Tuesday, 1 October 2013

the state of die NGK

Daar is 'n storie wat Martin Seligman vertel wat my telkens help om te dink oor hoe goed in die kerk gaan. Dis 'n kort stukkie dialoog tussen Seligman en 'n joernalis in die tyd wat hy voorsitter was van die American Psychological Association, en moet in Engels oorvertel word. Die joernalis is op soek na 'n kort clip vir 'n nuusberig.

Joernalis: Professor Seligman, in only one word, what is the state of psychology in America today?
Seligman: Good.
Joernalis: Mmm, that won't do. Let's try this again. Professor Seligman, in only two words, what is the state of psychology in America today?
Seligman: Not good.
Joernalis: Mmm, that won't do. Let's try this again. Professor Seligman, in only three words, what is the state of psychology in America today?
Seligman: Not good enough.

In die kerk antwoord ons op verskillende tye seker maar op al hierdie verskillende maniere. Dit hang af hoeveel tyd jy het om te antwoord, vir wie jy skryf, en watse belewenisse jy in die kerk gehad het.

Ek ken baie mense wat dink dit gaan goed in die NG Kerk, en dat die manier waarop 'n vergadering soos die Algemene Sinode (en dalk is "soos" onvanpas hier, want dit is seker 'n redelike unieke vergadering in die kerk) gehou word goed is. Hulle onthou dae van pakke en dasse, dae waarin jong predikante nie mag gepraat het op sinodes nie, en definitief nie na 'n Algemene Sinode afgevaardig sou word nie. Hulle vertel die stories van hoe die kerk tog in die land betrokke is by verskeie goeie projekte, hoe daar besluite geneem word wat 'n paar jaar terug as onmoontlik beskou word. Dit gaan goed in die NG Kerk. Dit gaan goed by Algemene Sinodes.

Ek ken baie mense wat eenvoudig weet dat dit nie goed gaan met die NG Kerk nie, en ook nie met die Algemene Sinode nie. Hulle kan horror stories vertel van kerkrade wat bloot weier om vroue op hulle kansels toe te laat, van dominees wat so behep raak met mag dat daar geen teken van wat meeste van ons sou dink kenmerke van 'n pastor behoort te wees oorbly nie. Hulle weet van talle besluite wat die kerk verkeerd verwoord, of bloot net oor blatant verkeerd is.

Meeste van die tyd voel ek not good enough. Ons kan beter. En vul maar in wat die dinge is waarop kan beter kan doen. Maar ek kies not good enough omdat ek nogals potensiaal raaksien, en omdat ek oortuig is dinge beweeg in 'n goeie rigting.

Ek moes dalk eers 'n lang blogpost geskryf het oor hoe ek die Algemene Sinode sien sodat hierdie kan sinmaak. Maar kort opmerkings moet nou maar die ding doen.

Ek dink nie enige besluite van die Algemene Sinode gaan die land omkeer nie. Ek is nie eens seker dit is waarvoor Algemene Sinodes daar is nie. Die sinode gaan praat (baie praat, en eintlik dink ek nog te min praat). Die sinode gaan goed verwys vir verdere studie (ons kan gerus meer studeer in die kerk). Die sinode gaan 'n general feel gee vir waar ons is, en dalk vir wat dit volgende stappie is wat ons gaan gee. Natuurlik gaan besluite ignoreer word deur party, en die vreemde van hierdie ding wat ons kerk noem is dat ons so half verwag dat party moet teruggaan en die sinode moet gaan ignoreer, sodat ons by 'n volgende geleentheid 'n paar stappies kon skuif in die general feel vir waar ons is.

That's it. As ons verwag dat die sinode se besluite die kerk oornag gaan verander gaan ons teleurgestel wees. As ons verwag dat die sinode goed gaan besluit wat nog nie in die hart van die kerk leef nie gaan ons teleurgestel wees. As die sinode vir ons 'n prentjie gaan gee van waar ons is en wat die volgende stappie is wat ons moontlik moet neem gaan baie van ons waarskynlik sê not good enough, maar dalk sal ons byvoeg, but we're getting there.

Dis tog deels hoekom ek nog hier skryf, omdat ek glo dat we're getting there. Te stadig. Nie met groot wonderwerke nie. Maar tog. As geregtigheid is waarvoor ek soek, dan het die kerk ongelukkig nie die bus verpas nie, want die bus van die stryd vir geregtigheid is ongelukkig nie so vinnig in hierdie wêreld nie. Maar die vraag of die kerk hierdie bus meer effektief help loop bly vir my op die weegskaal. Ons doen nog nie goed genoeg nie. Dalk doen ons volgende week 'n bietjie beter.

Wie se wil geskied by sinodes?

Met vanjaar se algemene sinode voor die deur hang die vraag weer swaar in die lug:  wie se wil geskied by sinodes? Mense se wil of God se wil?

Op my Facebook-blad sê ʼn dominee die verskil tussen my artikel in Rapport oor die sinode en die werklikheid is dat hy al by genoeg sinodes was om te weet wat die hoofdoel van sinodegangers is: om die wil van God te probeer verstaan in besluite, natuurlik met die wete dat ons verstaan nie onfeilbaar nie.

Die verskil tussen hierdie maatstaf en my artikel is volgens dié dominee dat ek alles toets aan wat mense daaroor gaan dink en of dit mense gaan beïndruk. So asof sinodes nie mense se reaksies in gedagte hou wanneer hulle oor sake besluit nie.

Ek was ook al by ʼn hele paar sinodes. Laat ons maar eerlik wees. Sinodes is dikwels ook maar nie veel anders as enige ander vergadering wanneer dit kom by die dryf van agendas nie, al sou ons dit dalk graag anders wou hê. Ons weet mos almal watter rol speel kerkpolitiek ook by sinodevergaderings.

Natuurlik word daar gestreef om God se wil te hoor. Dis mos waaroor kerk gaan. Maar daar word baie deeglik ook gevra wat "die mense" wil hê, wat die mense sal dink oor besluite, wat die mense sal doen, ens.
Baie besluite het min te doen met God se wil. Dit gaan dikwels daaroor of die mense dit sal aanvaar of nie. En dit word nie eers saggies gefluister nie maar sommer hardop gesê, merk een van my domineevriende tereg op.

Talle dominees het al hulle sinode-ervarings en frustrasies met my gedeel. Goed én sleg want sinodes is nie net goed of sleg nie. Een van die jonger geslag wat onlangs uit die bediening is vertel: “Ek was ontnugter oor hoedat die "agenda" van besluite eintlik vooraf reeds deurgepraat en selfs in gevalle besluit was. Maar meer frustrerend was hoedat "leiers" lank voor die sitting al beginne "campaign" het vir stemme om voor by die "bruidstafel" te sit! By die tweede sinode het 'n persoon langs my gesit wat in die afgelope jaar uitgevind het sy seun is gay....sy woorde sing nou nog in my ore...."hy is my seun, hy is lief vir die Here, ek weet.....hoe kan ek hom oordeel....God het hom mos lief, of nie?"

Voor die tyd bid almal saam dat God se wil geskied in die besluite. Dan word daar debat gevoer en uiteindelik word daar 'n besluit geneem deur daaroor te stem. Ek het nog nooit gesien dat die "verloorders" die besluit net so aanvaar as 'n gebedsverhoring dat God se wil geskied het nie. Die meeste van hulle sit maar later weer die geveg elders voort. Daarvan getuig die talle beswaarskrifte oor vorige besluite wat vanjaar weer voor die sinode dien. Mens is dus bietjie vroom as jy maak of sinodes ʼn plek is waar God altyd meer teenwoordig is as op enige ander vergadering.

Ds Barend Nel van Kraaifontein sê hy ervaar ʼn groot stuk apatie as hy luister na wat vanjaar by die sinode gaan gebeur. Hy verduidelik dit so: “Iemand het dit 'n ruk gelede goed gestel toe hy gesê het dat 'n mens die gesprekke by 'n NG sinode kan vergelyk met 'n groep mense wat dringend bespreek wat gedoen moet word, om seker te maak dat die NG Kerk 'n sekere bus haal. Daar moet gesorg word dat ons op 'n bus na die regte bestemming klim en nie dalk uitkom waar ons nie wil wees nie. Dit moet 'n veilige en betroubare bus, met 'n goeie bestuurder wees, want ons wil nie onsself en die lidmate se lewe in gevaar stel nie. 'n Mens moet rêrig bewondering hê vir die deeglike voorbereiding wat gedoen is en die erns waarmee die saak benader word.

Daar is net een probleem. Dit is dat die bus al gister by ons verby is.”

Baie lidmate en dominees raak eenvoudig nie meer opgewonde oor die sinode nie.  Nie kwaad nie en ook nie bly nie... net so 'n dowwe gevoel "comfortably numb" soos in Pink Floyd se "The Wall". Dit maak nie van sinodes iets wat noodwendig sleg is nie. Dit beteken nie die kerk moet ophou om sinodes te hou nie. Maar sinodes en sinodebesluite is nie onaantasbaar nie. Net soos die Bybel moet sinodes in konteks gesien word as ons die res van die kerk regtig in konteks wil sien. Dit is maar net nóg ʼn vergadering.




Sinode Konteks Perimeter Check

Ek bly in ‘n klein stadjie, ‘n straat of twee groter as PE, maar ongelukkig sonder ‘n see, in die suide van ‘n massiewe kontinent. Ek skryf in ‘n taal wat minder as ‘n vyfde hier in die suide van hierdie massiewe kontinent as moedertaal sien. Ek is deel van ‘n kerk wat kleiner word. Ek is lief vir die kerkie, sy mense en die kontinente waarvan ek net 30cm se grondoppervlak volstaan. 

Oor ‘n week sit daar ‘n ding genaamd die algemene sinode van hierdie klein kerkie. In hierdie week sal al die goed wat ek nou genoem dalk vergete raak. Mense sal opgeslurp word in hulle eie wêreld om sake van lewe en dood te besin. Party van die verteenwoordigers sal nie net hulle konteks vergeet nie, hulle sommer ook van hulleself vergeet. Al wat hulle sal onthou is om aan te hou praat.

Aan die einde van die groot vergadering van ‘n klein kerk in klein stadjie in die suide van ‘n massiewe kontinent sal daar ‘n paar besluite geneem word. Skokkend genoeg sal die son steeds ondergaan al het die klein klompie besluit die son mag nie. Mense sal steeds kerk toe gaan en soek vir die Here se wil, al besluit hulle die Here is eerder buite die diens te vinde. Daar sal self, jy mag my dalk nie glo nie, dominees en mense wees wat teruggaan na gemeentes en reg teenoor die besluite van die belangrike vergadering praat. Dit kan mos nie gehelp word nie, tensy die algemene sinode besluit om toekring sekuriteitskameras te installeer in alle gemeentes en skelmpies hierdie teëpraters te laat verdwyn.

Eens na ‘n belangrike vergadering in die parlement, of so ding, het man X ook die hele tyd van homself vergeet en onthou om te praat. Ou sagmoedige Neelsie het na die tyd hom te gegaan en hom vermaan: “Jy weet X, mens moet nie altyd die belangrikste persoon by die vergadering probeer wees nie. Onthou die belangrikste persoon by ‘n begrafnis is die man in die graf.” Ek hoop regtig die sinode word nie gekaap deur iemand wat die ding in begrafnis laat ontaard deurdat hulle te baie praat nie. By my hoop voeg ek ‘n gebed: “Here, laat asseblief vir almal spasie, selfs die wat ek dink verdien dit nie.” Ek weet dis ‘n onmoontlike gebed, maar dis mos hoekom ons bid, want dis onmoontlik. Die Here luister darem vir mens selfs al is jy in ‘n klein stadjie, met ‘n see, gedurende ‘n klein kerkie se algemene sinode.


- Calvyn du Toit