Dit is vandag presies 2 weke na die Algemene Sinodesitting in Port Elizabeth. 'n Goeie tyd om terugskouend te skryf oor wat by die sinodesitting gebeur het.
Dit mag obvious klink, maar sedert die sinodesitting dink ek baie aan tyd. En oor die toekoms. Aan 'n NG Kerk toekoms, en hoe so iets sou lyk.
Prof Russel Botman, Rektor en Vise-Kanselier van die Universiteit Stellenbosch, se 60e verjaarsdag is afgelope Vrydag met 'n simposium oor sy lewe en werk by die Fakulteit Teologie gevier. Daar het hy, in sy reaksie reg aan die einde, gepraat oor die belangrikheid van tydelikheid - dat alles tot 'n einde kom - en tydigheid - dat daar 'n tyd is vir alles. Tyd is duidelik vir hom 'n belangrike kontoer in sy teologiese denke. Hy onderskei tussen kronos, 'gewone' tyd wat verloop, en kairos, 'n unieke oomblik in tyd.
So het die Belydenis van Belhar dit beroep op 'n kairos-oomblik in die sewentiger- en tagtigerjare, toe Apartheid in Suid-Afrika gedy en floreer het en die onversoenbaarheid van mense as 'n teologiese gegewe aanvaar en verkondig is. So het die Accra Verklaring dit beroep op 'n kairos-oomblik vroeg in die een en twintigste eeu, toe ekonomiese globalisasie gedy en floreer het - en waarskynlik nog beter as ooit vantevore gedy en floreer, ten spyte van die onlangse ekonomiese resessie - en die uitbuiting van die natuur saam met welvaart as 'n teologiese gegewe aanvaar en verkondig is. Só sou hy gister in 'n klas verduidelik; maar ook dat daar nog nooit in die geskiedenis so baie gepraat is oor kairos nie.
Kairos is egter onverstaanbaar sonder kronos.
Kronos. 'n Tyd vir alles.
Kronos. 'n Tyd vir alles.
Wanneer ons dink oor die NG Kerk vorentoe - in die toekoms - kan ons dit benadruk dat daar wel 'n tyd is vir alles, ook oor die besluite wat die NG Kerk geneem het by die afgelope Algemene Sinode en hoe dit verder daarna uitsien in die toekoms. Ons het nie beweeg soos ons sou kon beweeg het, veral met betrekking tot Belhar en homoseksualiteit, nie, maar ons het darem beweeg. Dit is hoe kronos werk. Dit kan roekelose versigtigheid legitimeer - om Belhar te bely is nou so vrywillig soos wat dit in elk geval was voordat hierdie hele proses begin het; en homoseksuele predikante moet nog net so selibaat wees as voor die sinodesitting - maar daar is ook belowende roeringe daarin - Belhar is nou darem in die belydenisgrondslag opgeneem; en homoseksuele teologiestudente kan darem nou wel in verhoudings wees tot en met hulle legitimasie. Byvoorbeeld.
Kronos. 'n Tyd vir alles.
Kronos. 'n Tyd vir alles.
'n Dag nadat die Algemene Sinode tot 'n einde gekom het, het Cobus 'n uitstekende blogpost geskryf oor die NG Kerk, kompromie en konsensus (beskikbaar hier). Dit is duidelik dat die NG Kerk verdeeld was op hierdie punt ook. Vir diegene wat gevoel het dat die kerk nie beweeg het soos sy kon beweeg het op 'n paar kwessies nie, was besluite soos dié oor Belhar en homoseksualiteit kompromieë. We copped out, sou hierdie siening wou sê. Vir diegene wat gevoel het dat die kerk ver genoeg beweeg het - of gepas en ordelik besluite geneem het, soos wat dit die kerk betaam - was besluite soos dié oor Belhar en homoseksualiteit konsensus-besluite. Cobus se punt was dat dit tegelykertyd albei was.
En kairos? Het ons in die NG Kerk enigsins ruimte daarvoor om unieke oomblikke in tyd te onderskei waarin die kerk gedring word om belangrike (en ja, beleids)besluite te neem waaroor ons voel: hier staan ons, ons kan nie anders nie?
Ek is onseker. Uiteraard behoort 'n argument vir kairos nie 'n agteraf manier te wees om sekere standpunte oor sekere kwessies te probeer verkoop nie - kairos beteken nie noodwendig dat 'n sinode pro-Belhar en/of pro-homoseksualiteit moet wees nie. Uiteraard behoort 'n klein groepering in die kerk nie alleen, ten alle koste (al beteken dit ook kerkskeuring), hulle sin te kry en hulle wil af te dwing nie - ook nie in die naam van 'n kairos-oomblik nie. Uiteraard vra ook 'n kairos-oomblik - juis 'n kairos-oomblik! - van 'n kerk om met 'n fyn aanvoeling en onderskeidingsvermoë vir hulleself uit te maak waarop dit werklik neerkom; of, in kerklike taal, om die beweging en werk van die Drie-enige God in die wêreld en ja, ook in die kerk, te onderskei en daaraan mee te werk. Dit is immers wie ons as NG Kerk nou bely om te wees, met ons besluite oor missionale kerkwees by hierdie einste sinodesitting. So ja. Uiteraard.
Kronos is belangrik. Kronos is konsensus en kompromieë, vergaderings en beleide, lang gesprekke en selfs meer aktiwiteite om gestalte te gee aan wat ons sê ons nou eintlik glo oor Belhar en homoseksualiteit en armoede en kerkhereniging en menswaardigheid en missionale kerkwees en die ekologie en aan en aan en aan.
Maar kairos is ook belangrik. Kairos vra dat ons steeds na almal luister, steeds saam probeer onderskei oor wat die wil van die Here vir Sy kerk kan wees, steeds aan mekaar vashou te midde ons diepste verdelings en verskille. Kairos vra egter ook dat die kerk aan die toekoms dink - aan die soort kerk wat ons wil en kan en móét wees.
Tussen kronos en kairos sal daar altyd spanning wees. Ook in die NG Kerk.
Een verhaal van wat by die sinodesitting gebeur het illustreer dit vir my goed. 'n Ouer man het een oggend in die hysbak uit die bloute vir my gesê: die jeug het nie meer respek vir die kerk nie. Daarmee het ek uiteindelik aangehoor wat hy eintlik daarmee bedoel, naamlik dat jongmense moet stilbly en luister as die oumense praat in verhelderingsgesprekke en in die vergadering self. En veral, God forbid, dat jongmense die kerk of oumense (want in sy kop is dit dieselfde ding) sal kritiseer of sal uitdaag. Sy presiese woorde sou na die einde van ons baie intense debat ook wees: julle jongmense sal nie wees waar julle vandag is as dit nie vir die generaals (dis nou in Apartheid) was nie. Maar sy laaste woorde aan my sal my altyd bybly: julle jongmense moet nie altyd die laaste woord wil hê nie.
Nou ja. Kronos en kairos. 'n Spanning - nie tussen jongmense en oumense, of tussen liberales en konserwatiewes, of tussen drukgroepe vir verskillende sake nie - maar tussen twee verstane van tyd. Russel Botman sou sê dat die belydenisskrifte primêr iets oor die toekoms - en juis nie alleenlik oor die verlede nie - verwoord: oor die tipe kerk wat ons wil wees.
Enige NG Kerk toekoms - waarin jongmense (maar nie net jongmense nie - ook gay mense en swart mense en vroue) beide gesien én gehoor sal word (om Moedersnaam); waarin ons steeds met die grootste erns en behoudendheid sal dink oor moeilike kwessies soos Belhar en homoseksualiteit; waarin ons ons allerbeste sal probeer om die versoeking teen te werk om op 'n parlementêr-demokratiese manier besluite te neem (want kerkregtelik kan dit tocht zeker niet!) - sou beteken dat ons já sê vir tyd.
Die lang tyd, kronos-tyd, wat dit neem om taakspanne aan te wys, om studiestukke op te stel, om dit om te skakel in aanbevelings vir 'n sinode om oor te besluit, vir 'n sinode om dit te bespreek en inderdaad daaroor te besluit, vir gemeentes en sinodes om dit te toets en prakties gestalte daaraan te gee.
Maar ook die nie-noodwendig-korter-nie kairos-tyd waarin ons gekonfronteer word met die besef en die belydenis uit die 450-jarige Heidelbergse Kategismus wat ons daaraan herinner dat ons nié aan onsself behoort nie. Dié kairos-tyd waarin ons inderdaad ook gekonfronteer word met die besef en die belydenis uit die 31-jarige Belydenis van Belhar wat ons daaraan herinner dat die kérk nie aan ons behoort nie, maar dat Jesus die hoof is van Sy kerk.
Prof Nelus Niemandt, Moderator van die afgelope Algemene Sinode, skryf juis hieroor in 'n onlangse artikel (beskikbaar hier):
"Uiteindelik
word ’n Algemene Sinode nie alleen beoordeel aan die hand van die gebeure by
die vergadering nie. Die geskiedenis gaan uiteindelik eendag vanuit die toekoms
vra of die sinode die geboorteplek van nuwe lewe in die kerk was."
Die tyd sal leer.
Net een klein byvoeging: ek dink dit is belangrik dat ons onthou dat *almal* moes kompromieë maak. Nie net die van ons wat gehoop het die kerk sal teen die tyd al baie verder wees nie, maar ook die wat gewens het die kerk verander nooit. Die besluite was konsensus vir almal, want almal het "ja" gestem, en kompromie vir meeste, want meeste moes maar iewers iets van hulle eie standpunte weggee om by hierdie konsensus uit te kom.
ReplyDeleteOumense praat altyd lekker maklik. Toe hulle jonk was, was daar 'n pophuis vol van apartheidswette wat hulle bevoorregting beskerm het. Op daardie manier het hulle deur middel van 'n misdaad teen die mensdom hulle vaardighede en ervaring en rykdom bekom.
ReplyDeleteEk steur my min aan oumense. Hulle wil net aanhou lieg soos wat daar vir hulle gelieg was oor gays en apartheid en God en als.
"Walk with the old, run with the young."
ReplyDeleteHierdie aanhaling kry ek by n jong persoon op my facebookblad - ek weet nie eens wat haar geloofsuitkyk is nie, maar vind haar wysheid baie meer aantreklik as die van Barend.
Dankie Nadia, die blog lees lekker en ek dink jou refleksie help ons om verder na te dink. Iets wat ons ook in gedagte moet hou is dat hoewel ons 'n sterk rol speel in die geskied van 'n "Kairos oomblik" is dit inderdaad 'n oomblik wat die Gees oorneem en ons nie anders kan as om in te stem met die oortuiging van die Heilige Gees, God drie-enig nie. In die ekumeniese wêreld verwys ons dikwels na die "Places of epithany" waar mens en God ontmoet en ons, ons sterk eie ek en mensheid prys gee ter will van die krisis/mense wat daaraan gekoppel is nie. 1986 Belhar en 2004 Accra was verseker sulke oomblikke, dalk moet ons vra wanneer sal die spontane Kairos oomblik die NG Kerk tref, dalk nie in 'n Algemene Sinode nie, dalk deur die spontante uitleef en gesprekke oor 'n ander verstaan van die persoon Jesus in 'n deurmekaar Afrikaner (Inkluis alle rasse) wat opsoek is na waarheid.
ReplyDeleteAs slot woord, ek droom oor 'n kerk waar ons kan besef dat ons 'n druppel in die emmer is en dat baie van ons uitdagings (waarmee ons onsself op die oomblik kwel) reeds deur ons mede Gereformeerde Kerke opgelos is en waar ons in plaas van alles her dink, NUUT kan dink.
Dankie vir die blog!
Lekker interessante stuk Nadia waaroor ons dalk eendag by die Jolly lank oor sal kan gesels. Net enkele opmerkings by gebrek aan iets behoorlik.
ReplyDeleteBelhar is nog nie in die belydenisgrondslag opgeneem nie. Al die streeksinodes moet die gewysigde kerkorde eers met tweederde meerderhede goedkeur en ook twee derdes van die kerkrade soos wat ek verstaan.
Dit is seker nie onmoontlik nie maar dit laat ons maar by 2004 se Hartenbosbesluit. Puntjie gaan eers by paaltjie kom wanneer die VGK en die NG Kerk sáám moet besluit of Belhar anders as die ander belydenisse op gelyke voet staan wanneer die kerke herenig.
Die gay-besluit was wat my en baie ander betref geensins ʼn stap vorentoe nie. Trouens dit is vir my byna erger om vir ʼn gay teologiestudent te sê hy of sy mag in ʼn verhouding wees tot en met legitimasie maar daarna kan die hetero’s hulle verhoudings voortsit en bevestig maar die gays nie! Dit is mos die toppunt van onmenswaardigheid. Hoe kan dit vordering wees?
Cobus sê almal moes kompromieë maak. Watter kompromie moes Piet Strauss en kie maak as vanjaar se besluit oor Belhar presies dieselfde is as wat in 2004 deur hulle voorsien is? Watter kompromie is gemaak tov van gay verhoudings? Ek is bevrees vanjaar se kompromisbesluite gaan die kerk vorentoe inhaal. Ja, almal het dalk “ja” gestem maar daar is géén konsensus oor die sake nie. Net soos dikwels tydens apartheid is die moeilike vraagstukke op die langebaan geskuif. Ek het teen my eie beterwete gehoop vir ʼn FW de Klerk, 2 Februarie tipe sinode. Wat ons gekry het was meer van ʼn PW Botha Rubicon sinode.
Ek wou graag hier kommentaar lewer, maar dit het te lank geraak. verwys asb na my blog vir vol kommentaar. http://jmdekock.blogspot.com/2013/10/die-kerk-vandag-en-die-ng-kerk-se-rol.html
ReplyDeleteEk verkoop nie my mening as 'wysheid' nie Johan. Ek praat net reguit. Wil jy vir my se dat die kerke nog nooit verkeerd gehandel het met gays, met vroue, met swartmense, ag sommer met enige iets wat 'n ander geurtjie as die self het nie?
ReplyDeleteOntken jy dit? En ontken jy dat dit aanhou?