"If
the truth be told, we today are who we are – if we are anybody – because some
woman, somewhere, stooped down long enough that we might climb on her back and
ride piggyback into the future."
Só
skryf Allis Ogden Bellis, Professor in Ou Testament by Howard University School
of Divinity, wanneer sy oor die rol van Koningin Vasti in die verhaal van Ester
skryf, verwysend na die belangrike nalatenskap wat Vasti se verset teen
Ahasveros sou beteken wanneer Ester die koning later in die verhaal moet
konfronteer.
Haar
opmerking leef al vir die laaste drie jaar in my kop. Ek het nou die dag in 'n
gesprek weer daaraan gedink, en vanoggend besluit om tog iets daaroor te skryf,
in die lig van die afgelope sinodesitting.
'n
Gesprek oor vroue in die NG Kerk is 'n besonder interessante gesprek.
Party
- vroue én mans - is baie geinteresseerd in hierdie gesprek, en veral in die
vraag na vroue (veral jong vroulike predikante) se ervaring in die kerk vandag.
Dit is 'n goeie maar komplekse saak, omdat verteenwoordiging 'n goeie maar
komplekse saak is. Dit is goed om vroulike stemme te hoor, en ek is dankbaar
vir mense - vroue én mans - wat dit hoog op prys stel om sensitief te wees
daaroor dat die kerk 'n veilige en gasvrye ruimte vir almal, ook vroue, behoort
te wees. Dit is egter óók 'n komplekse saak, want wie kan nou namens wie praat?
Soms veronderstel so 'n vraag eendersheid en eenvormigheid, en daarmee saam 'n
verskraling in 'n kapasiteit en begrip van diversiteit. Nie nét wat gender
aanbetref nie, maar ook - veral? - wat leefervarings en oortuigings en
standpunte en argumente en persoonlikhede en wêreldbeskouinge behels. In kort:
ek wil en kan nie vir alle vroue, nie eers alle jong vroue of veral selfs alle
jong vroueteoloë!, praat nie.
Ander
- mans én vroue - is baie geirriteerd met hierdie gesprek, en veral met die
vraag of vroue werklik as gelykwaardiges, met respek en professionaliteit, in
die kerk - in welke hoedanigheid of amp ook al - behandel word in die kerk
vandag. Hierdie is waarskynlik die mees interessante fenomeen tans, vir my:
naamlik, dat jong vroue(predikante) só goedsmoeds kan aanvaar dat hoe dit tans
is maar nog altyd so was - want 1990, toe vroue vir die eerste maal tot die
bediening toegelaat kon word in die NG Kerk, is 'n leeftyd terug? - en só naïef
kan wees daaroor dat vrouestemme in die kerk en vrouebetrokkenheid by die kerk
nie sonder kompleksiteite gehoor en aanvaar word nie. Hierdie posisie word
dikwels beskryf as "postfeminisme": naamlik, dat feministiese vroue
nie dieselfde fout moet maak as waarvan mans beskuldig is en word nie, deur
alle vroue te forseer om op 'n bepaalde manier op te tree of te reageer of te
redeneer of te wees nie. Dit beteken, gevolglik, dat 'n vrou sou kon kies - uit
hierdie gegewenheid van vryheid en gelykheid - om tóg onderdanig te wees aan
mans, of tóg nie 'n predikant te word nie (want vrouepredikante is nog maar 'n
ongemaklike ding), of tóg maar die mans toe te laat om leierskapsposisies in
die kerk te vervul, soos wat hulle nog altyd gedoen het.
Dit maak my baie moedeloos as ek
sulke argumente hoor, want dit getuig nie van 'n openheid en bereidwilligheid
om deelnemend en krities in die kerk betrokke te wees nie. Mense wat
argumenteer dat die rol van vroue in die kerk of in die huwelik "nie
(meer?) 'n issue is nie" of dat ons "regtig verby
hierdie feministiese nonsens is" help ons nie met die gesprek oor
gasvryheid en menswaardigheid in die kerk nie. Regtig nie. Want sulke argumente
is 'n oneerlike manier om belangrike gesprekke, soos die gesprek oor vroue in
die kerk, stil te maak: hou op om te oorreageer, vroue word al vir dekades lank
tot die predikantsamp toegelaat.
(Dit herinner, terloops, aan hierdie uitstekende artikel deur die Suid-Afrikaanse regsgeleerde Pierre de Vos, oor wanneer 'n grap
nie 'n grap is nie.)
Ek sal my nooit in so sulke standpunte -
hetsy dit oor vroue, of gays, of kerkhereniging gaan - vind nie.
Dit is die moeite werd om die Suid-Afrikaanse feministiese teoloog Denise Ackermann se perspektief hierop te hoor:
"I'm saddened when I hear a lack of interest in women's
liberation among some of the younger generation of women. They don't realise
how much was achieved for them by the older generation that has enabled them to
be what and where they are today. They also haven't done sufficient social
analysis to understand how much more still has to happen before we can have a
truly egalitarian society."
Nou ja. Daarom
'n woord van waardering.
Ons
vergeet té vinnig van die vroue wat dit vir ons, jong vrouepredikante en
-teoloë, moontlik gemaak het, en op soveel maniere wat ons nie besef nie stééds
moontlik maak, om in 'n verskeidenheid van bedieninge te staan. Ons vergeet té
maklik van hulle opofferings, hulle strydgesprekke, hulle moedeloosheid, en
bowenal hulle geduld, om telkens weer die argumente aan te voer wat dit vir ons
moontlik sou maak om te wees waar ons, jong vrouepredikante en -teoloë, vandag
is. Ons vergeet, want dit is makliker en gemakliker om net te aanvaar dat dit
nog altyd so was. Want sodra ons gekonfronteer sou word met die herinneringe van
die enkele vroue wat in die vroeë negentigerjare geïgnoreer en verkleineer is
deur hulle dosente en klasmaats in teologiese klasse, of deur die kerk se
onverantwoordelike en onderdrukkende gebruik van die Bybel om vroue stil te
maak op kerkrade en binne sinodesittings, of deur die beroep van slegs mans
omdat vroue 'te emosioneel' of 'te sag' sou wees as predikante... dan raak
dinge wérklik ongemaklik.
Die
gestalte van die (oorwegend toeganklik-vir-vroue) NG Kerk wat ons vandag ken is
onlosmaaklik deel van die gestalte van die (oorwegend ontoeganklik-vir-vroue)
NG Kerk wat ons tóé geken het... en, in sommige omstandighede, steeds teëkom.
Daarom,
dankie aan die vroue - binne én buite die predikantsamp - wat dit vir ons,
jonger vrouepredikante en -teoloë, moontlik gemaak het om te wees waar ons is
vandag, op maniere waarvan ons (en dalk selfs hulle) nooit ten volle bewus sal
wees nie. Aan die Elna Moutonne en Elize Morkels en Elsje Buchners. Aan die
Hantie Kotzé's, die Judith Kotzé's, die Julie Claassens, die Sorita Baards, die
Mary-Anne Plaatjies-Van Huffels.
Ons
sê dit nie genoeg nie, en ons sê dit dalk ook nie soos wat dit gesê
behoort te word nie, maar wanneer ek gevra word oor my ervarings binne
die kerk as jong vroueteoloog, dan dink ek met waardering aan julle. En aan die
tallose, gesiglose, naamlose vroue wat dit op verskillende maniere - hetsy deur
direkte konfrontasie en verset, soos Koningin Vasti; of deur 'n subtiele maar
vasberade werk binne die sisteem, soos Koningin Ester - dit vir my moontlik gemaak
het om te wees waar ek is vandag.
In
die gees hiervan sou ek graag die skrywer Rebecca West, met hierdie treffende
aanhaling, die laaste woord wou laat hê.