Die prosesvoorstel oor
homoseksualiteit dat die Algemene Sinode (AS) nie die onreg aan gay
mede-gelowiges sal bespreek nie is ’n tragedie.
In die besluit om “verder
te besin” skuil daar ’n houding wat tans die kerk se getuienis op vele terreine
skade aandoen. Die veronderstelling dat
daar in “verdere studie” antwoorde
gevind kan word, dat deur die saak in diepte (weer!) te ondersoek groter sekerheid sal kom, is ’n hartseer
miskenning van waaroor die sogenaamde “gay-kwessie” werklik gaan en ’n miskenning
van die eie aard van die kerk van Christus.
Die kerk, en selfs die
AS van die NG Kerk, het geen voorreg tot antwoorde op moeilike etiese vrae
nie. Studie stukke dra waarde en die
kerk sal altyd ’n verantwoordelikheid hê om goed ingelig te wees waar groot
besluite ter sprake is, maar daar sal altyd grense wees aan wat ons weet, daar
sal altyd onsekerhede wees. Kortom, die
verwerping van gay mede-gelowiges is nie ’n probleemstelling wat opgelos kan
word nie. Dit is nie ’n “kwessie” waarop
meer inligting dalk helderheid kan bied nie.
Dit is nie ’n vraag oor verstaan
of misverstaan nie. Wat nou, hier
voor die AS te staan (moes) kom, kan nie met meer deeglike eksegese of deurbrake
in wetenskaplike navorsing verklaar en uitgeklaar word nie.
Buitendien, is dit ons
roeping as kerk? Is dit die AS se roeping
om, as ’n belangrike uitvoerende gestalte van die NG kerk in Suid-Afrika, ten
alle koste (ten koste van geregtigheid) vir sekerheid
te soek? Ons, die kerk, is nie geroep om
ten alle tye sekerheid na te jaag nie.
Die kerk is die liggaam van Christus en word geroep om telkens weer, in
sekerheid en onsekerheid, gestalte te gee aan hierdie eie aard. Moet ons nie in woord en daad verkondig dat
gay-wees en straight-wees nie die laaste woord oor ons is nie? Dat my (en my ouers se) enigste troos nie is dat
ek “darem nie gay is nie”, maar dat ek, ook my (gay) liggaam, aan my getroue
verlosser Jesus Christus behoort en dat ek deur die Heilige Gees gewillig
gemaak word om voortaan vir Hom te lewe? Die liggaam van Christus is besig om
mede-gelowiges, kinders van God, van hierdie troos te vervreem en gaan dit nou (ten
minste) vir ’n verdere twee jaar so voortsit.
Dit gaan nie maar net
oor verstaan en misverstaan nie. Woorde is mag. Die AS se woorde dra baie mag en by die
Sinode van 2013 word gay mede-gelowiges weer ontmagtig. Deur die AS se stilswye
word daar dalk nie ’n duidelike boodskap oorgedra nie, maar ’n duidelike magsdaad word teen alle gay-paartjies en
alle gay predikante en voornemende predikante uitgevoer.
Besef die AS nie dat om “verder te besin”, selfs vir goeie redes soos “beter verstaan”, “meer
helderheid en sekerheid”, ’n politieke
magsdaad is nie? Of, waag ek om dit te
sê: besef hulle dit dalk al te goed? So goed dat ’n kwesbare hart van vlees
ingeruil moes word vir ’n meer duursame hart van klip?
Net wanneer ek dreig o finaal moed op te gee lees ek jong mense soos die en baie ander se goed en skep weer 'n asemteug moed vir die kerk se toekoms. "Besef die AS nie dat deur “verder te besin”, selfs vir goeie redes soos “beter verstaan”, “meer helderheid en sekerheid”, ’n politieke magsdaad is nie? Of, waag ek om dit te sê: besef hulle dit dalk al te goed? So goed dat ’n kwesbare hart van vlees ingeruil moes word vir ’n meer duursame hart van klip?"
ReplyDeleteThe AS should be held accountable for its silence. It should take note that we "see", understand and can interpret its (in)action. We insist that this be a topic of discussion this year and failure to do so on the AS's part should be seen as a gross failure and shortcoming. It should be possible for us, the members of the church, to neutralise this act of power and show it up to be the impotence that it actually is.
ReplyDelete