Die gesprek oor homoseksualiteit moet dringend heropen word.
Maar dit gaan nie.
Nogsteeds nie.
Weer nie.
Laas jaar is 'n voorstel vir die hersiening van die NG Kerk se 2007 besluit oor homoseksualiteit deurgestuur (beskikbaar hier). Die hersieningsvoorstel, wat onderteken is deur 26 NG Kerk-lidmate, vra (pleit, by tye) dat die besluit oor homoseksualiteit in hersiening geneem word, en stel voor dat (1) erkenning gegee word aan die permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag, en dat (2) homoseksuele gelegitimeerdes (sonder voorwaardes, soos selibaatskap) toegelaat word tot die predikantsamp.
Wat beteken dit?
Dit beteken dat erkenning gegee word aan homoseksuele verhoudings, insluitend diegene wat geroep voel tot die bediening, en nie slegs aan homoseksuele oriëntasie of homoseksuele individue nie. Die gemeenskaplikheid van die kerk word hierdeur, per slot van rekening, aangespreek, aangesien die kerk meer is as 'n toevallige versameling van individue met hulle eie (seksuele) oriëntasies en lewens.
Dit beteken dat studente wat gay en in 'n permanente verhouding is nie uitgesonder word wat seksueel-etiese vereistes vir legitimasie aanbetref nie (want regtigwaar, waarom word selibaatskap nie óók van ongetroude, heteroseksuele studente vereis nie?), en dat die kerk daarom 'n met 'n dubbelstandaard funksioneer.
Dit beteken dat die kuratoria nie in 'n onmoontlike posisie geplaas word, waarin hulle as't ware as polisie-beamptes beskou word van wie alles weggesteek en voor wie alles ontken moet word, nie. Asof dit nie erg genoeg is nie word die kuratorium, veral in die geval van homoseksuele studente, ook die regtersbank wat 'n oordeel moet fel oor gay studente wat in verhoudings is.
Dit beteken dat studente en hele klasse nie in 'n onmoontlike posisie geplaas word, deurdat hulle bewus mag wees van gay klasmaats wat in verhoudings staan, en daardeur nie voor 'n keuse gedwing word: óf besluit om stil te bly, óf besluit om dit aan die kuratorium bekend te maak. Die impak hiervan op onderlinge (vertrouens)verhoudinge tussen studente en binne klasse is, om die minste te sê, totaal verwoestend.
En hierdie alles is nie die móóntlike implikasies van die lomp besluit van 2007 nie. Dit is die wérklike implikasies; dit wat jaar na jaar in teologiese fakulteite - vanjaar weer - gebeur. Die 2007 besluit mag 'n kompromie-besluit gewees het op 'n gegewe stadium, en dit mag as 'n soort uitweg gesien gewees het op daardie punt, maar dit is dit nie meer nie. Dit is nie meer genoeg nie. Dit is skadelik vir verhoudinge binne klasse en fakulteite, met die kuratoria, binne die kerk, en uiteraard ook buite die kerk.
Nou is ons op 'n punt waar die besluit hersien kan word. Al die interne, korrekte, kerklike prosesse is gevolg om die punt op die agenda te laat dien. En die prosesvoorstel oor homoseksualiteit is uiteindelik bekend gestel.
Die aanbeveling wat gaan dien (beskikbaar hier) is dat die Algemene Sinode (1) kennis neem van die verwikkelinge rondom die gesprek oor homoseksualiteit maar dat dit (2) weereens na die taakspan verwys wat met leer en aktuele sake omgaan. Die aanbevelings wat die taakspan gaan maak sal dien by die volgende sinodesitting, oor twee jaar.
Maar dit is geensins 'n voldoende antwoord nie. Inteendeel, dit laat 'n paar ongemaklik vrae by my ontstaan.
Hoe is dit moontlik dat ons dit wéér na 'n taakspan wil verwys? Dat ons nie 'n gesprek hieroor toe wil laat by volgende week se Algemene Sinode nie? Is dit omdat ons nie elke laaste implikasie van 'n hersiene besluit, of selfs 'n gesprek hieroor, kan peil nie? Is dit egter die punt? Of is daar belangriker sake op die agenda, soos Belhar en kerkeenheid? Tog, kan ons met 'n integriteit as kerk praat oor kerkeenheid en Belhar, en bowenal oor menswaardigheid, as ons nie 'n gesprek wil voer oor homoseksualiteit nie?
Hoe is dit moontlik dat ons nogsteeds nie gereed is, weer nie gereed is, om die 2007 besluit in hersiening te neem nie?
Dalk is ek te dom om hierdie goed te verstaan. Of dalk is ek te jonk om hierdie goed te verstaan.
Ek wil leerbaar wees, en daarom woon ek ook volgende week se Algemene Sinode by as waarnemer.
Sol iustitiae illustra nos.
Nadia Marais
Daar is seker ruimte vir oordrywing wanneer ons 'n punt probeer maak, maar ek is bietjie onseker oor wat die doel is van die lyn van "die kerk wil nie eens gesprek toelaat oor homoseksualiteit nie". Daar is twee voorstelle, en dit is oop vir gesprek soos met enige ander voorstel. Maar nie net dit nie, dit is geskeduleer as een van die verhelderende gesprekke (), wat beteken dat daar bewustelik juis heelwat meer ruimte vir gesprek gemaak word hieroor as oor meeste van die ander verslae. Gaan kyk ook na die voorgestelde dagindeling. Alhoewel daar nie 'n gedetaileerde program is nie (omdat ons nie weet hoe lank oor wat gepraat gaan word nie), is die aantal items wat per sessie gelys word nogals 'n aanduiding van hoeveel gesprek oor hierdie item verwag word. Behalwe as daar 'n baie lang debat oor die ATR of Moderamen verwag word, lyk dit my of daar nogals ruimte gemaak word vir meer gesprek oor hierdie punt as oor heelwat ander.
ReplyDeleteGreat stuk Nadia. Dalk is ek sinies maar ek hou nie my asem op nie. Nie meer nie. My voorspelling is hier kom nóg 'n taakspan. Nóg "studie". Die 2011 sinode het die 2007 besluit dat gay predikante selibaat moet wees terug verwys. Die Moderatuur is aangestel om ondersoek te doen en het dit na 'n kommissie gestuur. Ek verstaan die kommissie se verslag is nou nie juis iets om oor huis toe te skryf nie maar ek het dit nog nie self onder oë gehad nie.
ReplyDeleteEk wens hulle het maar net gaan kers opsteek by Regter Albie Sachs wat die volgende gesê het in 'n uitspraak oor selfde geslag verhoudings.
a democratic, universalistic, caring and aspirationally egalitarian society embraces everyone and accepts people for who they are. To penalise people for being who and what they are is profoundly disrespectful of the human personality and violatory of equality. Equality means equal concern and respect across difference. It does not presuppose the elimination or suppression of difference. Respect for human rights requires the affirmation of self, not the denial of self. Equality therefore does not imply a levelling or homogenisation of behaviour or extolling one form as supreme, and another as inferior, but an acknowledgement and acceptance of difference. At the very least, it affirms that difference should not be the basis for exclusion, marginalisation and stigma. At best, it celebrates the vitality that difference brings to any society.
Kon nog nooit verstaan hoekom die kerk vir individue wil voorskryf vir wie hulle lief mag wees nie. Die vermetelheid! Wat doen dit aan my of watter skade aan enigiemand as een 'n ander liefhet - wie ook al?
ReplyDelete