Met vanjaar se algemene sinode voor die deur hang die vraag
weer swaar in die lug: wie se wil
geskied by sinodes? Mense se wil of God se wil?
Op my Facebook-blad sê ʼn dominee die verskil tussen my
artikel in Rapport oor die sinode en die werklikheid is dat hy al by genoeg
sinodes was om te weet wat die hoofdoel van sinodegangers is: om die wil van
God te probeer verstaan in besluite, natuurlik met die wete dat ons verstaan
nie onfeilbaar nie.
Die verskil tussen hierdie maatstaf en my artikel is volgens
dié dominee dat ek alles toets aan wat mense daaroor gaan dink en of dit mense gaan
beïndruk. So asof sinodes nie mense se reaksies in gedagte hou wanneer
hulle oor sake besluit nie.
Ek was ook al by ʼn hele paar sinodes. Laat ons maar eerlik
wees. Sinodes is dikwels ook maar nie veel anders as enige ander vergadering wanneer
dit kom by die dryf van agendas nie, al sou ons dit dalk graag anders wou hê. Ons
weet mos almal watter rol speel kerkpolitiek ook by sinodevergaderings.
Natuurlik word daar gestreef om God se wil te hoor. Dis mos
waaroor kerk gaan. Maar daar word baie deeglik ook gevra wat "die
mense" wil hê, wat die mense sal dink oor besluite, wat die mense sal
doen, ens.
Baie besluite het min te doen met God se wil. Dit gaan dikwels
daaroor of die mense dit sal aanvaar of nie. En dit word nie eers saggies
gefluister nie maar sommer hardop gesê, merk een van my domineevriende tereg op.
Talle dominees het al hulle sinode-ervarings en frustrasies
met my gedeel. Goed én sleg want sinodes is nie net goed of sleg nie. Een van
die jonger geslag wat onlangs uit die bediening is vertel: “Ek was ontnugter
oor hoedat die "agenda" van besluite eintlik vooraf reeds deurgepraat
en selfs in gevalle besluit was. Maar meer frustrerend was hoedat
"leiers" lank voor die sitting al beginne "campaign" het
vir stemme om voor by die "bruidstafel" te sit! By die tweede sinode
het 'n persoon langs my gesit wat in die afgelope jaar uitgevind het sy seun is
gay....sy woorde sing nou nog in my ore...."hy is my seun, hy is lief vir
die Here, ek weet.....hoe kan ek hom oordeel....God het hom mos lief, of
nie?"
Voor die tyd bid almal saam dat God se wil geskied in die
besluite. Dan word daar debat gevoer en uiteindelik word daar 'n besluit geneem
deur daaroor te stem. Ek het nog nooit gesien dat die "verloorders" die
besluit net so aanvaar as 'n gebedsverhoring dat God se wil geskied het nie.
Die meeste van hulle sit maar later weer die geveg elders voort. Daarvan getuig
die talle beswaarskrifte oor vorige besluite wat vanjaar weer voor die sinode
dien. Mens is dus bietjie vroom as jy maak of sinodes ʼn plek is waar God altyd meer
teenwoordig is as op enige ander vergadering.
Ds Barend Nel van Kraaifontein sê hy ervaar ʼn groot stuk
apatie as hy luister na wat vanjaar by die sinode gaan gebeur. Hy verduidelik dit so: “Iemand het dit 'n ruk gelede goed
gestel toe hy gesê het dat 'n mens die gesprekke by 'n NG sinode kan vergelyk
met 'n groep mense wat dringend bespreek wat gedoen moet word, om seker te maak
dat die NG Kerk 'n sekere bus haal. Daar moet gesorg word dat ons op 'n bus na
die regte bestemming klim en nie dalk uitkom waar ons nie wil wees nie. Dit
moet 'n veilige en betroubare bus, met 'n goeie bestuurder wees, want ons wil
nie onsself en die lidmate se lewe in gevaar stel nie. 'n Mens moet rêrig
bewondering hê vir die deeglike voorbereiding wat gedoen is en die erns waarmee
die saak benader word.
Daar is net een probleem. Dit is dat die bus al gister by ons
verby is.”
Baie lidmate en dominees raak eenvoudig nie meer opgewonde
oor die sinode nie. Nie kwaad nie en ook
nie bly nie... net so 'n dowwe gevoel "comfortably numb" soos in Pink
Floyd se "The Wall". Dit maak nie van sinodes iets wat noodwendig sleg is nie. Dit beteken nie
die kerk moet ophou om sinodes te hou nie. Maar sinodes en sinodebesluite is
nie onaantasbaar nie. Net soos die Bybel moet sinodes in konteks gesien
word as ons die res van die kerk regtig in konteks wil sien. Dit is maar net nóg ʼn vergadering.
Baie dominees raak darem nog opgewonde vir die reunie van hul klasmaats! Gans te min vroue byeen vir my om enigsins opgewonde te raak ;)
ReplyDeleteJa ek moet bieg sinodes kan lekker kuierplekke wees al was ek nie 'n dominee nie. In daardie opsig het ek sinodes nogal geniet en sal dit vanjaar mis. Vir my was die belangrikste dele van sinodes nie noodwendig dit wat op die sinodevloer gebeur nie maar die informele kuiers. Dit was héérlik en ek kan sommmer baie stories daaroor vertel van die Kaap tot doer ver in Namibië.
ReplyDelete