Ek het vir lank myself weerhou daarvan om deel te neem aan die debat oor
die Algemene Sinode se komende gesprek oor homoseksualiteit. Ek skryf
hierdie ook maar versigtig, maar ek skryf omdat ek hoop dat die gesprek op die
sinodevloer anders gaan loop as die gesprekke wat ek op facebook gesien het.
Dit behoort.
Eerstens moet ek dalk sê wat ek in die debatte gehoor het (en wat ek
gehoor het reflekteer natuurlik na wie ek geluister het, ek weet daar is 'n
ander stem in die kerk, maar ek kom minder in daai kringe). Ek hoor twee baie
negatiewe standpunte:
Die mees algemene is dat die kerk nou dadelik 'n besluit moet neem, en
nie weer 'n kommissie moet aanwys nie. Ralph Barnard, wat 'n bekende stem in
hierdie debat is, stel dit so:
"Hoop dat die komende NGK Sinode nie dwaas sal wees om "verder te studeer" oor die gaysaak nie. Wat nou nodig is, is volledige aanvaarding of totale afwysing van homoseksuele verhoudings. Grys areas bestaan nie hieroor nie."
Daar is skynbaar nogals 'n paar mense wat met hom saamstem.
Die ander ding wat ek hoor is 'n uiters negatiewe reaksie omdat die
Algemene Sinode nie "gesprek" of "bespreking" wil toelaat
nie. Die eerste plek waar ek die idee teëgekom het is in die aanhaling van
Nadia in Jean se artikel
in Rapport.
Kom ek begin by die laaste punt. Daar gaan gesprek wees by die sinode.
Daar was gesprekke nadat die brief en voorstel ontvang is (ja, die gesprekke is
dalk 'n kommissie genoem, maar ek ken amper al daai individue en ek weet hulle
het actually met mekaar gepraat), daar is 'n verhelderende gesprek geskeduleer
hieroor by die sinodesitting (soos met alle ander "groot" onderwerpe op
die agenda), en die sessie waarin die voorstelle gaan dien lyk vir my redelik oop, soos wat gemaak
word wanneer daar 'n lang gesprek verwag word. Natuurlik kan enige voorstel
sonder gesprek deurgestem word, maar die mense wat die program bepaal het se
raaiskoot is lyk my dat daar baie gesprek oor hierdie onderwerp gaan wees.
Die eerste punt van kritiek is dat daar 'n besluit geneem moet word. Soos
met alle sulke versoeke aan enige vergadering gaan dit selde eenvoudig daaroor
dat daar sommer enige besluit geneem moet word. Sulke versoeke beteken eintlik
daar moet 'n spesifieke besluit geneem word. Op party plekke is die uitroep
duidelik dat die besluit wat geneem moet word gevind word in die gewysigde
voorstel (p25 van die PDF wat deur 26 lidmate (meeste van hulle teoloë)
deur die moderamen van Wes-en Suid-Kaapland aangestuur word.
Op ander plekke is ek nie seker nie. Die beskrywingspunt vra immers nie
dat die Algemene Sinode nou finaal klaarpraat nie. Die versoek is dat sekere
stappe geneem word (verwysings na 'n selibaat lewe vir predikante weggeneem
word en erkenning gegee word aan 'n permanente verhouding van 'n unieke aard),
maar vra self dat daar nog verder gepraat word na hierdie sinode:
"gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen"
Iewers is daar dus skynbaar 'n derde voorstel wat sê: "ons het nou
klaar gepraat, dit is wat die NG Kerk sê, en dis nie nodig dat daar weer
hieraan aandag gegee word nie". Niemand het egter daai voorstel ingestuur
nie. Dalk kom dit van die vloer af.
In die gesprek wat plaasgevind het tussen die ontvang van die
beskrywingspunt en die moderamen se alternatiewe voorstel, is daar nog 'n paar
goed geflag wat nie in die beskrywingspunt van
lidmate van Wes-en Suid-Kaapland genoem word nie. Hierdie beskrywingspunt erken dat daar gedink moet
word oor "hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan
voldoen", maar die gesprek na hierdie beskrywingspunt maak dit duidelik
dat daar nog goed is waaroor gedink moet word: hoe dink ons oor kinders wat
deur homoseksuele pare grootgemaak word en spesifiek oor hulle doop en
pastorale begeleiding? Om hieroor te dink aanvaar egter dat daar permanente
homoseksuele verhoudings is waarbinne kinders grootgemaak word.
Daar is ook 'n groter gesprek: die gesprek wat kerke reg oor die wêreld
voer, en die moderamen se voorstel is dat die NG Kerk nie alleen nie, maar saam
met ander hieroor moet praat.
Die dag wat ons 2007 se besluit geneem het, het baie van ons besef dat
die implikasies is dat ons gemeentes en kerkrade nou gelos word om
self te besluit of hulle ruimte maak vir homoseksuele verhoudings. Ons het
natuurlik ook besef gemeentes en kerkrade kan die teenoorgestelde doen, en een
van die gemeentes in die ring waar ek was het die geleentheid aangegryp om te
verklaar dat aangesien die Algemene Sinode nou gesê het gemeentes moet besluit,
besluit hulle "nee".
Alhoewel 2007 op papier gesê het "nee" vir verhoudings, dink
ek punt 8 se implikasie was dat ons eintlik maar die deur oopgemaak het dat
gemeentes uit die kas uit kan kom (excuse the pun) en openlik erken dat hulle
hulle gay lidmate in permanente verhoudings ondersteun, ook op die kerkraad
verkies, en dat hulle dit doen omdat die kerkraad hulle diskresie gebruik het
om die verskille oor homoseksualiteit in liefde te hanteer. Ons het dit ook
gedoen deur predikante uit te sonder vir 'n selibaat lewe, en met die stilte
eintlik te erken dat ouderlinge en diakens en lidmate in permanente verhoudings
kan wees. Ja, dit was 'n kompromie, dit was dubbelsinnig, daar skemer 'n groot
stuk ongemak deur, maar tussen al die interne spanninge deur het ons dinge so
bietjie oopgemaak.
Ek dink die twee voorstelle wat voor die sinode dien erken beide dat
daar reeds baie homoseksuele lidmate in permanente verhoudings in ons gemeentes
is. Ek dink ook die twee voorstelle erken beide dat die kerk ernstig moet praat
oor die implikasies hiervan, oor hoe hierdie verhoudings binne die Christelike
tradisie sal lyk, wat ons met vrae oor die doop moet maak (weereens gaan dit
nie so erg oor toestemming nie, daar is al 'n paar sulke dope in die kerk gewees) en wat
dit beteken vir pastorale begeleiding.
Ek dink ons gaan mekaar help as die Algemene Sinode erken dat daar
eintlik 'n groeiende konsensus bestaan dat "daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan
bestaan". Ek sê dit omdat dit is wat ek dink in gemeentes leef, voor enige verslae. Kom ons erken bloot net wat reeds daar is. Aan die ander kant dink ek ons sal mekaar help as ons ophou met
hierdie "alles of niks" benadering, en dat ons nog vir lank gaan praat oor wat die
implikasies is vir ons pastoraat, jeugbediening en wat nog als. As ons dit erken beteken dit immers nie dat ons presies weet wat dit beteken nie. Ek dink ons kan oopmaak, en steeds ruimte maak vir
aanhou praat.
So waarom vervang ons nie 1.5.2.1 van die moderamen se voorstel
met punt 2 van die beskrywingspunt uit Wes-en Suid-Kaapland nie? Ons erken
permanente verhoudings van 'n unieke aard, kan selfs verder
dink oor wat hierdie unieke aard is, en besef dat ons nou moet ernstig praat
oor wat hierdie realiteit in ons gemeentes beteken.
Dan sal ek hoop dat die kerk 'n baie bewustelike proses moet begin om met
homoseksuele lidmate in gesprek te gaan, en saam met hulle te dink oor wat in die kerk moet gebeur, en nie oor hulle nie.
Omdat ek amper almal op daai ad hoc kommissie ken waarna verwys is hierbo, weet
ek ook dat dit 'n kommissie van heteroseksuele persone was, en daar is tog geen
manier waarop ons so kan voortgaan nie. Een ding wat ons dan saam met
homoseksuele lidmate moet bedink is wat hierdie permanente verhouding van 'n
unieke aard beteken.
Op 'n totaal ander manier kan ons dalk oorweeg om die VGKSA se 2012 besluit te onderskryf. Ek dink hulle het 'n baie beter besluit op die tafel gesit as die NG Kerk.
Hier gaan ek stop. En ek besef deur hier te stop antwoord ek nie die eintlike wit olifant nie: homoseksuele predikante in permanente verhoudings. Dalk moet ons net erken dat punt 7 nie werk nie (ek het 'n vermoede daar is ook 'n redelike konsensus dat hierdie tipe inkonsekwentheid ons nie help nie), en dat die Algemene Sinode ATLAS versoek om riglyne vir die legitimasie van homoseksuele predikante daar te stel. Ek sê dit omdat ek vermoed dat hierdie die punt is waarop ons nog gaan sukkel om mekaar te vind. Maar dalk kan die Algemene Sinode ons egter weer verras met 'n manier waarop ons regkry om mekaar te vind.
Ek dink en gesels graag verder saam.
Cobus, ek kies my woorde baie selektief en hou dit so bondig as moontlik. Ek is dankbaar vir jou bereidwilligheid om die groot taak aan te vat om iets oor die saak te skryf. Ek woon die afgelope jaar in Europa en ek moet erken dat dit vir my bevrydend was in terme van die kerk verstaan en - verhouding teenoor homoseksuele persone. Ek het vriende en vriendinne wat homoseksueel is en ek is seker dat hulle saam met jou standpunt sal stem van saam-in-gseprek wees teenoor praat-oor-hulle. Ek deel graag 'n interessante voorbeeld van 'n belewenis oor die gesprek-saam-met-hulle. My vriendin (meisie) het 'n paar weke gelede 'n groep homoseksuele persone genooi om vrae te beantwoord wat haar belydenis klas (14-16 jariges) het. Die klas het voor die tyd vrae bespreek en die vrae is ook voor die tyd aan die berydwillige homoseksuele persone gegee. Gedurende die gesprek tussen die jongmense en die homoseksuele persone het daar baie nuwe verstaan op baie verskillende vlakke gekom. Een van die teersake was die feit dat die homoseksuele persone jare gelede deur die kerk verwerp is en steeds geen verhouding met die kerk het nie (Al is die kerk in Europa deesdae baie meer oop en ontvanklik vir homoseksuele persone).
ReplyDeleteMy gevoel is dus dat indien daar gesprekke gevoer word en daar nie 'n antwoord gevind word nie, moet die persone wat oop is vir verhoudings bou, of dan "gesprekke-saam-met-hulle" moet kyk na rekonsiliasie, heropbou en restitusie. Ek verstaan dat die besluit by die Algemene Sinode baie ander areas dek as slegs die "reg" of "verkeerde" sy van homoseksualiteit, maar of ons dit wil weet of nie, solank as wat ons van dié mense praat en nie met hulle nie maak ons gesprekke seer en dit gaan baie van ons vra om die verhoudings weer op te bou.
Ek sluit graag af met die woorde van 'n Pastoor Steven Larson van die Evangeliese Lutherse Kerk in Genève: "Indien ons 'n lyn trek tussen ons en die ander, staan Jesus altyd aan die kant van die ander". Ek hoop en bid vir die regte besluite en openheid teenoor die ander.