n skool-ervaring, wat vir baie jongmense ‘n negatiewe ervaring is. 'n Fees-ervaring begin kwyn die Maandag daarna.


Een voorstel van my kant af is om vir jongmense te help om saam met Jesus te leef. Dietrich Bonhoeffer (Duits), Malan Nel (Suid-Afrikaans) en Andrew Root (Amerikaans) is almal oortuig daarvan dat dit binne die gemeenskap van gelowiges gebeur. Een van die grootste behoeftes van jongmense is juis dan ook na ‘n ervaring van opregte, liefdevolle gemeenskap. Die Algemene Sinode moet dus, volgens my meer aandag gee aan hoe gemeentes besin oor die praktyk van hul gemeenskaplike bediening (eredienste, sakramente, kleingroepe, feeste) en hoe hulle jongmense integreer en inbind in die gemeenskap deur hierdie praktyke. Hoe vestig gemeentes verhoudings tussen die volwassenes van die gemeente en die jongmense, buiten ‘n kategese groepleier/ fasiliteerder en buiten hul ouer(s)?


Ek sou daarom voorstel dat die Algemene Sinode langdurige studies deur die onderskeie teologiese fakulteite sal aanmoedig oor die stand van integrasie van jongmense in die lewe van die gemeentes, die verskillende praktyke wat gevolg word asook die gevolge daarvan.


Tweedens moet die AS ook asseblief kennis neem van dr. Braam Hanekom se voorstel dat daar 'n netwerk tot stand gebring moet word ter wille van jeugbediening. Die AS en dr. Braam Hanekom moet asseblief begin by die deur van die Kerklike Jeugbedienaars Vereniging, wat reeds 'n taamlike netwerk van voltydse jeugwerkers het. Hoewel hierdie netwerk se grootste aktiwiteit in die Wes-Kaap is, sal erkenning en ondersteuning van die AS se kant af help om dit uit te brei.


Ek bid dat die AS se notule meer sal wys by Jeugbediening as bloot "Die vergadering neem kennis." Ek bid ook dat gemeentes inspirasie en leiding sal kry uit die AS se besprekings, debat en Geestelike onderskeiding oor Jeugbediening. Ek bid dat die AS asook streeksinodes by hul volgende sittings, saam met die verslae van die taakspanne oor jeugbediening 'n paar studente en skoolgaande jeug as afgevaardigdes sal verwelkom en dat die Bybelse profesie sal waar word dat "julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien..." in die vergaderings van die kerk.

Tuesday, 1 October 2013

the state of die NGK

Daar is 'n storie wat Martin Seligman vertel wat my telkens help om te dink oor hoe goed in die kerk gaan. Dis 'n kort stukkie dialoog tussen Seligman en 'n joernalis in die tyd wat hy voorsitter was van die American Psychological Association, en moet in Engels oorvertel word. Die joernalis is op soek na 'n kort clip vir 'n nuusberig.

Joernalis: Professor Seligman, in only one word, what is the state of psychology in America today?
Seligman: Good.
Joernalis: Mmm, that won't do. Let's try this again. Professor Seligman, in only two words, what is the state of psychology in America today?
Seligman: Not good.
Joernalis: Mmm, that won't do. Let's try this again. Professor Seligman, in only three words, what is the state of psychology in America today?
Seligman: Not good enough.

In die kerk antwoord ons op verskillende tye seker maar op al hierdie verskillende maniere. Dit hang af hoeveel tyd jy het om te antwoord, vir wie jy skryf, en watse belewenisse jy in die kerk gehad het.

Ek ken baie mense wat dink dit gaan goed in die NG Kerk, en dat die manier waarop 'n vergadering soos die Algemene Sinode (en dalk is "soos" onvanpas hier, want dit is seker 'n redelike unieke vergadering in die kerk) gehou word goed is. Hulle onthou dae van pakke en dasse, dae waarin jong predikante nie mag gepraat het op sinodes nie, en definitief nie na 'n Algemene Sinode afgevaardig sou word nie. Hulle vertel die stories van hoe die kerk tog in die land betrokke is by verskeie goeie projekte, hoe daar besluite geneem word wat 'n paar jaar terug as onmoontlik beskou word. Dit gaan goed in die NG Kerk. Dit gaan goed by Algemene Sinodes.

Ek ken baie mense wat eenvoudig weet dat dit nie goed gaan met die NG Kerk nie, en ook nie met die Algemene Sinode nie. Hulle kan horror stories vertel van kerkrade wat bloot weier om vroue op hulle kansels toe te laat, van dominees wat so behep raak met mag dat daar geen teken van wat meeste van ons sou dink kenmerke van 'n pastor behoort te wees oorbly nie. Hulle weet van talle besluite wat die kerk verkeerd verwoord, of bloot net oor blatant verkeerd is.

Meeste van die tyd voel ek not good enough. Ons kan beter. En vul maar in wat die dinge is waarop kan beter kan doen. Maar ek kies not good enough omdat ek nogals potensiaal raaksien, en omdat ek oortuig is dinge beweeg in 'n goeie rigting.

Ek moes dalk eers 'n lang blogpost geskryf het oor hoe ek die Algemene Sinode sien sodat hierdie kan sinmaak. Maar kort opmerkings moet nou maar die ding doen.

Ek dink nie enige besluite van die Algemene Sinode gaan die land omkeer nie. Ek is nie eens seker dit is waarvoor Algemene Sinodes daar is nie. Die sinode gaan praat (baie praat, en eintlik dink ek nog te min praat). Die sinode gaan goed verwys vir verdere studie (ons kan gerus meer studeer in die kerk). Die sinode gaan 'n general feel gee vir waar ons is, en dalk vir wat dit volgende stappie is wat ons gaan gee. Natuurlik gaan besluite ignoreer word deur party, en die vreemde van hierdie ding wat ons kerk noem is dat ons so half verwag dat party moet teruggaan en die sinode moet gaan ignoreer, sodat ons by 'n volgende geleentheid 'n paar stappies kon skuif in die general feel vir waar ons is.

That's it. As ons verwag dat die sinode se besluite die kerk oornag gaan verander gaan ons teleurgestel wees. As ons verwag dat die sinode goed gaan besluit wat nog nie in die hart van die kerk leef nie gaan ons teleurgestel wees. As die sinode vir ons 'n prentjie gaan gee van waar ons is en wat die volgende stappie is wat ons moontlik moet neem gaan baie van ons waarskynlik sê not good enough, maar dalk sal ons byvoeg, but we're getting there.

Dis tog deels hoekom ek nog hier skryf, omdat ek glo dat we're getting there. Te stadig. Nie met groot wonderwerke nie. Maar tog. As geregtigheid is waarvoor ek soek, dan het die kerk ongelukkig nie die bus verpas nie, want die bus van die stryd vir geregtigheid is ongelukkig nie so vinnig in hierdie wêreld nie. Maar die vraag of die kerk hierdie bus meer effektief help loop bly vir my op die weegskaal. Ons doen nog nie goed genoeg nie. Dalk doen ons volgende week 'n bietjie beter.