In sy uitstekende boek The
Honor Code. How Moral Revolutions Happen,
kyk Kwame Anthony Appiah (Princeton professor) terug in die geskiedenis en
probeer hy vasstel wat verskillende
morele revolusies in verskillende dele van die wêreld veroorsaak het, en dalk
in gemeen het.
In elkeen van hierdie morele transformasies het eer ‘n baie sentrale rol gespeel. Dit
was en is steeds die enjin van hervorming! Nie soseer rede, moraliteit of
godsdiens nie. Sekere verkeerde praktyke word net uitgeroei waar dit met eer gekonfronteer word.
Hy verwys na die dodelike wêreld van die aristokrasie in Brittanje,
waar mans mekaar vir eeue uitgedaag het tot tweegevegte. En dan kyk hy na die
ander kant van die wêreld en ondersoek die gebruik van “footbinding” in China. Hierdie praktyk het vir duisende jare
voortgeduur, ten spyte van imperiale pogings om dit stop te sit. Tog is dit
binne een generasie beëindig.
Appiah wys hoe hierdie turbulente eras tot ‘n einde gekom
het, nie deur bevele op mense af te forseer nie, maar deur die krag van eer wat van binne kom, te ontgin en te bevorder.
Hy kyk ook na een van die mees betekenisvolle revolusies wat
ooit plaasgevind het, naamlik die beëindiging van slawerny in die Britse ryk.
Hy bring ook die voortgaande “honor killing” wat ons steeds in Pakistan kry,
ter sprake.
Hy is oortuig, in die lig van die geskiedenis, dat onbillike-
en wanpraktyke net tot ‘n einde
gebring word deur ‘n kollektiewe
bewustheid van eer te vestig.
Een van die groot uitdagings wat die (NG) kerk in die gesig
staar, is om gays se eer te herstel
deur hulle volledig te respekteer.
Watter vorm van eer
is dit om mense voorwaardelik te aanvaar?
Ons het eintlik meer as ‘n seisoen van menswaardigheid in
die kerk nodig. Ons benodig ‘n seisoen van eer.
Die psigologie van eer – die betoning
van respek, en volledige erkenning van mense se identiteit, wat volgens Appiah
onlosmaaklik aan mekaar verbind is – is in elkeen van ons teenwoordig. Kom ons
(her)ontgin en bevorder dit, veral in ons besluite!
Die een ding wat ons nooit sal los nie, is eer. Dit sal bly aanklop totdat ons álle
mense ten diepste erken vir wie hulle is op grond van hul Godgegewe identiteit.
Tot dán staan ons beskaamd!
Chris Jones
No comments:
Post a Comment