Saturday, 5 October 2013

Wat gaan dit wees?

Die week begin die #NGKerk se Algeme Sinode in Port Elizabeth se Veremarksaal. Ek was daar toe PW sy Rubicon toespraak in Durban se stadsaal gemaak het. Ek was ook  daar toe FW sy 2 Februarie toespraak in die parlement gemaak het. Albei geleenthede het 'n blywende impak op die land gehad.

Die is min of meer die NG Kerk se laaste kans om te kies. Wat gaan dit wees?

Ek sou 'n hele blog daaroor kon skryf maar Nadia het vir my gesê kort of lank maak nie saak nie. Soms is kort beter as lank. Ons kerk staan voor 'n kruispad. Wat gaan die keuse wees? Kom ons wag en kyk. 

Wat bely ons werklik?

Wanneer ons op ‘n Sondag eenstemmig bely ‘Ek glo in ‘n algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges’ waarop word ons oortuigings basseer?  Die geloofsbeleidenis speel ‘n sentrale rol in die identiteitsvorming van die Christelike gemeenskap. In die eerste instansie word geloof bevestig deur kern momente in die geloofsgeskiedenis te bevestig. In die die tweede instansie word ‘n universiële identiteit geskep waarin Christene hulself kan situeer. Wat gebeur egter wanneer die identiteit wat bevestig word verwrong word deur onbevoegde normatiewe raamwerke?  Serene Jones, ‘n professor by Union Theological Seminary, dink na oor hoe eienskappe toe ge-eien word aan individue. Sy meen dat individue word of deur middel van eienskappe wat as essentieel beskou word gekarakteriseer of deur middel van hul rol in die samelewing. Indien hierdie twee perspektiewe in gesprek gebring word met die kwessie rondom homoseksualiteit word die belydenis streng uitgedaag. Aan die een kant beteken dit dat die gemeenskap van die heiliges uitsluitlik deur ‘n heteronormatiewe raamwerk funksioneer en aan die ander kant dat die Christelike identiteit geskoei is op die demografie van die kerk. Altwee hierdie perspektiewe bekommer Serene Jones want identiteit gebasseer op ‘n suiwer normatiewe raamwerk kan eksklusief wees terwyl ‘n identiteit gebasseer op sosialisering kan lei tot ‘n te kort aan konkrete raamwerke. Serene Jones offer ‘n middeweg, ‘n identiteit geskep deur omvattende normatiewe raamwerke sowel as sosialisering. Die geloofsbelydenis wat elke Sondag bely word het die potentiaal om altwee hierdie rolle te vervul. Dit verg egter dat die Christelike gemeenskap erkenning sou moes gee aan ‘n normatiewe raamwerk gebasseer op ‘n identiteit gefundeer in Christus. Verlosser, opgestane en aan die regterhand van God. Aan die ander kant sou die geloofsgemeenskap uit hul sosialiserings norme moes beweeg om ‘n gemeenskap te skep wat gekarakteriseer word deur die demografie van die lidmate.  In die lig van die homoseksualiteits kwessie so wel as die perspektiewe van Serene Jones is wat die kerk bely verwronge. ‘n Christelike identiteit gebasseer op ‘n heteronormatiewe raamwerk funksioneer as ‘n uitsluitlike identiteit. Hierby vorm die sosialisering van die gemeenskap van die gelowiges as ‘n onrealistiese ideal wat onligetieme kriteria gebruik om te besluit ‘wat mag in’ en ‘wat mag nie in nie.’  Die Christelike gemeenskap word dus met ‘n uitdaging gekonfronteer, is ons Christelike idenititeit geldig indien dit gebasseer is op onlegitieme raamwerke of moet individue met ‘n alternatiewe seksuele orientasie (in die amp of kerkstoel) gesien word as integraal, selfs onlosmaakbaar, van die ware Christelike gemeenskap van heiliges?

So lyk ons vir die wêreld daar buite



Verstaan, misverstaan, en om die punt te mis



Die prosesvoorstel oor homoseksualiteit dat die Algemene Sinode (AS) nie die onreg aan gay mede-gelowiges sal bespreek nie is ’n tragedie.

In die besluit om “verder te besin” skuil daar ’n houding wat tans die kerk se getuienis op vele terreine skade aandoen.  Die veronderstelling dat daar in “verdere studie” antwoorde gevind kan word, dat deur die saak in diepte (weer!) te ondersoek groter sekerheid sal kom, is ’n hartseer miskenning van waaroor die sogenaamde “gay-kwessie” werklik gaan en ’n miskenning van die eie aard van die kerk van Christus.

Die kerk, en selfs die AS van die NG Kerk, het geen voorreg tot antwoorde op moeilike etiese vrae nie.  Studie stukke dra waarde en die kerk sal altyd ’n verantwoordelikheid hê om goed ingelig te wees waar groot besluite ter sprake is, maar daar sal altyd grense wees aan wat ons weet, daar sal altyd onsekerhede wees.  Kortom, die verwerping van gay mede-gelowiges is nie ’n probleemstelling wat opgelos kan word nie.  Dit is nie ’n “kwessie” waarop meer inligting dalk helderheid kan bied nie.  Dit is nie ’n vraag oor verstaan of misverstaan nie.  Wat nou, hier voor die AS te staan (moes) kom, kan nie met meer deeglike eksegese of deurbrake in wetenskaplike navorsing verklaar en uitgeklaar word nie.

Buitendien, is dit ons roeping as kerk?  Is dit die AS se roeping om, as ’n belangrike uitvoerende gestalte van die NG kerk in Suid-Afrika, ten alle koste (ten koste van geregtigheid) vir sekerheid te soek?  Ons, die kerk, is nie geroep om ten alle tye sekerheid na te jaag nie.  Die kerk is die liggaam van Christus en word geroep om telkens weer, in sekerheid en onsekerheid, gestalte te gee aan hierdie eie aard.  Moet ons nie in woord en daad verkondig dat gay-wees en straight-wees nie die laaste woord oor ons is nie?  Dat my (en my ouers se) enigste troos nie is dat ek “darem nie gay is nie”, maar dat ek, ook my (gay) liggaam, aan my getroue verlosser Jesus Christus behoort en dat ek deur die Heilige Gees gewillig gemaak word om voortaan vir Hom te lewe?  Die liggaam van Christus is besig om mede-gelowiges, kinders van God, van hierdie troos te vervreem en gaan dit nou (ten minste) vir ’n verdere twee jaar so voortsit.

Dit gaan nie maar net oor verstaan en misverstaan nie.  Woorde is mag.  Die AS se woorde dra baie mag en by die Sinode van 2013 word gay mede-gelowiges weer ontmagtig.  Deur die AS se stilswye word daar dalk nie ’n duidelike boodskap oorgedra nie, maar ’n duidelike magsdaad word teen alle gay-paartjies en alle gay predikante en voornemende predikante uitgevoer.

Besef die AS nie dat om “verder te besin”, selfs vir goeie redes soos “beter verstaan”, “meer helderheid en sekerheid”, ’n politieke magsdaad is nie?  Of, waag ek om dit te sê: besef hulle dit dalk al te goed?  So goed dat ’n kwesbare hart van vlees ingeruil moes word vir ’n meer duursame hart van klip?

Almal onder een kombers

My ouma het gesê dat jy met 'n glimlag kan gaan slaap as jou kinders onder een kombers toegemaak kan word.

Die verslae en aanvullende verslae wat tydens die sitting van die eerste "verkleinde" Algemene Sinode gaan dien en die kommentaar wat alreeds daarop gelewer is, het my baie aan my ouma - wat nou alreeds 25 jaar oorlede is - se sê-ding laat dink.

Johan Ernst (Dr) se kommentaar op Artikel 1 van die Kerkorde (Belhar 3) gee my hoop. Dis duidelik dat hy 'n greep op die problematiek rondom die kwessie het en benader dit op 'n manier waarop daar met hom saamgestem en saamgestap kan word.

Hopelik is dit werklik so dat ons naas ons herkoms uit en verbondenheid aan Europese bodem óók 'n ware inheemse kerk van Suidelike Afrika wil wees (p37). Dis - naas die inherente waarde daarvan - in hierdie lig dat die integrering van die Belydenis van Belhar in ons kerklike en gemeentelike lewe binne elke plaaslike gemeenskap aktueel is.

Die besluite rondom Artikel 1, Belhar, en talle ander word hopelik so geneem dat ons na afloop van die vergadering steeds onder een kombers toegemaak kan word. Veral die aanvaarding van mekaar se bona fides is hiervoor belangrik. Nie al die kerke in die gereformeerde tradisie het dieselfde belydenisse nie. Geloof - as die, sê maar sosiale gom, wat wat een persoon aan 'n ander verbind, die sosiale, eksterne gemanifesteerde, emosionele gedrag van lojaliteit, verbondenheid ("commitment") en solidariteit - is en bly dinamies. Ons kerklike eenheid moet inderdaad - soos wat Johan skryf - bokant konfessionele verdeeldheid uitstyg (p39).

Diversiteit en vryheid van gewete (p39) is alreeds vanaf op die laatste Paulus se tyd saam met verdraagsaamheid belangrike motiewe by God se kinders. Hopelik word onthou dat belydenisskrifte mensewerk "en daarom ook onderworpe aan die feilbaarheid van die mens" (p39) is en word persoonlike agendas nie gebruik om "ouma se kinders" onder die kombers uit te trek nie.

Dit bring ons onafwendbaar by die kinders wat baie graag onder Ouma se kombers wil slaap, maar deur van die kinders verhinder word. Kan daar regtig nóg gewag word om inklusiewe besluite oor "die gays" te neem? In ons navorsing en gesprekke hieroor is daar myns insiens geen inligting wat ons tot 'n ander "Aha!-belewing" as waar ons tans is gaan bring nie. Die Algemene kán en behoort met hierdie rondte eenmaal iets dappers te doen. Hoeveel kinders moet nog verkluim omdat ons hulle nie onder die kombers wat ons toevou wil hê nie?