Thursday, 3 October 2013

Apartheid was die maklike jammer, nou vir die ideologie van die V-woord...



Hierdie oomblik in die NGK se geskiedenis is uniek. Dit is uniek, want vir die eerste maal in dié federasie se geskiedenis is die ideologie van die kerk duidelik leesbaar. Nou mag jy vra: “Wat van Apartheid?” Ek is die laaste ene om sê dat die ondersteuning van Apartheid, die NGK nie eindeloos skaam moet maak nie. Waar die konserwatiewe interpretasie korrek is, is dat Apartheid hoofsaaklik ‘n politiese projek was waarin die NGK bloot geglo het. Soos die Algemene Sinode nader kom, het ons te doen moet ‘n ander monster: Die NGK se geloofsprojek wat ‘n politiese uitwerking het.

Wat is hierdie ideologies geloofsprojek mag jy vra? Dit is die V-woord wat niemand oor praat nie: Voorstedelikheid of Suburbia. Hier gebruik ek uitdruklik Slavoj Zizek se idee dat ideologie juis nie ons uitgesproke projek is nie. Nee, ideologie moet eerder gedefinieer word, volgens Zizek, as: “ons doen dit, maar ons weet nie wat ons doen nie.” So lees ek deur die punte, verslae en voorstelle van die Algemene Sinode se agenda en dit stink van die sekuriteitsmuur van ons voorstedelik aspirasies. Gays, ja, maar net tot binne die palissade van ons gerieflike huis. Jeug, oulik, solank hulle darem die huisreëls ken by die etenstafel. Eenheid, goeie idee, solank hulle net nie saam met ons intrek nie (ja, in dieselfde huis, nie die agterkamer nie). Sosiale geregtigheid, dis mos Bybels, ek sal geld gee, op ‘n kommissie dien of selfs ‘n verslag skryf.

Die NGK sukkel al lank met die stad. In die eerste helfte van die 20ste eeu was die stad hoog op die agenda. Toe was die NGK kerk nog netjies verpak as ‘n plattelandse kerk. ‘n Kerk wat nog reg en verkeerd verstaan het. ‘n Kerk wat nog in dorpe kon waai, swaai en saai. ‘n Kerk wat die jeug op hulle plek kon sit. Dit was alles goed en wel toe die meeste mense nog op die platteland gebly het, maar helaas dis nie meer waar die meeste mense bly nie. Die meeste mense bly vandag in stede, en veral in ontwikkelende lande soos ons sin. Iewers het die NGK (en baie ander kerke) hierdie beweging gemis, hoekom?

Wanneer ek die vroeë dokumente van verstedeliking lees in die NGK klink dit baie soos ons Algemene Sinode se agenda: verstedeliking is goed, maar oppas vir die morele verval. Gaan na die stad toe en leef saam met verskillende mense, maar bly suiwer in julle volk. Dokument titels soos Kerk en Stad (1947) was dus misleidend. Dit moes eerder Kerk en (Voor)stad gewees het. Hier is dan die oorhoofse ideologiese dwaallering wat die NGK Algemene Sinode moet verwerp: Die Vae Vuur van Voorstedelikheid.

Die Vae Vuur van Voorstedelikheid glo in Eenheid as ‘n ideaal en sal selfs daarvoor stem, maar sorg dat al ons eredienste Afrikaans bly sodat ons darem ‘n suiwer volk kan bly in die stad. Die Vae Vuur van Voorstedelikheid sal dalk selfs instem tot gay dominees, maar seker maak dat nie een gemeente hulle beroep nie. Die Vae Vuur van Voorstedelikheid sal die jeug ‘n plek gee in die organisasie en sodoende seker maak dat hulle nie in die werklike strukture van  organisasie dien nie. Die Vae Vuur van Voorstedelikheid sê jammer vir Apartheid en maak dan seker dat hierdie Apartheid waarvoor ons jammer sê steeds agter ons palissades en mure kan voorgaan. Die stad vra egter ander vrae, vrae wat min te doen het met die Algemene Sinode se 2013 Agenda. Vrae wat nie tevrede is met ons Voorstedelike Vae Vuur nie. Dalk is dit die onuitgesproke ideologieë van ons Algemene Sinode wat Jesus aanspreek wanneer Hy van die kruis af sê: “Vader, vergewe hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.”

Ek kyk vir jou...

Daar is min dinge in die lewe so snaaks soos 'n kleuter wat 'n ouer na-aap nie. Ons almal ken die grappie van die gesin wat gaste kry en die mamma wat die kleuter vra om die tafel gebed te doen. Wanneer die kleuter vir die mamma sê sy weet nie wat om te bid nie, sê die mamma: "Bid net soos jy vir my hoor bid." Dan bid die kleuter: "Ag Here, hoekom het ek al hierdie mense genooi?"

Net so het ek en my 3 (amper 4) jarige dogtertjie die speletjie in die motor. Ek sal die tru-spieëltjie stel dat ek haar kan raaksien. Vir daardie tye wat dit so lyk asof sy aan die slaap wil raak, minder as 5 minute van die huis af, wanneer ek weet dit gaan groot oorlog wees om haar na daardie "power-nap" wakker te maak, hou ek haar wakker met die woorde: "Ek kyk vir jou." Later het dit ontaard in 'n speletjie. Sy sal uit die bloute in die kar vir my sê: "Ek kyk vir jou!" Die stemtoon en die gesigsuitdrukking natuurlik ooreenstemmend met myne. "Ek kyk vir jou" het my laat besef dat daar hordes ander goed ook is waarmee sy my dophou en waarin sy my na-aap, soms tot groot humor, soms tot groot konsternasie.

Op dieselfde manier kan ons dissipelskap definieer. Om 'n dissipel van Jesus te wees beteken om hom te na-aap. Dit beteken om na Jesus se optrede te kyk, dit in te oefen en toenemend dieselfde optrede te openbaar.

Baie lidmate van die NG Kerk kyk na die AS om hulle hiermee te help. Hulle het eintlik 'n saak aan met die verslae wat bespreek word. Baie van hulle krap kop wanneer "Kerkorde" en al die amptelike afkortings asook verskeie teologiese terme daarmee saamgaan. Hulle let wel op waaroor die AS alles praat en watter houding die media daaroor raaksien.

Van Jesus se mees uitstaande kenmerke is dat Hy mense kon help om te sien dat God elke lewende mens op hierdie aarde liefhet en hulle wil help om 'n heel lewe te leef: van goeie Jode, tot seksueel losbandige mense, tot skelm tollenaars en selfs Samaritane en Romeine. Dit is vir my insiggewend dat Jesus bietjie afkeur gehad het in godsdienstige debatte en veral die debatte wat bepaal of mense goed of sleg, in of uit was. Hy het geweldig baie tyd spandeer om mense lief te hê, veral die siekes en sondaars.

Mense gaan nie die helfte van die besprekings oor die kerk se missionale aard en roeping, klein gemeentes, die vroue lessenaar, jeugbediening, lidmaatbemagtiging, Hugenote Kollege, onderwys, die Belydenis van Belhar, die wysiging van die Kerkorde, Kerkhereniging, Seisoen van menswaardigheid, die sakramente, publieke getuienis, grondhervorming en landbou of die ander klomp sake vir bespreking verstaan of in belangstel nie. Vir elke lidmaat gaan daar 'n saak van belang wees en vir elke lidmaat gaan dit van belang wees dat daardie saak met erns hanteer word. Wat nou vir elke lidmaat gaan geld as erns is ook weer 'n ander saak.

Erns vir my gaan beteken dat elke saak op die agenda deur die AS met deernis, liefdevol en pastoraal (om Jean Oosthuizen se woorde in 'n ander plasing te leen) hanteer sal word om mense te help om heel te word. Daar is baie mense wat 'n duidelike, eenvoudige standpunt van die NG Kerk soek oor al die sake op die agenda (veral homoseksualiteit, Belhar en kerkeenheid, grondsake en die doop) en maak nie saak wat die NG Kerk sê nie, iemand gaan kwaad, hartseer en ontevrede wees; maar wanneer dit met deernis, liefde en pastoraal hanteer word gaan dit raak gesien word en kan mense begin gesond word.

Baie mense kyk na die NG Kerk se Sinode vergaderings om te weet hoe om as gelowige, ernstige, getroue dissipel van Jesus te reageer in verskeie kontekste. Hoe moet ek reageer oor ammoede, die regering se korrupsie of onderwys? Hoe moet ek reageer teenoor 'n gay of lesbiese persoon voor my? Hoe moet ek dink oor kwessies soor Belhar, kerkeenheid en grondhervorming? Die voorbeeld wat die AS stel is baie kere dit wat gemeentes op grondvlak doen.

Dit verbaas my dus glad nie dat mense in gemeentes die Sinodes (algemeen en streek) se voorbeeld volg en eindelose debatte, gesprekke en studies maak oor verskeie kwessies in die samelewing. Dit verbaas my glad nie dat gesprekke klinies, "objektief" en nugter gevoer word nie.

Ek bid dat gemeentes met deernis, liefdevol en pastoraal sal wees in hul gemeenskappe. Ek bid dat gemeentes minder sal praat, debatteer en studeer, maar meer sal kontak maak, liefhê en saam laste dra in hul gemeenskappe. Ek bid dus dat die AS kreatief sal word oor hoe om daarin die voorbeeld te stel, want: "Ek ky vir jou..."

Homoseksualiteit? Néé, maar ons probeer dalk volgende keer weer.

Die gesprek oor homoseksualiteit moet dringend heropen word.

Maar dit gaan nie.

Nogsteeds nie.

Weer nie.

Laas jaar is 'n voorstel vir die hersiening van die NG Kerk se 2007 besluit oor homoseksualiteit deurgestuur (beskikbaar hier). Die hersieningsvoorstel, wat onderteken is deur 26 NG Kerk-lidmate, vra (pleit, by tye) dat die besluit oor homoseksualiteit in hersiening geneem word, en stel voor dat (1) erkenning gegee word aan die permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag, en dat (2) homoseksuele gelegitimeerdes (sonder voorwaardes, soos selibaatskap) toegelaat word tot die predikantsamp.

Wat beteken dit?

Dit beteken dat erkenning gegee word aan homoseksuele verhoudings, insluitend diegene wat geroep voel tot die bediening, en nie slegs aan homoseksuele oriëntasie of homoseksuele individue nie. Die gemeenskaplikheid van die kerk word hierdeur, per slot van rekening, aangespreek, aangesien die kerk meer is as 'n toevallige versameling van individue met hulle eie (seksuele) oriëntasies en lewens.

Dit beteken dat studente wat gay en in 'n permanente verhouding is nie uitgesonder word wat seksueel-etiese vereistes vir legitimasie aanbetref nie (want regtigwaar, waarom word selibaatskap nie óók van ongetroude, heteroseksuele studente vereis nie?), en dat die kerk daarom 'n met 'n dubbelstandaard funksioneer.

Dit beteken dat die kuratoria nie in 'n onmoontlike posisie geplaas word, waarin hulle as't ware as polisie-beamptes beskou word van wie alles weggesteek en voor wie alles ontken moet word, nie. Asof dit nie erg genoeg is nie word die kuratorium, veral in die geval van homoseksuele studente, ook die regtersbank wat 'n oordeel moet fel oor gay studente wat in verhoudings is.

Dit beteken dat studente en hele klasse nie in 'n onmoontlike posisie geplaas word, deurdat hulle bewus mag wees van gay klasmaats wat in verhoudings staan, en daardeur nie voor 'n keuse gedwing word: óf besluit om stil te bly, óf besluit om dit aan die kuratorium bekend te maak. Die impak hiervan op onderlinge (vertrouens)verhoudinge tussen studente en binne klasse is, om die minste te sê, totaal verwoestend.

En hierdie alles is nie die móóntlike implikasies van die lomp besluit van 2007 nie. Dit is die wérklike implikasies; dit wat jaar na jaar in teologiese fakulteite - vanjaar weer - gebeur. Die 2007 besluit mag 'n kompromie-besluit gewees het op 'n gegewe stadium, en dit mag as 'n soort uitweg gesien gewees het op daardie punt, maar dit is dit nie meer nie. Dit is nie meer genoeg nie. Dit is skadelik vir verhoudinge binne klasse en fakulteite, met die kuratoria, binne die kerk, en uiteraard ook buite die kerk.

Nou is ons op 'n punt waar die besluit hersien kan word. Al die interne, korrekte, kerklike prosesse is gevolg om die punt op die agenda te laat dien. En die prosesvoorstel oor homoseksualiteit is uiteindelik bekend gestel.

Die aanbeveling wat gaan dien (beskikbaar hier) is dat die Algemene Sinode (1) kennis neem van die verwikkelinge rondom die gesprek oor homoseksualiteit maar dat dit (2) weereens na die taakspan verwys wat met leer en aktuele sake omgaan. Die aanbevelings wat die taakspan gaan maak sal dien by die volgende sinodesitting, oor twee jaar.

Maar dit is geensins 'n voldoende antwoord nie. Inteendeel, dit laat 'n paar ongemaklik vrae by my ontstaan.

Hoe is dit moontlik dat ons dit wéér na 'n taakspan wil verwys? Dat ons nie 'n gesprek hieroor toe wil laat by volgende week se Algemene Sinode nie? Is dit omdat ons nie elke laaste implikasie van 'n hersiene besluit, of selfs 'n gesprek hieroor, kan peil nie? Is dit egter die punt? Of is daar belangriker sake op die agenda, soos Belhar en kerkeenheid? Tog, kan ons met 'n integriteit as kerk praat oor kerkeenheid en Belhar, en bowenal oor menswaardigheid, as ons nie 'n gesprek wil voer oor homoseksualiteit nie?

Hoe is dit moontlik dat ons nogsteeds nie gereed is, weer nie gereed is, om die 2007 besluit in hersiening te neem nie?

Dalk is ek te dom om hierdie goed te verstaan. Of dalk is ek te jonk om hierdie goed te verstaan.

Ek wil leerbaar wees, en daarom woon ek ook volgende week se Algemene Sinode by as waarnemer.

Sol iustitiae illustra nos.


Nadia Marais

Die Algemene Sinode se warm patat

ʼn Vuurwarm patat. Dit is waarop die NG Kerk se algemene sinode sit wanneer hulle volgende week vir die soveelste keer ʼn besluit oor homoseksualiteit moet neem.

Aan die een kant fokus hulle op menswaardigheid en die Belhar-belydenis met eenheid, geregtigheid en versoening as die hoofpilare. Aan die ander kant word daar teen gay predikante gediskrimineer. Gay paartjies se menswaardigheid word aangetas omdat hulle verbintenisse nie deur die kerk aanvaar word nie.

Dit is die gemors waarin kerke hulle wêreldwyd bevind wanneer hulle mense se gedrag wil  beheer en reguleer en in ʼn magsposisie wil wees (eerder as om met deernis, liefdevol en pastoraal te wees). 'n Voorskriftelike etiek van bo af, eerder as deelnemende etiek. Dit en dat tot sonde verklaar (waaraan die besluitnemers gelukkig nie skuldig is nie), merk ʼn teoloog met wie ek gesels teenoor my op. 

Die huidige gay-besluit van 2007 is nie net diskriminerend nie maar onmenswaardig. Dit bring ook die gelykheid van ampte wat in die kerkorde beskerm word in gedrang. Hoe kan jy van leraars iets verwag wat jy nie van ouderlinge en diakens verwag nie?

Gelegitimeerdes word slegs tot die predikantsamp toegelaat, as hulle 'n selibate lewenstyl  beoefen. Dieselfde geld nie vir ouderlinge en diakens nie - ʼn saak wat volgende week op die spits gedryf word.

Min of meer dieselfde tyd toe die NG Kerk in die tagtigerjare besluit swart mense is welkom in die kerk, word homoseksualiteit opnuut as sonde bestempel en homoseksuele lidmate word effektief steeds uitgesluit.

In 2004 vra die sinode verskoning aan gay mense en hulle families wat in die verlede deur die kerk se optrede diep seergemaak is. In 2007 pleit ʼn groep lidmate by die algemene Sinode om haat en onreg teen gays, in die samelewing en in die kerk, in die duidelikste taal af te wys.

Sedertdien word verskeie jakkalsdraaie oor die 2007 besluit gegooi. Sommige interpreteer dit sús en ander só. Hoe mens dit ook al interpreteer, die implikasie bly steeds dat gayseks sonde is selfs al is dit in ʼn langtermynverhouding.

ʼn Predikantsvriend vertel van ʼn ringskollega wat ʼn ruk gelede in ʼn broederkring opmerk: "As gays op die kansel toegelaat word verlaat ek en my gemeente die kerk en ʼn klomp ander beaam dit.” Lui dit iewers ʼn klokkie? Dink bietjie terug aan soortgelyke refreine uit die verlede soos “as vroue op die kansel toegelaat word...” of  “as swartes op die kerkbanke toegelaat word....” 

Dit is natuurlik onhoudbaar om in 2013 te sê homoseksuele verbintenisse is sonde, maar die kerk durf dit nie sê nie. Dit is kerklik polities te sensitief. Om uit dié dilemma te kom word allerhande vreemde hermeneutiese en eksegetiese truuks in onverstaanbare teologiese taal gebruik. Dan word dit vir verdere studie verwys - daai eeue oue kerklike truuk om uit 'n gemors te kom (soos die Hervormers ook).

Die vraag is hoe kom die kerk uit hierdie dilemma wat hy self help skep het sonder om in die slagyster van sogenaamde Bybelse bewyse te trap waaroor daar in elk geval nooit eenstemmigheid sal wees nie?

Ek het met ʼn paar mense  gesels en hier is enkele gedagtes:
  •  Erken in die eerste plek dat 2007 se besluit nie net inkonsekwent is nie, maar ook kerkordelik onhoudbaar en dalk selfs ongrondwetlik. Kerkordelik omdat daar nou 'n nuwe vereiste vir gay predikante geld wat nie vir ouderlinge en diakens geld nie. Dit tas die ou gereformeerde beginsel van die gelykheid van die ampte aan. Ongrondwetlik omdat daar duidelike uitsprake oor gay verbintenisse deur die grondwetlike hof is en die 2006 wet op Burgerlike verbintenisse wat daaruit voortgespruit het.
  • Laat dit aan kerkrade oor om self te besluit of hulle ʼn gay predikant wil beroep of nie en of gay-paartjies welkom is in hulle gemeente.

Ironies genoeg bevind die kerk hom tans in dieselfde debakel waarin hy hom in 1987 oor egskeiding bevind het. Destyds is besluit alle egskeidings is 'n teken van vervreemding van Christus. Hertrou (met vorige huweliksmaat) moes in alle gevalle die ideaal bly. ʼn Tweede huwelik was onaanvaarbaar. Niemand het hulle aan die besluit gesteur nie maar byna die helfte van die kerk se lidmate is daardeur vervreem en gemarginaliseer. Die gevolg was dat die kerk vir baie mense al hoe meer irrelevant geword het.

In ʼn gesprek wat ek vroeër die week met ʼn teoloog voer merk hy die volgende op: “In al die dinge sien ek die duidelike bewys dat die kerk 'n instelling van God is”. Hoe dan so vra ek? Want, sê hy “geen ander instansie in die wêreld skiet homself so gereeld vir so lank in die voet en bly voortbestaan nie - nie die Romeinse Ryk nie of politieke partye nie, nie kommunisme nie, nie die modernisme nie,  - niks nie  - die kerk móét God se kerk wees. Gelukkig is Hy geduldig met 'n goeie humorsin - anders was ons regtig lankal in groot moeilikheid.”