Wednesday, 2 October 2013

Jeug: Ons neem kennis

Ek moet eerlik sê dat die verslae my teleurstel. Die terugvoer en verslae wat dien is: Kategese, Belydenisaflegging, Onderwys, #imagine 2014, 'n navorsing taakspan, 'n beoogde netwerk. Soos ek kerklike vergaderings ken, gaan daar na alle waarskynlikheid 'n presiese kopie van die verslag en agenda inhoud in die notule kom en al wat gaan bykom is: "Die vergadering neem kennis." Na alle waarskynlikheid geen bespreking, geen onderskeiding en geen verdere praktiese stappe nie.


Tot dusver is die lywigste verslag oor Jeugbediening binne die kerk dié van die kategese taakspan. Dit verklap die onderliggende oortuiging dat jongmense se plek in die kerk en daarom gemeentes, in die kategese is. Dit is ‘n verskuilde belydenis dat jongmense nie deel het (mag/ moet/ kan) aan die res van die lewe van die gemeente nie. Hulle is leë kruike wat gevul moet word met kennis, wat hulself moet verbind tot die gemeente en Kerkverband tydens belydenisaflegging en asseblief tog net weer terugkom na die NG Kerk nadat hulle studeer het.


Die gevolg, myns insiens is dat die AS keer op keer gaan rapporteer dat die jeug minder word, dat Kerkspieël se lang verduidelikings oor negatiewe geboortekoerse en sekularisasie op die tafel gegooi gaan word en dat die dag as prof. Malan Nel nie meer daar is om iets oor jeugbediening te sê nie, daar wynig iets anders gesê of gehoor gaan word. (Baie sinies, ek weet.)


Die raamwerk vir die taakspan vir kategese noem in punt 1: “…dat kategese slegs ’n onderdeel van geloofsontwikkeling uitmaak en sien toe dat hierde formele onderrig binne die raamwerk van ’n teologiese perspektief (inwyding en begeleiding van alle kinders en jongmense in die weg van die Here tot ’n lewe van dissipelskap) plaasvind.” Die belydenis van die taakspan is dus op teologies-teoretiese vlak in orde.


Die praktyk is egter nie hiermee belyn nie. Om een of ander rede is die fokus van die praktyk of kategese of entertaintment. My ervaring van Jeugbediening (9 jaar as voltydse jeugwerker) is dat die uitdagings waarmee die NG Kerk sit nie deur kategese, kampe en feeste aangespreek gaan word nie. Die kategese taakspan herken dit ook in hulle raamwerk, wanneer hulle noem dat “Wat vir volwassenes geld, geld net so vir kinders en jongmense.” en dat “(t)oegewyde en entoesiastiese ouers of huise…” nodig is vir jongmense se geloofsontwikkeling. Die taakspan se raamwerk en waardes fokus dan verder slegs op kategese.


Die praktyk is dat kinders en jongmense nie deel het aan die lewe van gemeentes nie. Jongmense veral is baie sterk ingestel op ervarings. ‘n Kategese-ervaring, maak nie saak hoe holisties dit is nie, stem meer ooreen met ‘n skool-ervaring, wat vir baie jongmense ‘n negatiewe ervaring is. 'n Fees-ervaring begin kwyn die Maandag daarna.


Een voorstel van my kant af is om vir jongmense te help om saam met Jesus te leef. Dietrich Bonhoeffer (Duits), Malan Nel (Suid-Afrikaans) en Andrew Root (Amerikaans) is almal oortuig daarvan dat dit binne die gemeenskap van gelowiges gebeur. Een van die grootste behoeftes van jongmense is juis dan ook na ‘n ervaring van opregte, liefdevolle gemeenskap. Die Algemene Sinode moet dus, volgens my meer aandag gee aan hoe gemeentes besin oor die praktyk van hul gemeenskaplike bediening (eredienste, sakramente, kleingroepe, feeste) en hoe hulle jongmense integreer en inbind in die gemeenskap deur hierdie praktyke. Hoe vestig gemeentes verhoudings tussen die volwassenes van die gemeente en die jongmense, buiten ‘n kategese groepleier/ fasiliteerder en buiten hul ouer(s)?


Ek sou daarom voorstel dat die Algemene Sinode langdurige studies deur die onderskeie teologiese fakulteite sal aanmoedig oor die stand van integrasie van jongmense in die lewe van die gemeentes, die verskillende praktyke wat gevolg word asook die gevolge daarvan.


Tweedens moet die AS ook asseblief kennis neem van dr. Braam Hanekom se voorstel dat daar 'n netwerk tot stand gebring moet word ter wille van jeugbediening. Die AS en dr. Braam Hanekom moet asseblief begin by die deur van die Kerklike Jeugbedienaars Vereniging, wat reeds 'n taamlike netwerk van voltydse jeugwerkers het. Hoewel hierdie netwerk se grootste aktiwiteit in die Wes-Kaap is, sal erkenning en ondersteuning van die AS se kant af help om dit uit te brei.


Ek bid dat die AS se notule meer sal wys by Jeugbediening as bloot "Die vergadering neem kennis." Ek bid ook dat gemeentes inspirasie en leiding sal kry uit die AS se besprekings, debat en Geestelike onderskeiding oor Jeugbediening. Ek bid dat die AS asook streeksinodes by hul volgende sittings, saam met die verslae van die taakspanne oor jeugbediening 'n paar studente en skoolgaande jeug as afgevaardigdes sal verwelkom en dat die Bybelse profesie sal waar word dat "julle seuns en julle dogters sal as profete optree; julle jongmense sal gesigte sien..." in die vergaderings van die kerk.

4 comments:

  1. Ag bliksem. Ek druk heeltyd iets op hierdie sleutelbord waarmee ek my comment delete. Postuur Cobus, lig daai gewrigte!
    Elkgeval, wil aansluit by die gesprek op facebook so paar dae terug.
    Ek dink nie ons weet wat om met daai lysie teoloë wat jy noem te maak nie. Wat ons wel met hulle gedoen het is om ons jeugkommissies toe te maak, omdat ons oortuig is dat jeug nie 'n aparte deel van die gemeente mag wees nie.
    Maar nou wonder ek, as jy jeugwerkers, die KJV, en 'n jeugnetwerk beklemtoon, erken dit nie maar dat ons nie kan regkry om jongmense volledig deel van die lewe van die gemeente te maak nie? Ideaal gesproke (as jy Malan Nel navolg, en ek glo nogals hy is reg), moet ons mos na ons verslae oor Belhar, kerkhereniging, armoede, Apostolicum en finansies kyk en telkens vra: Is jongmense ook hier deel van die kerk?
    Ek dink ons het 'n netwerk nodig, maar as dit deur jeugwerkerd en voltydse jeug-predikante volgesit gaan word (soos JONK was, ek was een van hulle), dan sit ons maar net die proses voort. Die ideaal (as ons hierdie teologiese lyn volg) is dat ons eintlik enige lys predikante daar kan sit, want jeugbediening is nie 'n spesialis-bediening nie, maar deel van alles waarmee die gemeente besig is.
    Praktyk is egter dat dit nie gaan gebeur nie, en dat dit nie wil werk nie. So daarom pleit ek vir 'n sterk jeug-kommissie (ag noem dit 'n netwerk as jy wil), maar wat op gemeentes werk. Hopelik sal hulle hulleself uit 'n job uit kan werk, want uiteindelik moet jeugbediening mos deel van alles word wat die kerk doen. Maar ek glo nie meer dat dit gaan gebeur nie.

    ReplyDelete
  2. Hier word 'n baie belangrike punt gemaak. Ek het reeds twee jaar gelede by n gemeente probeer aandring om jongmense deel van die bestaande erediens, sending ens kommissies te maak in plaas van om vir die jongmense te se daar is vir julle 'n kommissie, doen julle ding daar dan hoef ons grootmense nie na julle te luister nie. Allerhande verskonings soos dat hulle te besig is met skoolwerk en nie sal kan vergaderings bywoon nie het oral opgeduik. Al wat ek daardeur gehoor het was: "watter bydrae sal n kind tog nou kan lewer?"

    In die kerk, voel dit vir my, geld die ding van "kinders moet gesien word, maar nie gehoor word nie" nog baie sterk. Christi se realistiese uitkyk op die komende AS wat die jeugsake betref is duidelike bewys daarvan.

    Die mijoenrand vraag is: Gaan daar ooit enige jong (kinder) stemme op die vergadering kans gegee word om iets te sê en gaan mense bereid wees om eerlik daarna te luister?

    ReplyDelete
    Replies
    1. Rudolph, die skip draai stadig. Miskien kan ons op die volgende vergadering ten minste 'n student of twee se stem daar kry. Hopelik lees iemand van Universiteitsoord of Kruiskerk in Stellenbosch die post raak, kies 'n paar studente op hule kerkraad en kry hulle as afgevaardigdes by die volgende sinode?

      Delete