Thursday, 7 November 2013

Vroue in die kerk? 'n Woord van waardering.

"If the truth be told, we today are who we are – if we are anybody – because some woman, somewhere, stooped down long enough that we might climb on her back and ride piggyback into the future."
Só skryf Allis Ogden Bellis, Professor in Ou Testament by Howard University School of Divinity, wanneer sy oor die rol van Koningin Vasti in die verhaal van Ester skryf, verwysend na die belangrike nalatenskap wat Vasti se verset teen Ahasveros sou beteken wanneer Ester die koning later in die verhaal moet konfronteer. 
Haar opmerking leef al vir die laaste drie jaar in my kop. Ek het nou die dag in 'n gesprek weer daaraan gedink, en vanoggend besluit om tog iets daaroor te skryf, in die lig van die afgelope sinodesitting.
'n Gesprek oor vroue in die NG Kerk is 'n besonder interessante gesprek. 
Party - vroue én mans - is baie geinteresseerd in hierdie gesprek, en veral in die vraag na vroue (veral jong vroulike predikante) se ervaring in die kerk vandag. Dit is 'n goeie maar komplekse saak, omdat verteenwoordiging 'n goeie maar komplekse saak is. Dit is goed om vroulike stemme te hoor, en ek is dankbaar vir mense - vroue én mans - wat dit hoog op prys stel om sensitief te wees daaroor dat die kerk 'n veilige en gasvrye ruimte vir almal, ook vroue, behoort te wees. Dit is egter óók 'n komplekse saak, want wie kan nou namens wie praat? Soms veronderstel so 'n vraag eendersheid en eenvormigheid, en daarmee saam 'n verskraling in 'n kapasiteit en begrip van diversiteit. Nie nét wat gender aanbetref nie, maar ook - veral? - wat leefervarings en oortuigings en standpunte en argumente en persoonlikhede en wêreldbeskouinge behels. In kort: ek wil en kan nie vir alle vroue, nie eers alle jong vroue of veral selfs alle jong vroueteoloë!, praat nie.
Ander - mans én vroue - is baie geirriteerd met hierdie gesprek, en veral met die vraag of vroue werklik as gelykwaardiges, met respek en professionaliteit, in die kerk - in welke hoedanigheid of amp ook al - behandel word in die kerk vandag. Hierdie is waarskynlik die mees interessante fenomeen tans, vir my: naamlik, dat jong vroue(predikante) só goedsmoeds kan aanvaar dat hoe dit tans is maar nog altyd so was - want 1990, toe vroue vir die eerste maal tot die bediening toegelaat kon word in die NG Kerk, is 'n leeftyd terug? - en só naïef kan wees daaroor dat vrouestemme in die kerk en vrouebetrokkenheid by die kerk nie sonder kompleksiteite gehoor en aanvaar word nie. Hierdie posisie word dikwels beskryf as "postfeminisme": naamlik, dat feministiese vroue nie dieselfde fout moet maak as waarvan mans beskuldig is en word nie, deur alle vroue te forseer om op 'n bepaalde manier op te tree of te reageer of te redeneer of te wees nie. Dit beteken, gevolglik, dat 'n vrou sou kon kies - uit hierdie gegewenheid van vryheid en gelykheid - om tóg onderdanig te wees aan mans, of tóg nie 'n predikant te word nie (want vrouepredikante is nog maar 'n ongemaklike ding), of tóg maar die mans toe te laat om leierskapsposisies in die kerk te vervul, soos wat hulle nog altyd gedoen het. 
Dit maak my baie moedeloos as ek sulke argumente hoor, want dit getuig nie van 'n openheid en bereidwilligheid om deelnemend en krities in die kerk betrokke te wees nie. Mense wat argumenteer dat die rol van vroue in die kerk of in die huwelik "nie (meer?) 'n issue is nie" of dat ons "regtig verby hierdie feministiese nonsens is" help ons nie met die gesprek oor gasvryheid en menswaardigheid in die kerk nie. Regtig nie. Want sulke argumente is 'n oneerlike manier om belangrike gesprekke, soos die gesprek oor vroue in die kerk, stil te maak: hou op om te oorreageer, vroue word al vir dekades lank tot die predikantsamp toegelaat.
(Dit herinner, terloops, aan hierdie uitstekende artikel deur die Suid-Afrikaanse regsgeleerde Pierre de Vos, oor wanneer 'n grap nie 'n grap is nie.)
Ek sal my nooit in so sulke standpunte - hetsy dit oor vroue, of gays, of kerkhereniging gaan - vind nie.
Dit is die moeite werd om die Suid-Afrikaanse feministiese teoloog Denise Ackermann se perspektief hierop te hoor:
"I'm saddened when I hear a lack of interest in women's liberation among some of the younger generation of women. They don't realise how much was achieved for them by the older generation that has enabled them to be what and where they are today. They also haven't done sufficient social analysis to understand how much more still has to happen before we can have a truly egalitarian society."
Nou ja. Daarom 'n woord van waardering. 
Ons vergeet té vinnig van die vroue wat dit vir ons, jong vrouepredikante en -teoloë, moontlik gemaak het, en op soveel maniere wat ons nie besef nie stééds moontlik maak, om in 'n verskeidenheid van bedieninge te staan. Ons vergeet té maklik van hulle opofferings, hulle strydgesprekke, hulle moedeloosheid, en bowenal hulle geduld, om telkens weer die argumente aan te voer wat dit vir ons moontlik sou maak om te wees waar ons, jong vrouepredikante en -teoloë, vandag is. Ons vergeet, want dit is makliker en gemakliker om net te aanvaar dat dit nog altyd so was. Want sodra ons gekonfronteer sou word met die herinneringe van die enkele vroue wat in die vroeë negentigerjare geïgnoreer en verkleineer is deur hulle dosente en klasmaats in teologiese klasse, of deur die kerk se onverantwoordelike en onderdrukkende gebruik van die Bybel om vroue stil te maak op kerkrade en binne sinodesittings, of deur die beroep van slegs mans omdat vroue 'te emosioneel' of 'te sag' sou wees as predikante... dan raak dinge wérklik ongemaklik. 
Die gestalte van die (oorwegend toeganklik-vir-vroue) NG Kerk wat ons vandag ken is onlosmaaklik deel van die gestalte van die (oorwegend ontoeganklik-vir-vroue) NG Kerk wat ons tóé geken het... en, in sommige omstandighede, steeds teëkom. 
Daarom, dankie aan die vroue - binne én buite die predikantsamp - wat dit vir ons, jonger vrouepredikante en -teoloë, moontlik gemaak het om te wees waar ons is vandag, op maniere waarvan ons (en dalk selfs hulle) nooit ten volle bewus sal wees nie. Aan die Elna Moutonne en Elize Morkels en Elsje Buchners. Aan die Hantie Kotzé's, die Judith Kotzé's, die Julie Claassens, die Sorita Baards, die Mary-Anne Plaatjies-Van Huffels.
Ons sê dit nie genoeg nie, en ons sê dit dalk ook nie soos wat dit gesê  behoort te word nie, maar wanneer ek gevra word oor my ervarings binne die kerk as jong vroueteoloog, dan dink ek met waardering aan julle. En aan die tallose, gesiglose, naamlose vroue wat dit op verskillende maniere - hetsy deur direkte konfrontasie en verset, soos Koningin Vasti; of deur 'n subtiele maar vasberade werk binne die sisteem, soos Koningin Ester - dit vir my moontlik gemaak het om te wees waar ek is vandag. 
In die gees hiervan sou ek graag die skrywer Rebecca West, met hierdie treffende aanhaling, die laaste woord wou laat hê.




Thursday, 24 October 2013

'n NG Kerk toekoms? Já vir tyd, oor kronos en kairos.

Dit is vandag presies 2 weke na die Algemene Sinodesitting in Port Elizabeth. 'n Goeie tyd om terugskouend te skryf oor wat by die sinodesitting gebeur het.

Dit mag obvious klink, maar sedert die sinodesitting dink ek baie aan tyd. En oor die toekoms. Aan 'n NG Kerk toekoms, en hoe so iets sou lyk. 


Prof Russel Botman, Rektor en Vise-Kanselier van die Universiteit Stellenbosch, se 60e verjaarsdag is afgelope Vrydag met 'n simposium oor sy lewe en werk by die Fakulteit Teologie gevier. Daar het hy, in sy reaksie reg aan die einde, gepraat oor die belangrikheid van tydelikheid - dat alles tot 'n einde kom - en tydigheid - dat daar 'n tyd is vir alles. Tyd is duidelik vir hom 'n belangrike kontoer in sy teologiese denke. Hy onderskei tussen kronos, 'gewone' tyd wat verloop, en kairos, 'n unieke oomblik in tyd. 

So het die Belydenis van Belhar dit beroep op 'n kairos-oomblik in die sewentiger- en tagtigerjare, toe Apartheid in Suid-Afrika gedy en floreer het en die onversoenbaarheid van mense as 'n teologiese gegewe aanvaar en verkondig is. So het die Accra Verklaring dit beroep op 'n kairos-oomblik vroeg in die een en twintigste eeu, toe ekonomiese globalisasie gedy en floreer het - en waarskynlik nog beter as ooit vantevore gedy en floreer, ten spyte van die onlangse ekonomiese resessie - en die uitbuiting van die natuur saam met welvaart as 'n teologiese gegewe aanvaar en verkondig is. Só sou hy gister in 'n klas verduidelik; maar ook dat daar nog nooit in die geskiedenis so baie gepraat is oor kairos nie. 

Kairos is egter onverstaanbaar sonder kronos.

Kronos. 'n Tyd vir alles. 

Wanneer ons dink oor die NG Kerk vorentoe - in die toekoms - kan ons dit benadruk dat daar wel 'n tyd is vir alles, ook oor die besluite wat die NG Kerk geneem het by die afgelope Algemene Sinode en hoe dit verder daarna uitsien in die toekoms. Ons het nie beweeg soos ons sou kon beweeg het, veral met betrekking tot Belhar en homoseksualiteit, nie, maar ons het darem beweeg. Dit is hoe kronos werk. Dit kan roekelose versigtigheid legitimeer - om Belhar te bely is nou so vrywillig soos wat dit in elk geval was voordat hierdie hele proses begin het; en homoseksuele predikante moet nog net so selibaat wees as voor die sinodesitting - maar daar is ook belowende roeringe daarin - Belhar is nou darem in die belydenisgrondslag opgeneem; en homoseksuele teologiestudente kan darem nou wel in verhoudings wees tot en met hulle legitimasie. Byvoorbeeld.

Kronos. 'n Tyd vir alles.

'n Dag nadat die Algemene Sinode tot 'n einde gekom het, het Cobus 'n uitstekende blogpost geskryf oor die NG Kerk, kompromie en konsensus (beskikbaar hier). Dit is duidelik dat die NG Kerk verdeeld was op hierdie punt ook. Vir diegene wat gevoel het dat die kerk nie beweeg het soos sy kon beweeg het op 'n paar kwessies nie, was besluite soos dié oor Belhar en homoseksualiteit kompromieë. We copped out, sou hierdie siening wou sê. Vir diegene wat gevoel het dat die kerk ver genoeg beweeg het - of gepas en ordelik besluite geneem het, soos wat dit die kerk betaam - was besluite soos dié oor Belhar en homoseksualiteit konsensus-besluite. Cobus se punt was dat dit tegelykertyd albei was. 

En kairos? Het ons in die NG Kerk enigsins ruimte daarvoor om unieke oomblikke in tyd te onderskei waarin die kerk gedring word om belangrike (en ja, beleids)besluite te neem waaroor ons voel: hier staan ons, ons kan nie anders nie?

Ek is onseker. Uiteraard behoort 'n argument vir kairos nie 'n agteraf manier te wees om sekere standpunte oor sekere kwessies te probeer verkoop nie - kairos beteken nie noodwendig dat 'n sinode pro-Belhar en/of pro-homoseksualiteit moet wees nie. Uiteraard behoort 'n klein groepering in die kerk nie alleen, ten alle koste (al beteken dit ook kerkskeuring), hulle sin te kry en hulle wil af te dwing nie - ook nie in die naam van 'n kairos-oomblik nie. Uiteraard vra ook 'n kairos-oomblik - juis 'n kairos-oomblik! - van 'n kerk om met 'n fyn aanvoeling en onderskeidingsvermoë vir hulleself uit te maak waarop dit werklik neerkom; of, in kerklike taal, om die beweging en werk van die Drie-enige God in die wêreld en ja, ook in die kerk, te onderskei en daaraan mee te werk. Dit is immers wie ons as NG Kerk nou bely om te wees, met ons besluite oor missionale kerkwees by hierdie einste sinodesitting. So ja. Uiteraard. 

Kronos is belangrik. Kronos is konsensus en kompromieë, vergaderings en beleide, lang gesprekke en selfs meer aktiwiteite om gestalte te gee aan wat ons sê ons nou eintlik glo oor Belhar en homoseksualiteit en armoede en kerkhereniging en menswaardigheid en missionale kerkwees en die ekologie en aan en aan en aan. 

Maar kairos is ook belangrik. Kairos vra dat ons steeds na almal luister, steeds saam probeer onderskei oor wat die wil van die Here vir Sy kerk kan wees, steeds aan mekaar vashou te midde ons diepste verdelings en verskille. Kairos vra egter ook dat die kerk aan die toekoms dink - aan die soort kerk wat ons wil en kan en móét wees. 

Tussen kronos en kairos sal daar altyd spanning wees. Ook in die NG Kerk. 

Een verhaal van wat by die sinodesitting gebeur het illustreer dit vir my goed. 'n Ouer man het een oggend in die hysbak uit die bloute vir my gesê: die jeug het nie meer respek vir die kerk nie. Daarmee het ek uiteindelik aangehoor wat hy eintlik daarmee bedoel, naamlik dat jongmense moet stilbly en luister as die oumense praat in verhelderingsgesprekke en in die vergadering self. En veral, God forbid, dat jongmense die kerk of oumense (want in sy kop is dit dieselfde ding) sal kritiseer of sal uitdaag. Sy presiese woorde sou na die einde van ons baie intense debat ook wees: julle jongmense sal nie wees waar julle vandag is as dit nie vir die generaals (dis nou in Apartheid) was nie. Maar sy laaste woorde aan my sal my altyd bybly: julle jongmense moet nie altyd die laaste woord wil hê nie. 

Nou ja. Kronos en kairos. 'n Spanning - nie tussen jongmense en oumense, of tussen liberales en konserwatiewes, of tussen drukgroepe vir verskillende sake nie - maar tussen twee verstane van tyd. Russel Botman sou sê dat die belydenisskrifte primêr iets oor die toekoms - en juis nie alleenlik oor die verlede nie - verwoord: oor die tipe kerk wat ons wil wees. 

Enige NG Kerk toekoms - waarin jongmense (maar nie net jongmense nie - ook gay mense en swart mense en vroue) beide gesien én gehoor sal word (om Moedersnaam); waarin ons steeds met die grootste erns en behoudendheid sal dink oor moeilike kwessies soos Belhar en homoseksualiteit; waarin ons ons allerbeste sal probeer om die versoeking teen te werk om op 'n parlementêr-demokratiese manier besluite te neem (want kerkregtelik kan dit tocht zeker niet!) - sou beteken dat ons já sê vir tyd. 

Die lang tyd, kronos-tyd, wat dit neem om taakspanne aan te wys, om studiestukke op te stel, om dit om te skakel in aanbevelings vir 'n sinode om oor te besluit, vir 'n sinode om dit te bespreek en inderdaad daaroor te besluit, vir gemeentes en sinodes om dit te toets en prakties gestalte daaraan te gee. 

Maar ook die nie-noodwendig-korter-nie kairos-tyd waarin ons gekonfronteer word met die besef en die belydenis uit die 450-jarige Heidelbergse Kategismus wat ons daaraan herinner dat ons nié aan onsself behoort nie. Dié kairos-tyd waarin ons inderdaad ook gekonfronteer word met die besef en die belydenis uit die 31-jarige Belydenis van Belhar wat ons daaraan herinner dat die kérk nie aan ons behoort nie, maar dat Jesus die hoof is van Sy kerk.

Prof Nelus Niemandt, Moderator van die afgelope Algemene Sinode, skryf juis hieroor in 'n onlangse artikel (beskikbaar hier):

"Uiteindelik word ’n Algemene Sinode nie alleen beoordeel aan die hand van die gebeure by die vergadering nie. Die geskiedenis gaan uiteindelik eendag vanuit die toekoms vra of die sinode die geboorteplek van nuwe lewe in die kerk was."

Die tyd sal leer.

Tuesday, 8 October 2013

Hoe meer dae hoe meer vrae

Die NG Kerk se besluit oor Belhar vandag: “Die Belydenis van Belhar is deel van die belydenisgrondslag van die Kerk, op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.”

Dit is mos wat Piet Strauss en die anti-Belhar manne nog al die jare vra.

Nege jaar gelede het die NG Kerk in 2004 tydens Hartenbos se sinode besluit: “Omdat die Belharbelydenis 'n belydenisskrif van een van die Familiekerke is, stel ons voor dat dit as een van die belydenisskrifte in die herstelde kerkverband opgeneem word...... Dit impliseer nie dat alle gemeentes, predikante, kerkraadslede en lidmate van die nuwe verband dit vanselfsprekend as belydenisskrif hoef te onderskryf nie.”

Wat het verander en wat beteken dit?

Ek het nie probleme as daar ruimte geskep word nie maar het ‘n paar vrae: Hoe verskil vandag se #NGkerk besluit van nege jaar gelede s’n en is daar ook ruimte is vir lidmate wat Dort bely maar nie onderskryf nie?

Danie Mouton skryf op sy FB muuur: “ Dit is 'n vierde belydenisskrif. Maar as lidmate dit nie wil bely nie, is daar nie dwang nie.”  Waarop Kobus Victor wil weet: “Wat beteken art 2.2 nou eintlik? Hoekom hierdie dubbelslagtigheid ten opsigte van Belhar? Daar kan mos ook lidmate wees wat met die ander belydenisskrifte nie saamstem nie.

En hoe gaan dit uitspeel wanneer die NG Kerk en die VGK herenig? Gaan Belhar dan steeds “opsioneel” wees?

Iemand anders skryf op Facebook “hierdie besluit gooi die lidmate (en predikante, want hulle is ook lidmate) in twee kampe: Belharrers en anti-Belharrers. Maar, gaan die legitimasie-eed van die proponente nou dienooreenkomstig gewysig word sodat 'n proponent met sy legitimasie die keuse het om Belhar by sy eed in te sluit of nie. Hulle is ook mos lidmate. Ek reken natuurlik dat dit 'n tipiese kompromie-besluit is wat hoogs onbevredigend is. Belhar moet deel word van die belydenisgrondslag en klaar.”

Nog 'n gespreksgenoot meen: Die verskil tussen die besluit van 9 jaar gelede en die huidige besluit is myns insiens dat die huidige besluit 'n ietsie nader aan die anti-Belhar groep kom. Die besluit van destyds het gesê hulle hoef dit nie "vanselfsprekend as belydenisskrif te onderskryf nie". Maw daar kan nog gepraat of onderhandel word daaroor of hulle dit moet onderskryf... dit is nie vanselfsprekend nie. Die huidige besluit sê reguit hulle hoef dit nie te onderskryf nie... daar hoef dus nie meer daaroor onderhandel te word nie.

En laastens: Gaan dieselfde ruimte geskep word vir diegene wat ʼn verbintenis tussen mense van dieselfde geslag aanvaar en diegene wat dit nie aanvaar nie? En gaan die ouens wat so gekant is teen die besluit dat daar ruimte is vir mense wat nie die duiwel as persoonlike wese aanvaar nie, nou vir hulle daardie ruimte gun?


Hoe meer dae hoe meer vrae.

Poëtiese insigte

ek's 'n dapper muis
kyk hoe stap ek deur die huis
en daar's niks waarvoor ek skrik nie.
vir niémand is ek bang
daar is niks wat my kan vang
ja, daar's niks waarvoor ek skrik nie

en sê nou... daar's 'n... kat?

oeeeeee... 'n kat?!

nou jaaaaa...

Sunday, 6 October 2013

voorstel vir 'n homoseksualiteit besluit

Ek het vir lank myself weerhou daarvan om deel te neem aan die debat oor die Algemene Sinode se komende gesprek oor homoseksualiteit. Ek skryf hierdie ook maar versigtig, maar ek skryf omdat ek hoop dat die gesprek op die sinodevloer anders gaan loop as die gesprekke wat ek op facebook gesien het. Dit behoort.

Eerstens moet ek dalk sê wat ek in die debatte gehoor het (en wat ek gehoor het reflekteer natuurlik na wie ek geluister het, ek weet daar is 'n ander stem in die kerk, maar ek kom minder in daai kringe). Ek hoor twee baie negatiewe standpunte:
Die mees algemene is dat die kerk nou dadelik 'n besluit moet neem, en nie weer 'n kommissie moet aanwys nie. Ralph Barnard, wat 'n bekende stem in hierdie debat is, stel dit so:
"Hoop dat die komende NGK Sinode nie dwaas sal wees om "verder te studeer" oor die gaysaak nie. Wat nou nodig is, is volledige aanvaarding of totale afwysing van homoseksuele verhoudings. Grys areas bestaan nie hieroor nie."
Daar is skynbaar nogals 'n paar mense wat met hom saamstem.

Die ander ding wat ek hoor is 'n uiters negatiewe reaksie omdat die Algemene Sinode nie "gesprek" of "bespreking" wil toelaat nie. Die eerste plek waar ek die idee teëgekom het is in die aanhaling van Nadia in Jean se artikel in Rapport.

Kom ek begin by die laaste punt. Daar gaan gesprek wees by die sinode. Daar was gesprekke nadat die brief en voorstel ontvang is (ja, die gesprekke is dalk 'n kommissie genoem, maar ek ken amper al daai individue en ek weet hulle het actually met mekaar gepraat), daar is 'n verhelderende gesprek geskeduleer hieroor by die sinodesitting (soos met alle ander "groot" onderwerpe op die agenda), en die sessie waarin die voorstelle gaan dien lyk vir my redelik oop, soos wat gemaak word wanneer daar 'n lang gesprek verwag word. Natuurlik kan enige voorstel sonder gesprek deurgestem word, maar die mense wat die program bepaal het se raaiskoot is lyk my dat daar baie gesprek oor hierdie onderwerp gaan wees.

Die eerste punt van kritiek is dat daar 'n besluit geneem moet word. Soos met alle sulke versoeke aan enige vergadering gaan dit selde eenvoudig daaroor dat daar sommer enige besluit geneem moet word. Sulke versoeke beteken eintlik daar moet 'n spesifieke besluit geneem word. Op party plekke is die uitroep duidelik dat die besluit wat geneem moet word gevind word in die gewysigde voorstel (p25 van die PDF wat deur 26 lidmate (meeste van hulle teoloë) deur die moderamen van Wes-en Suid-Kaapland aangestuur word.

Op ander plekke is ek nie seker nie. Die beskrywingspunt vra immers nie dat die Algemene Sinode nou finaal klaarpraat nie. Die versoek is dat sekere stappe geneem word (verwysings na 'n selibaat lewe vir predikante weggeneem word en erkenning gegee word aan 'n permanente verhouding van 'n unieke aard), maar vra self dat daar nog verder gepraat word na hierdie sinode:
"gee opdrag aan die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake om ondersoek te doen hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen"
Iewers is daar dus skynbaar 'n derde voorstel wat sê: "ons het nou klaar gepraat, dit is wat die NG Kerk sê, en dis nie nodig dat daar weer hieraan aandag gegee word nie". Niemand het egter daai voorstel ingestuur nie. Dalk kom dit van die vloer af.

In die gesprek wat plaasgevind het tussen die ontvang van die beskrywingspunt en die moderamen se alternatiewe voorstel, is daar nog 'n paar goed geflag wat nie in die beskrywingspunt van lidmate van Wes-en Suid-Kaapland genoem word nie. Hierdie beskrywingspunt erken dat daar gedink moet word oor "hoe so 'n verhouding aan Christelik-etiese verwagtinge kan voldoen", maar die gesprek na hierdie beskrywingspunt maak dit duidelik dat daar nog goed is waaroor gedink moet word: hoe dink ons oor kinders wat deur homoseksuele pare grootgemaak word en spesifiek oor hulle doop en pastorale begeleiding? Om hieroor te dink aanvaar egter dat daar permanente homoseksuele verhoudings is waarbinne kinders grootgemaak word.

Daar is ook 'n groter gesprek: die gesprek wat kerke reg oor die wêreld voer, en die moderamen se voorstel is dat die NG Kerk nie alleen nie, maar saam met ander hieroor moet praat.

Die dag wat ons 2007 se besluit geneem het, het baie van ons besef dat die implikasies is dat ons gemeentes en kerkrade nou gelos word om self te besluit of hulle ruimte maak vir homoseksuele verhoudings. Ons het natuurlik ook besef gemeentes en kerkrade kan die teenoorgestelde doen, en een van die gemeentes in die ring waar ek was het die geleentheid aangegryp om te verklaar dat aangesien die Algemene Sinode nou gesê het gemeentes moet besluit, besluit hulle "nee".

Alhoewel 2007 op papier gesê het "nee" vir verhoudings, dink ek punt 8 se implikasie was dat ons eintlik maar die deur oopgemaak het dat gemeentes uit die kas uit kan kom (excuse the pun) en openlik erken dat hulle hulle gay lidmate in permanente verhoudings ondersteun, ook op die kerkraad verkies, en dat hulle dit doen omdat die kerkraad hulle diskresie gebruik het om die verskille oor homoseksualiteit in liefde te hanteer. Ons het dit ook gedoen deur predikante uit te sonder vir 'n selibaat lewe, en met die stilte eintlik te erken dat ouderlinge en diakens en lidmate in permanente verhoudings kan wees. Ja, dit was 'n kompromie, dit was dubbelsinnig, daar skemer 'n groot stuk ongemak deur, maar tussen al die interne spanninge deur het ons dinge so bietjie oopgemaak.

Ek dink die twee voorstelle wat voor die sinode dien erken beide dat daar reeds baie homoseksuele lidmate in permanente verhoudings in ons gemeentes is. Ek dink ook die twee voorstelle erken beide dat die kerk ernstig moet praat oor die implikasies hiervan, oor hoe hierdie verhoudings binne die Christelike tradisie sal lyk, wat ons met vrae oor die doop moet maak (weereens gaan dit nie so erg oor toestemming nie, daar is al 'n paar sulke dope in die kerk gewees) en wat dit beteken vir pastorale begeleiding.

Ek dink ons gaan mekaar help as die Algemene Sinode erken dat daar eintlik 'n groeiende konsensus bestaan dat "daar 'n permanente verhouding met 'n eie unieke aard tussen twee mense van dieselfde geslag kan bestaan". Ek sê dit omdat dit is wat ek dink in gemeentes leef, voor enige verslae. Kom ons erken bloot net wat reeds daar is. Aan die ander kant dink ek ons sal mekaar help as ons ophou met hierdie "alles of niks" benadering, en dat ons nog vir lank gaan praat oor wat die implikasies is vir ons pastoraat, jeugbediening en wat nog als. As ons dit erken beteken dit immers nie dat ons presies weet wat dit beteken nie. Ek dink ons kan oopmaak, en steeds ruimte maak vir aanhou praat. 

So waarom vervang ons nie 1.5.2.1 van die moderamen se voorstel met punt 2 van die beskrywingspunt uit Wes-en Suid-Kaapland nie? Ons erken permanente verhoudings van 'n unieke aard, kan selfs verder dink oor wat hierdie unieke aard is, en besef dat ons nou moet ernstig praat oor wat hierdie realiteit in ons gemeentes beteken.


Dan sal ek hoop dat die kerk 'n baie bewustelike proses moet begin om met homoseksuele lidmate in gesprek te gaan, en saam met hulle te dink oor wat in die kerk moet gebeur, en nie oor hulle nie. Omdat ek amper almal op daai ad hoc kommissie ken waarna verwys is hierbo, weet ek ook dat dit 'n kommissie van heteroseksuele persone was, en daar is tog geen manier waarop ons so kan voortgaan nie. Een ding wat ons dan saam met homoseksuele lidmate moet bedink is wat hierdie permanente verhouding van 'n unieke aard beteken.

Op 'n totaal ander manier kan ons dalk oorweeg om die VGKSA se 2012 besluit te onderskryf. Ek dink hulle het 'n baie beter besluit op die tafel gesit as die NG Kerk.

Hier gaan ek stop. En ek besef deur hier te stop antwoord ek nie die eintlike wit olifant nie: homoseksuele predikante in permanente verhoudings. Dalk moet ons net erken dat punt 7 nie werk nie (ek het 'n vermoede daar is ook 'n redelike konsensus dat hierdie tipe inkonsekwentheid ons nie help nie), en dat die Algemene Sinode ATLAS versoek om riglyne vir die legitimasie van homoseksuele predikante daar te stel. Ek sê dit omdat ek vermoed dat hierdie die punt is waarop ons nog gaan sukkel om mekaar te vind. Maar dalk kan die Algemene Sinode ons egter weer verras met 'n manier waarop ons regkry om mekaar te vind.

Ek dink en gesels graag verder saam.

Saturday, 5 October 2013

Wat gaan dit wees?

Die week begin die #NGKerk se Algeme Sinode in Port Elizabeth se Veremarksaal. Ek was daar toe PW sy Rubicon toespraak in Durban se stadsaal gemaak het. Ek was ook  daar toe FW sy 2 Februarie toespraak in die parlement gemaak het. Albei geleenthede het 'n blywende impak op die land gehad.

Die is min of meer die NG Kerk se laaste kans om te kies. Wat gaan dit wees?

Ek sou 'n hele blog daaroor kon skryf maar Nadia het vir my gesê kort of lank maak nie saak nie. Soms is kort beter as lank. Ons kerk staan voor 'n kruispad. Wat gaan die keuse wees? Kom ons wag en kyk. 

Wat bely ons werklik?

Wanneer ons op ‘n Sondag eenstemmig bely ‘Ek glo in ‘n algemene Christelike Kerk, die gemeenskap van die heiliges’ waarop word ons oortuigings basseer?  Die geloofsbeleidenis speel ‘n sentrale rol in die identiteitsvorming van die Christelike gemeenskap. In die eerste instansie word geloof bevestig deur kern momente in die geloofsgeskiedenis te bevestig. In die die tweede instansie word ‘n universiële identiteit geskep waarin Christene hulself kan situeer. Wat gebeur egter wanneer die identiteit wat bevestig word verwrong word deur onbevoegde normatiewe raamwerke?  Serene Jones, ‘n professor by Union Theological Seminary, dink na oor hoe eienskappe toe ge-eien word aan individue. Sy meen dat individue word of deur middel van eienskappe wat as essentieel beskou word gekarakteriseer of deur middel van hul rol in die samelewing. Indien hierdie twee perspektiewe in gesprek gebring word met die kwessie rondom homoseksualiteit word die belydenis streng uitgedaag. Aan die een kant beteken dit dat die gemeenskap van die heiliges uitsluitlik deur ‘n heteronormatiewe raamwerk funksioneer en aan die ander kant dat die Christelike identiteit geskoei is op die demografie van die kerk. Altwee hierdie perspektiewe bekommer Serene Jones want identiteit gebasseer op ‘n suiwer normatiewe raamwerk kan eksklusief wees terwyl ‘n identiteit gebasseer op sosialisering kan lei tot ‘n te kort aan konkrete raamwerke. Serene Jones offer ‘n middeweg, ‘n identiteit geskep deur omvattende normatiewe raamwerke sowel as sosialisering. Die geloofsbelydenis wat elke Sondag bely word het die potentiaal om altwee hierdie rolle te vervul. Dit verg egter dat die Christelike gemeenskap erkenning sou moes gee aan ‘n normatiewe raamwerk gebasseer op ‘n identiteit gefundeer in Christus. Verlosser, opgestane en aan die regterhand van God. Aan die ander kant sou die geloofsgemeenskap uit hul sosialiserings norme moes beweeg om ‘n gemeenskap te skep wat gekarakteriseer word deur die demografie van die lidmate.  In die lig van die homoseksualiteits kwessie so wel as die perspektiewe van Serene Jones is wat die kerk bely verwronge. ‘n Christelike identiteit gebasseer op ‘n heteronormatiewe raamwerk funksioneer as ‘n uitsluitlike identiteit. Hierby vorm die sosialisering van die gemeenskap van die gelowiges as ‘n onrealistiese ideal wat onligetieme kriteria gebruik om te besluit ‘wat mag in’ en ‘wat mag nie in nie.’  Die Christelike gemeenskap word dus met ‘n uitdaging gekonfronteer, is ons Christelike idenititeit geldig indien dit gebasseer is op onlegitieme raamwerke of moet individue met ‘n alternatiewe seksuele orientasie (in die amp of kerkstoel) gesien word as integraal, selfs onlosmaakbaar, van die ware Christelike gemeenskap van heiliges?