Ek bly in ‘n klein stadjie, ‘n straat of twee groter as PE, maar ongelukkig sonder ‘n see, in die suide van ‘n massiewe kontinent. Ek skryf in ‘n taal wat minder as ‘n vyfde hier in die suide van hierdie massiewe kontinent as moedertaal sien. Ek is deel van ‘n kerk wat kleiner word. Ek is lief vir die kerkie, sy mense en die kontinente waarvan ek net 30cm se grondoppervlak volstaan.
Oor ‘n week sit daar ‘n ding genaamd die algemene sinode van hierdie klein kerkie. In hierdie week sal al die goed wat ek nou genoem dalk vergete raak. Mense sal opgeslurp word in hulle eie wêreld om sake van lewe en dood te besin. Party van die verteenwoordigers sal nie net hulle konteks vergeet nie, hulle sommer ook van hulleself vergeet. Al wat hulle sal onthou is om aan te hou praat.
Aan die einde van die groot vergadering van ‘n klein kerk in klein stadjie in die suide van ‘n massiewe kontinent sal daar ‘n paar besluite geneem word. Skokkend genoeg sal die son steeds ondergaan al het die klein klompie besluit die son mag nie. Mense sal steeds kerk toe gaan en soek vir die Here se wil, al besluit hulle die Here is eerder buite die diens te vinde. Daar sal self, jy mag my dalk nie glo nie, dominees en mense wees wat teruggaan na gemeentes en reg teenoor die besluite van die belangrike vergadering praat. Dit kan mos nie gehelp word nie, tensy die algemene sinode besluit om toekring sekuriteitskameras te installeer in alle gemeentes en skelmpies hierdie teëpraters te laat verdwyn.
Eens na ‘n belangrike vergadering in die parlement, of so ding, het man X ook die hele tyd van homself vergeet en onthou om te praat. Ou sagmoedige Neelsie het na die tyd hom te gegaan en hom vermaan: “Jy weet X, mens moet nie altyd die belangrikste persoon by die vergadering probeer wees nie. Onthou die belangrikste persoon by ‘n begrafnis is die man in die graf.” Ek hoop regtig die sinode word nie gekaap deur iemand wat die ding in begrafnis laat ontaard deurdat hulle te baie praat nie. By my hoop voeg ek ‘n gebed: “Here, laat asseblief vir almal spasie, selfs die wat ek dink verdien dit nie.” Ek weet dis ‘n onmoontlike gebed, maar dis mos hoekom ons bid, want dis onmoontlik. Die Here luister darem vir mens selfs al is jy in ‘n klein stadjie, met ‘n see, gedurende ‘n klein kerkie se algemene sinode.
- Calvyn du Toit
- Calvyn du Toit
No comments:
Post a Comment