Monday, 30 September 2013

Die eer van gays is op die spel

In sy uitstekende boek The Honor Code. How Moral  Revolutions Happen, kyk Kwame Anthony Appiah (Princeton professor) terug in die geskiedenis en probeer hy vasstel wat  verskillende morele revolusies in verskillende dele van die wêreld veroorsaak het, en dalk in gemeen het.

In elkeen van hierdie morele transformasies het eer ‘n baie sentrale rol gespeel. Dit was en is steeds die enjin van hervorming! Nie soseer rede, moraliteit of godsdiens nie. Sekere verkeerde praktyke word net uitgeroei waar dit met eer gekonfronteer word.

Hy verwys na die dodelike wêreld van die aristokrasie in Brittanje, waar mans mekaar vir eeue uitgedaag het tot tweegevegte. En dan kyk hy na die ander kant van die wêreld en ondersoek die gebruik van “footbinding” in China.  Hierdie praktyk het vir duisende jare voortgeduur, ten spyte van imperiale pogings om dit stop te sit. Tog is dit binne een generasie beëindig.

Appiah wys hoe hierdie turbulente eras tot ‘n einde gekom het, nie deur bevele op mense af te forseer nie, maar deur die krag van eer wat van binne kom, te ontgin en te bevorder.

Hy kyk ook na een van die mees betekenisvolle revolusies wat ooit plaasgevind het, naamlik die beëindiging van slawerny in die Britse ryk. Hy bring ook die voortgaande “honor killing” wat ons steeds in Pakistan kry, ter sprake.

Hy is oortuig, in die lig van die geskiedenis, dat onbillike- en wanpraktyke net tot ‘n einde gebring  word deur ‘n kollektiewe bewustheid van eer te vestig.

Een van die groot uitdagings wat die (NG) kerk in die gesig staar, is om gays se eer te herstel deur hulle volledig te respekteer.  

Watter vorm van eer is dit om mense voorwaardelik te aanvaar?

Ons het eintlik meer as ‘n seisoen van menswaardigheid in die kerk nodig. Ons benodig ‘n seisoen van eer. Die psigologie van eer – die betoning van respek, en volledige erkenning van mense se identiteit, wat volgens Appiah onlosmaaklik aan mekaar verbind is – is in elkeen van ons teenwoordig. Kom ons (her)ontgin en bevorder dit, veral in ons besluite! 

Die een ding wat ons nooit sal los nie, is eer. Dit sal bly aanklop totdat ons álle mense ten diepste erken vir wie hulle is op grond van hul Godgegewe identiteit. Tot dán staan ons beskaamd!

Chris Jones

Kerk in konteks?

'n Inleidende blogpost, vir diegene wat wonder waaroor hierdie nuwe blog gaan.



Soos baie van julle mag weet vind die NG Kerk se Algemene Sinode volgende week (6 tot 10 Oktober) in Port Elizabeth plaas. Op die agenda (beskikbaar hier) dien sake soos Belhar en kerkeenheid, menswaardigheid, die ekologie, en homoseksualiteit. Jean Oosthuizen het juis gister in die Rapport daaroor 'n artikel geskryf (beskikbaar hier).

'n Paar van ons - almal NG Kerk-lidmate - het besluit om 'n blog te begin om gesprek tydens en na, maar veral voor, die Algemene Sinode te fasiliteer. Hierdie blog het ten doel om 'n virtuele gespreksruimte te skep waar so iets moontlik gemaak word, ook om energie en kritiese betrokkenheid by die sinodesitting te help skep. 

Daar is geen verskuilde agenda of voorafbeplande uitkomste nie. 'n Aantal skrywers - vanuit 'n verskeidenheid van agtergronde en met verskillende opinies - is uitgenooi om via hierdie blog deel te neem aan die gesprek, en te skryf en te publiseer na hartewens. Niks word gesensor nie, niks word gereguleer nie, niks word georganiseer nie, en sodoende hoop ons om op 'n organiese en natuurlike manier met mekaar in gesprek te tree. 

Die naam van die blog, 'Kerk in Konteks', is 'n poging om iets hiervan te verwoord. Die NG Kerk se grootste worstelinge tans, na my mening, is worstelinge met die uitdagings en verantwoordelikhede wat ons kontekste van ons vereis. Dit is uiteraard geen nuwe worsteling nie, en ook nie die laaste worsteling nie, maar 'n belangrike aspek hiervan is dat ons nie alleen kan worstel nie - dat ons mekaar nodig het in ons nadenke; dat ons stemme op die periferie van ons kerklike gemeenskap nodig het; dat ons stemme buite die kerk nodig het. 

Hierdie blog beperk ditself, vir nou, tot NG Kerk-lidmate, maar behoort as niks meer nie as deelname aan die groter gesprek oor kerkwees in Suid-Afrika en Afrika vandag beskou te word.

En oja, indien daar sommiges is wat die gesprek op Twitter sou wou voortsit, kan #kerkinkonteks gebruik word.

Nadia Marais